1

Die nietigheid van ‘n afgod teenoor die Here (44:6-23) – Francois Malan

44:6-8 Die Losser se getuies

44:6 Hier is die Here weer aan die woord in die regsgeding met die afgode, en wys Hy sy getuies aan. Hy is die Here (Jahweh), die koning van Israel – hy was dit nog altyd, al het die volk in Samuel se tyd ‘n koning begeer (vgl. Natanael se belydenis in Jn 1:49) – en jou, Israel se, Losser (ga’al), die Here van die leërskare (seba’oot; 1983-vertaling: die Almagtige) – die persoonlike Bevelvoerder oor die hemelse leërs en ook oor Kores se  leërs – Ek is die eerste en die laaste (as Skepper van die heelal en van Israel, en die voleinder, heerser en regter oor alles) – en buiten My is daar geen god nie (die afgode bestaan nie werklik nie!). En hierdie Almagtige, wat die tyd en die ganse geskiedenis beheer, neem sy swakke familielid se saak op in die wêreldhof (vgl. 43:3-5). Hulle behoort aan Hom en aan niemand anders nie.

44:7 Wie is soos Ek? Laat Hom praat! En dit aankondig/bekendmaak!  En My konfronteer (hom teenoor My stel)! Wie het soos Ek ‘n volk van ouds af aangestel, en die toekomstige dinge (bepaal)? En wat sal gebeur? Laat hulle dit aan ons bekendmaak!  Die Hebreeuse woordolam word gebruik vir dinge wat lank gelede en vér in die toekoms kan gebeur of voortduur, en ook vir die ewigheid. Hier waarskynlik met verwysing na die Here se roeping van Abraham (Gen 12:1-3), 1,200 jaar voor Kores se optrede. Die Here se verklaring van dinge wat gebeur het, besig is om te gebeur, en nog sal gebeur, is unieke getuienis van sy godheid, net Hy kan dit lank voor die tyd voorspel, en nie een van die afgode of hulle aanbidders wat hier uitgedaag word, kan so iets doen nie.

44:8  ‘Moenie skrik nie, moenie vrees nie’ word  herhaal uit 41:10,13,14; 43:1,5; 44:2. In geloofsvertroue op die Here kan hulle die toekoms en die dag van hulle bevryding tegemoet gaan. Dit het die Here lank tevore voorspel (vgl. bv. die voorspelling van hulle bevryding uit Egipte in Gen 15:13-14) en deur die jare deur sy profete bekendgemaak (vgl. bv. Hosea 14:1,8,9). Vrees en getuie-wees word hier teenoor mekaar gestel, omdat die openlike getuienis vir die Here in Babel se vyandige ideologie ‘n gevaarlike waagstuk is. Die boodskap van die Here kritiseer en daag eintlik Babilon se ideologie uit, hulle idees oor die sosiale lewe met slawe en base, ekonomiese lewe met rykes en armes, politieke onderdrukking van gevangenes, militere mag waarop hulle staatmaak en hulle godsdienstige aanbidding van nikswerd afgode.

Israel se getuienis is dat daar geen God buiten die Here is nie, en Hy is hulle rots op wie hulle vertrou en hulle lewe bou (Ps 18:3,47; 19:15; ens.). Die Here is die absolute sekerheid vir dié wat om Hom vertrou. Die Here sê Hy weet van geen ander God op wie ‘n mens kan vertrou nie.

44:9-20 Nietigheid van die afgode en hulle getuies

Hierdie lang voorstelling oor die afgode het min soortgelyke lyste in die Ou Testament behalwe in Ps 115:4-8 en Jer 10:1-6. Terwyl Jesaja deurgaans probeer om Israel te oortuig van die Here se betroubaarheid  word hier die teenoorgestelde strategie gebruik deur die aansprake en mag van die Babiloniese afgode summier af te wys.

44:9 Die hoof uitspraak van die hof begin met die verklaring dat almal wat ‘n afgodsbeeld vorm/maak, self niks is nie (tohu – chaos, vgl. Gen 1:2 onbewoonbaar), die beliggaming van wanorde en beoefenaars van wanorde; en hulle lieflinge (die afgode) baat niks (daarby nie). So word die heidene en hulle gode ten nouste aan mekaar verbind. Die afgode se getuies voor die hof kan nie hulle eie dwaasheid om afgode te dien sien of insien nie en sal hulle in die skande dompel.

44:10-11 Die skande word hier verder uitgewerk met ‘n retoriese vraag oor wie  vorm ‘n god of  giet ‘n beeld wat tog niks baat nie?  Dit staan teenoor die Here wat Israel gemaak en gevorm het (44:2). Maar hier word ‘n god deur ‘n mens gemaak en gevorm! Die beeldhouers word opgeroep en in vers 11 veroordeel. Al die aanhangers van die afgod word in die skande gesteek, want hulle is net mense wat nie lewe in hulle beeld kan inblaas nie. Al kom hulle almal bymekaar om mekaar te help en hulle mag te vertoon (41:6), wanneer die Here die dag sy volk bevry deur Kores sal hulle almal verskrik en in skande gesteek wees oor die magteloosheid van hulle handewerk.

44:12-14 Die skrywer beskryf in besonderhede die produksie van beelde wat geen krag of gesag kan uitoefen nie. Baie kundige vakmanne is nodig om ‘n god te maak. Die smid werk so hard dat hy flou word as hy nie eet of drink nie. Die skrynwerker maak ‘n beeld wat lyk soos ‘n mooi mens wat in ‘n huis woon en sit hom dan in ‘n tempel! Eintlik begin hy eers deur ‘n boom te plant en as hy eendag groot is af te kap. Dit vereis beplanning en ‘n lang tyd om ‘n god te maak.  En as die gehoor begin lag vir die dwaashede, voeg die digter nog ‘n groter dwaasheid in die volgende verse daarby:

44:15-17 Die hout word eers gebruik vir warmmaak, dan vir kosmaak, en wat oorbly word gebruik om ‘n god mee te maak om voor te buig en vir die stukkie hout wat oorgebly het vir sy kunstige handewerk vra hy: Red my, want jy is my god – wat ek geplant het, afgekap het en met my hande bewerk het! Hoe blind kan so ‘n timmerman nie wees nie!

44:18-20 Die beeldedienaars verstaan nie wat hulle doen nie en het nie insig nie. As hulle nie heeltemal blind en verdwaas was nie, moes hulle tog die dwaasheid van hulle werk en hulle bygeloof ingesien het. Maar hulle verstand wat verward en leeg is (44:9) mislei hulle, hulle kan hulleself nie red nie, want die afgod lewer nie wat hulle glo dat hy beloof nie.

As Israel die dwaasheid van die produksie en verwagting van ‘n afgod gaan insien, behoort hulle te begin sien en dink en weet en vertrou en optree as dienaars van die lewende Here wat vir hulle gemaak het en besig is om hulle te vorm.

Israel se God is anders as die sinlose gode van die ander nasies. Hy is nie deur sy vereerders gemaak nie, Hy het sy volk gemaak as sy dienaar met ‘n besondere verhouding tot Hom en met ‘n besondere roeping om te vervul. Hulle is nie in ballingskap omdat hulle God magteloos is nie, maar omdat Hy vrymagtig is. Hy is nie, soos die ander gode, van sy dienaars se voorspoed afhanklik nie, vir die rykes ‘n gegote beeld, vir die armes ‘n beeld van hout (40:19-20). Dit word uitgespel in 44:21-22.

44:21 Jakob/Israel word geroep om die afgode se sinloosheid wat in 44:6-20 uitgespel is, te onthou (teenoor 43:18-19 wat gesê het hulle moet nou nie meer die bly hamer op die ou dinge van hulle verlossing uit Egipte nie, maar hulle uitstrek na die nuwe wat die Here nou gaan doen). Die Here sal hulle egter nie vergeet nie, want sy troue liefde is onveranderlik. Twee maal word hulle genoem ‘dienaars van die Here’ wat aan Hom verbind is, want Hy het húlle in die ballingskap soos klei gevorm om sy dienaars te wees, teenoor die ander volke wat vir hulleself ‘n god vorm (44:12).

44:22 Die Here se troue liefde kan gesien word in sy belofte dat Israel se oortredings, waarvoor hulle in ballingskap gestuur is (40:2), uitgewis word soos ‘n miswolk wat deur die wind weggedryf word (43:25 Hy dink nie meer daaraan nie). Op grond van dié vrye genade van die Here word Israel opgewek om na Hom toe terug te kom, na Hom wat as hulle magtige Losser (44:6) die losprys betaal het, nadat Hy hulle vroeër onder die ban geplaas het (43:28) – eintlik het Hy hulle banvloek op Homself geneem (Jes 53:5),  soos Jesus (Mat 20:28).

44:23 Gedagtig aan die Here se verlossing van sy volk breek die digter-profeet uit in ‘n vreugdelied. Hy roep die hele skepping op om te jubel oor Israel se verlossing waarvan hy so seker is dat hy dit skilder asof dit reeds plaasgevind het. Die verlossing van Israel het kosmiese betekenis: die hele aarde met sy donker dieptes van die klowe en grotte, die berge en die bosse word opgeroep om te juig. Dit bewys die Here se soewereine heerskappy oor sy hele skepping, wat ook gaan baat by die optrede van die verlostes (vgl. Rom. 8:20-22). Israel se verlossing en die verheerlikking van die Here word teenoor mekaar gestel: Isael is die toetssaak vir die Here. Die ganse skepping kan sien die Here is magtiger as die gode van Babilon en alle afgode. Almal en alles weet Israel is vrygestel.

Skrywer:  Prof Francois Malan