DIE NUWE VERBOND EN DIE NUWE TESTAMENT

DIE NUWE VERBOND EN DIE NUWE TESTAMENT

Die Griekse woord vir verbond kom 33 keer in die Nuwe Testament voor. As Jesus die laaste maaltyd saam met sy dissipels hou, gebeur die volgende: “27Toe neem Hy ‘n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink

almal daaruit, 28want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes.” (Matteus 26:27-28.

Sien ook die ander Evangelies). Met sy kruisdood en bloed begin Jesus dus ‘n nuwe verbond (lees o.a. Jeremia 31:31vv) waardeur mense van hulle sonde gered sal word. Dit is egter veral die boek Hebreërs wat heelwat oor die nuwe verbond te sê het. Met die verbond van Sinaï is daar ‘n ooreenkoms met die volk gemaak dat hulle die Wet moet nakom. Dit het egter nie gebeur nie, wat natuurlik beteken dat hulle nie hulle deel van die verbondsooreenkoms nagekom het nie en dus gestraf moet word vir verbondsbreuk. God het egter ‘n ander plan gemaak. Hy gaan nie meer die vereistes wat met die Sinaï-verbond gestel is, afdwing nie. Hy gaan ‘n nuwe ooreenkoms maak. Hierdie keer sluit Hy vir Jesus as deel van die ooreenkoms in. Die vereistes van die verbond moet wel nagekom word, maar Jesus kom dit namens ons na. Hy is soos die kaptein van ‘n span – as die kaptein die loot wen en eerste kolf geld dit van en vir sy hele span. Kom ons kyk na hoe Hebreërs dit stel: Hebreërs 8:7vv.:

“6Maar nou het Jesus ‘n voortrefliker priesterdiens gekry deurdat Hy Middelaar is van ‘n beter verbond wat op uitnemender beloftes (ooreenkomste van die kant van God) gegrond is. 7As daar aan die eerste verbond (die verbond van Sinaï wat wetsnakoming vereis) niks kortgekom het nie, sou ‘n tweede nie nodig gewees het nie. 8Maar God bestraf die volk oor hulle tekortkoming deur te sê: “Kyk, daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda ‘n nuwe verbond sal sluit. 9Die nuwe verbond sal nie wees soos dié wat Ek met hulle voorvaders gemaak het op die dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit Egipte uit te lei nie, want hulle het nie my verbond gehou nie, en Ek het hulle verwerp, sê die Here. 10Dít is nou die verbond wat Ek met Israel na daardie dae sal sluit, sê die Here: Ek sal hulle my wette in die verstand gee, op hulle harte sal Ek dit skrywe; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees. 11Dan hoef niemand meer sy medeburger te leer en vir sy broer te sê: ‘Jy moet die Here ken’ nie. Hulle almal, klein en groot, sal My ken. 12Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.” 13Deur van ‘n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar (die vereistes van die Sinaï-verbond geld nie meer nie), en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn”.   

In Hebreërs 9:15 word nou verduidelik wat die nuwe verbond behels: “15Daarom is Hy (Jesus) ook die Middelaar van ‘n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang.”

Lees ook Galasiërs 4:24-5:1 waar Paulus verduidelik dat die ou verbond met die nuwe verbond vervang word.

Die nuwe verbond se ooreenkoms is dat God ons God sal wees en dat ons sy volk kan wees, maar dat Hy nie van ons verwag om die Wet presies na te kom soos die Jode nie. Nee, ons moet in Jesus glo. Dit word vereis. Natuurlik sal ons as gelowiges probeer leef soos die Here dit wil hê, maar as ons foute maak en dit bely, sal dit vergeef word. Dit kanselleer nie ons geloof uit nie. Die nuwe verbond sê dus, om dit so te stel, dat God ons God sal wees en ons sy gelowiges in Jesus. 

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt