Die Linnegordel

Die Linnegordel

In Jeremia Hoofstuk 13 lees ons van die linnegordel as beeld van Juda. Hierdie linnegordel waarvan hier gepraat word, reik tot by die knieë, maar pas styf om die heupe. Jeremia kry opdrag om die gordel te koop en styf om sy lyf vas te maak.

Hy doen wat God beveel. Hy kry weer ‘n opdrag van God: gaan steek die gordel in ‘n klipskeur by die Eufraat weg. Na ‘n lang ruk beveel God hom: gaan haal die gordel. Jeremia grawe die gordel uit: Maar die gordel het begin vergaan en was nutteloos.

Jeremia se simboliese optrede het ‘n dubbele boodskap:

  1. Die sonde van hooghartigheid. Die Here haat trots. Arrogansie, ‘n oordrewe siening van jouself, maak dat ander jou verafsku. Dit lei ook tot die sondes genoem in vs 10: Hierdie slegte volk wat weier om na my woord te luister, wat hulle eie harde koppe volg en agter ander gode aanloop en hulle dien en vereer.
  2. Soos die gordel om die heupe moes Israel naby aan God wees. Soos die gordel styf teen die lyf was en nooit losgemaak is nie – dit is altyd deel van hom – so het God al die mense van Israel en Juda aan My vasgemaak. Hulle, die mense, wou nie – hulle het nie geluister nie. Nou gaan God hulle afhaal – iets ongehoords – en hulle soos ‘n gordel onder ‘n klip wegsteek om te vergaan.

Wat leer ons uit hierdie gedeelte?

  • Die gordel is net bruikbaar wanneer:
    • Dit gerek is – gelowiges moet gerek en uitgedaag word.
    • Dit vasgemaak is – gelowiges kry hulle identiteit by God.
    • Dit solied is – gelowiges moet stabiele waardes hê.
  • Die gordel word onbruikbaar wanneer.
    • Dit vuil is – gelowiges kan nie met sonde saamleef nie.
    • Dit los is – gelowiges kan nie op hulle eie (sonder God) leef nie.
    • Dit gekrimp het – gelowiges is nie bruikbaar as hulle klein dink nie.

Die linnegordel – as beeld van Juda – is ook ‘n beeld van alle gelowiges. Is ek en jy bruikbare of onbruikbare gordels?