Die lyding van Jesus Christus

. —J.I. Packer

Die lyding van Jesus Christus

Jesus het tydens sy aardse bestaan die alledaagse druk, probleme, pyn ervaar. So lees ons dat Jesus moeg van die reis was en gaan sit het (Johannes 4:6); by Lasarus se dood huil Hy (Johannes 11:35). Ons lees ook dat Hy diep ontsteld was (Johannes 12:27). Gedurende sy aardse lewe het Hy aan God, wat Hom uit die dood kon red, gebede en smekinge geoffer met harde geroep en met trane (Hebreërs 5:7). Hy is ook deur sy beste vriende verlaat en deur sy familie verwerp. Hy is deur Satan self versoek. Dan lees ons hierdie verbasende vers: Hoewel Hy die Seun was, het Hy deur alles wat Hy gely het, geleer wat gehoorsaamheid is (Hebreërs 5:8). Jesus Christus ken lyding, nie net omdat Hy alwetend is nie, maar omdat Hy dit persoonlik ondervind het.

 

Dan praat ons nie eers van sy lyding aan die kruis nie, waar Hy uitroep: My God, my God, waarom het U My verlaat (Matteus 27:46). Maar dit was nie die einde van sy lyding nie. In Handelinge 9 lees ons van Saulus wat op pad na Damaskus is.  Langs die pad ontmoet hy vir Jesus Christus. Toe Paulus wil weet wie dit is, antwoord Jesus hom: Ek is Jesus … Dit is vir My wat jy vervolg. Hy identifiseer so met sy mense dat Hy hulle lyding deel.

Maar Jesus se lyding het ons verlossing bewerkstellig. Daarom kon Hy aan die kruis sê: Dit is volbring! (Johannes 19:30). Soos Jesus uit sy lyding geleer het, moet ons ook uit ons lyding leer en groei om meer en meer soos Jesus te word – ons moet ons lyding in geloof en geduld aanvaar. Paulus sê: Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe  is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly (2 Korintiërs 4:16 – 17.

Ons moet oppas vir veral twee foute:

  • Om te glo dat God geen emosie kan ondervind nie – God ken lyding deur ondervinding. Hy is die lydende God.
  • Om God se lyding so te beklemtoon dat ons skoon van sy soewereiniteit vergeet.

God ly en Hy is soewerein. Ons moet beide aanvaar as ons sê dat lyding betekenis het. As God nie in beheer van die geskiedenis is nie, is lyding nie deel van sy plan nie en is dit sinloos. As God nie gely het nie, hoe kan ons Hom vertrou. God se lyding was vrywillig en is volledig deur sy liefde gemotiveer.