Die misleier en die misleide

Do not praise the rich man who has no money to offer the poor, for he is poorer.” ~ Joodse Spreekwoord

 Die misleier en die misleide

In Matteus 7:15 – 23 lees ons van iemand wat ander mislei en van mense wat mislei word.

Die misleier

Jesus beskryf hulle hier as vals profete en waarsku sy dissipels teen hulle: Pas op vir die vals profete. Vals profete staan tussen God en sy mense. Hulle sê dat hulle namens God praat, maar hulle is nie deur God aangestel nie. Hulle volg ook nie vir Jesus Christus nie. Hulle lyk op die oog af soos God se mense, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Hoe herken ek hulle? Aan die vrugte wat hulle dra. Jesus gebruik hier twee illustrasies om te verduidelik wat Hy daarmee bedoel: Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels? Elke goeie boom dra tog goeie vrugte. Die vrugte is die bepalende faktor. Die goeie boom word versorg, maar die slegte boom word uitgekap en in die vuur gegooi – ‘n beeld wat algemeen vir die finale oordeel gebruik word.

 

Maar wat beteken vrugte in hierdie geval? Die doen van God se wil. As iemand daarop aanspraak maak dat hy namens God praat, moet ek na sy lewe kyk. As hy nie God se wil doen nie, is hy ‘n vals profeet.

Wat moet Jesus se volgelinge met vals profete doen? In hierdie gedeelte sê Jesus niks daarvan nie. Jesus se volgelinge moet na die vrugte kyk en as dit nie goeie vrugte is nie, draai weg van hulle.

 

Dié wat mislei word

Hierdie vals profete mislei hulleself omdat hulle dink dat hulle burgers van God se koninkryk is. Hulle verwys dan ook na hulle prediking, uitdrywing van geeste en wonders wat hulle gedoen het. Jesus sê egter dat hulle hulleself mislei, want hulle doen nie God se wil nie. Ware volgelinge van Jesus volg Hom en doen wat Hy hulle geleer het. Ons is nogal beïndruk dat hulle wonders gedoen het. Ons moet onthou dat die farao se towenaars ook sekere kunsies gedoen het (Eksodus 7 – 8). Wat opvallend is, is dat hulle drie maal sê in/deur u Naam.

 Tog sê die Here vir hulle: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree. Wat God verwag is dade van liefde, deernis en barmhartigheid – nie groot charismatiese magsvertonings nie.

 ‘n Vals profeet mag ‘n begaafde leier wees, maar  hy doen nie die wil van die Here nie. Hy doen ook nie die gewone dinge van die lewe nie – gee ‘n beker water vir iemand wat dors is, gee kos aan iemand  wat honger is.