Die Lig het gekom

Look for Christ and you will find Him. And with Him, everything else. – C.S.Lewis

 

Die Lig het gekom

Die volk wat in donkerte geleef het, het die groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘’n lig geskyn … Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring (Jesaja 9:1, 5 – 7).

Een van die eerste indikasies dat Kersfees nader kom, is die verskyning van ligte – op bome, in vensters, ens. Maar hierdie liggies is nie net dekoratief nie, maar ook simbolies.

 

Die donkerte van die wêreld

Ons moet besef dat die wêreld ‘n donker plek is en dat ons nooit ons pad sal kry of die werklikheid kan sien tensy Jesus ons lig is nie. Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe. Hy was in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie (Johannes 1:9 – 10). Hoe is die wêreld donker? Donkerte verwys beide na die bose en na onkunde. Die wêreld was en is vol boosheid – geweld, ongeregtigheid, magsmisbruik, vlugtelinge, families uitmekaargeruk, haweloosheid …  Niemand weet hoe om hierdie donkerte – boosheid en lyding – te genees nie.

Hoekom was hierdie lig nodig? In die tyd van Jesaja, soos tans ook die geval is, kyk mense

na hulle kundiges, die mark en tegnologie vir die antwoorde – ons is in die donkerte, maar ons glo dat ons self daar kan uitkom. Ons aanvaar dinge is donker, maar met ons intellek en innovering kan ons dinge regstel.

 

Die werklikheid van Kersfees

Die boodskap van Kersfees is nie dat ons ‘n wêreld van eenheid en vrede  bymekaar kan sit nie. Dit is presies die teenoorgestelde – ons kan onsself nie red nie. Geen politieke stelsel of ideologie kan dit doen dit nie. As ons net na die wêreld en menslike hulpbronne kyk, is die wêreld inderdaad donker. Die Bybel sê nooit dat ons onverskillig teenoor die magte van die donkerte moet wees nie – ons moet hierdie magte weerstaan. Die Bybel maak dit egter baie duidelik dat ons dit nooit in ons eie krag kan doen nie. Christene sê nooit dat ons alle probleme kan oplos as ons net hard genoeg probeer nie. Christene sê wel dat dinge donker is, maar dat daar hoop is. Jesaja sê dat hierdie lig nie uit die wêreld maar oor die wêreld gekom het – dit het van buite gekom.