Die man en die vrou se rol in die huwelik – Hermie van Zyl

Brenda vra:
Ek weet daar staan die vrou moet onderdanig wees aan die man, maar kan jy dalk vir my sê wat die man as die hoof van die huis se werk is? Iets soos: Hy sal haar liefhê, na haar kyk, haar versorg, hy sal daar wees as sy hom nodig het?

Antwoord:
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Brenda, eintlik vat jy die rol van die man as hoof in die huwelik in jou sê-vra opmerking goed en kernagtig saam. Maar kom ek pak die saak bietjie breër aan. In die huwelik gaan dit immers nie net oor die man se rol en verantwoordelikhede nie, maar oor beide man en vrou s’n, anders kan die huwelik nie werk nie.

Die rol van man en vrou in die huwelik kan nie altyd so maklik aan die hand van enkele Bybelverse direk afgelees en vir vandag toegepas word nie. Want, eerstens, gewoonlik haal mense net dié verse, of gedeeltes van verse, aan wat hulle pas. So sal ‘n man maklik sê: Daar staan in die Bybel (Ef 5:22) die vrou moet aan die man onderdanig wees, want hy is die hoof van die vrou. Maar gerieflikheidshalwe word die res van die hoofstuk weggelaat waar verduidelik word hóé die man se hoofskap van sy vrou nou eintlik lyk. Tweedens, die historiese agtergrond waarteen baie uitsprake in die Bybel oor die verhouding tussen man en vrou gemaak word, is in die algemeen dié van die antieke midde-Ooste. En ons weet dat dit ‘n mangesentreerde samelewing was. In die antieke tyd het ons ‘n patriargale samelewing gehad waar daar nie veel beweegruimte vir die vrou was nie. Haar hele lewe het gedraai om die man as die enigste een wat werklik regte, mag en gesag gehad het. Die bietjie regte wat vroue geniet het, het hulle gehad by die grasie van die man. En binne die Joodse gemeenskap was dit verder die opvatting dat die vrou kragtens die sondeval (kyk Gen 3:16) ‘n permanente ondergeskikte posisie ten aansien van die man het. Ons moet dus nie van die Bybelskrywers verwag dat hulle ewe skielik sou ontpop as tipiese 21ste eeuse kampvegters vir vroueregte nie.

Tog het die evangelie van Christus hulle anders na menseverhoudings laat kyk. Daarom dat Paulus in Gal 3:28 sê dat daar in die oë van God geen onderskeid is tussen Jood en Griek, vryman en slaaf, en man en vrou nie; in Christus is hulle één. Dat man en vrou gelyk is in die oë van God, dat die man geen voorrang bo die vrou geniet nie, was in terme van die algemene opvattings van daardie tyd niks minder nie as ‘n rewolusionêre uitspraak.

En dit is vanuit hierdie inklusiewe denke van Paulus dat ons nou meer spesifiek na sy uitsprake in Ef 5:21-33 oor die rol van man en vrou in die huwelik kan kyk. Vir daardie tyd se mangesentreerde samelewing het Paulus nogal radikale uitsprake oor die huwelik gemaak, wat terselfdertyd rigtinggewend is vir ons vandag. Ja, Paulus gebruik in 5:22 die bekende terminologie van sy tyd (vrouens, wees onderdanig aan julle mans), maar dít is nie die eintlike punt wat hy wil maak nie. Die hele trant van sy betoog in Ef 5:21-33 lê ingebed in 5:21: “Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig.” Die vrou én die man kry die opdrag om onderdanig te wees. Dít moes vir die destydse man ‘n nuwe konsep gewees het. En om dit verder in te vryf, sê Paulus vervolgens dat mans hulle vrouens moet liefhê (v25). Pligte, ja, maar liefhê? Nog ‘n nuutjie. En boonop liefhê soos hulle hul eie liggame liefhet en versorg, én soos Christus sy gemeente liefgehad het deur sy lewe vir hulle op te offer. Dit alles moes vir daardie tyd se mans na radikale uitsprake geklink het, omdat die verhouding tussen man en vrou nie juis in terme van liefde verstaan is nie (dis ‘n moderne konsep), maar in terme van respek en eerbied (vrou teenoor man) en pligte (man teenoor vrou). Maar nou bind Paulus man en vrou in liefde aan mekaar, en hierdie liefde word gedefinieer vanuit Christus se allesopofferende liefde vir die kerk en hoe die man normaalweg sy eie liggaam versorg.

Kom ons sê dit in die woorde van Gen 2:18: Man en vrou is metgeselle van mekaar; hulle vul mekaar aan omdat hulle mekaar se gelykes is. Daarom dat in Ef 5:25-30 die man se hoofskap geherdefinieer word: Goed, as jy dan hoof (l w: nie “baas” nie) van jou vrou wil wees, moet jy die volgende doen: wees haar “verlosser” (m a w, bevry haar van sleur, maak vir haar die lewe so aangenaam moontlik); wees lief vir jou vrou soos Christus die gemeente liefhet en sy lewe vir haar opgeoffer het; wy jou aan haar en dra haar belange op die hart; versorg haar soos jy jou eie liggaam versorg. Hoofskap het dus niks te make met baasspelerigheid nie, maar alles met diensbaarheid.

Vir die vrou word daar eintlik nie veel gesê nie, behalwe dat sy aan haar man “onderdanig” moet wees (soos die man aan haar “onderdanig” is – 5:21) en hom moet respekteer. Nou, sou ek wou byvoeg, watter vrou sal nie aan haar man “onderdanig” wil wees as sy so deur haar man op die hande gedra word nie? Maar dit gaan eintlik oor ‘n wedersydse onderdanigheid, maats wees vir mekaar, ondersteunend dáár wees vir mekaar.

Dít is die liefdesorde wat God vir die huwelik daarstel. En binne hierdie orde kan man en vrou die verdeling van rolle, pligte en verantwoordelikhede orden soos dit hulle die beste pas. Hoe man en vrou hulle onderskeie rolle vervul, het baie te make met die tyd en die soort sosiale opset waarbinne hulle leef, hulle persoonlikhede en opleiding, watter geleenthede beskikbaar is, ens.

Punt is: Paulus herinterpreteer die hoofskap van die man radikaal. Nie baasspeel en gewig rondgooi nie, maar dien en versorg.

Verder, ek glo dat hierdie uitsprake in Ef 5 wat primêr op die huwelik gemik is, ook as metafoor kan dien vir die vennootskaplike verhouding tussen man en vrou in die breër samelewing. Uiteraard verskil man en vrou, so is ons immers deur God gemaak. En dit moet ook ten volle eerbiedig word. Daar mag dus bepaalde rolverdelings wees wat pas by die eie aard van die man en die vrou. Maar dat die man in ‘n permanente heersersrol oor die vrou geplaas is, is nié die boodskap van die Bybel nie. Dis nie wat hoofskap beteken nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl