Die nuwe Fariseërs van vandag

I am never better than when I am at full stretch for God – George Whitefield

 

Die nuwe Fariseërs van vandag

Paul Louis Metzger sê dat Paulus probleme met die Fariseërs gehad het. Die Fariseërs het op uitwendige godsdienspraktyke gefikseer – hulle het vertroue in hulle eie prestasies gehad. Dit verplaas opregte vertroue in God as die basis van ons vertroue. Van die godsdiensleiers in Paulus se tyd wou veral die nie-Joodse Christene oortuig dat geloof + besnydenis = verlossing. Vir Paulus was dit onaanvaarbaar. Hy bespreek die probleem in Filippense 3:1 – 21.

 

Ons bespreek nie meer die belang van die besnydenis nie, maar ons het probleme met ‘n subtiele vorm van prestasie-gedrewe geestelikheid. Dit is niks nuut nie. Paulus het net ‘n ou vorm hiervan ondervind. Vandag is dit net baie meer subtiel.

Ons ignoreer die diepte en kompleksiteit van die lewe en dit lei tot ‘n statiese, prestasie georiënteerde geestelikheid – ons moet net al ons dingetjies agtermekaar kry.

 

Ons sien dit dikwels in ons bespreking van sterk kerkleiers. Ten spyte van sy krag in Christus was Paulus swak – doelbewus soos ons in 1 Korintiërs 2 en 2 Korintiërs 11 en 12 lees. Paulus het nie sy krag in sy persoonlikheid of sy leierskap gevind nie. Lees net weer Filippense 3:1 – 6. Paulus sou ook op uiterlike dinge kon vertrou het, maar hy plaas sy vertroue in Christus: Maar wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus. Diegene wat glo, het immers die ware besnydenis – hulle dien God en sy Gees en vertrou nie op uiterlike dinge nie. Hierdie was nie vir Paulus ‘n akademiese debat nie. Die mense wat Paulus hier uitdaag, was nie buite nie, maar binne in die kerk.

 

 

Hoeveel vertroue het ons in God se liefde of vertrou ons steeds op ons eie prestasies?