Die Ons Vader-gebed: Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel

image_pdfimage_print

The mightiest prayers are often those drenched with the Word of God. —Herbert Lockyer

 

Die Ons Vader-gebed:  Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Verwysings na God se wil is algemeen in Matteus – meer so as in die ander twee sinoptiese evangelies. Lukas laat hierdie versoek uit in sy weergawe van die Ons Vader-gebed.

Hierdie versoek herinner ons aan Jesus se gebed in die tuin van Getsemane (Matteus 26:36 – 46). Hierdie versoek moet ons daaraan herinner dat ‘n integrale deel van ons Christelike lewenstyl is om God se wil en nie ons eie te soek – ons offer ons eie wil vir sy wil op. Hierdie is nie ‘n fatalistiese versoek nie: “Ag Here, ek het die handdoek ingegooi; daar is niks wat ek aan hierdie probleem kan doen nie. Daarom Here, laat u wil geskied.” Dit is nie ‘n Christelike gesindheid nie. Ons kan hierdie gebed slegs bid as ons bereid is om God se wil te aanvaar – dit ons eie te maak soos Jesus in Getsemane gedoen het.

 

 In hierdie gebed is daar ook spanning: tussen hemel en aarde en tussen die toekoms en die hede. God se wil word reeds in die hemel gedoen. God se wil sal ook volledig en universeel gedoen word as sy koninkryk finaal en volledig kom. Intussen wag ons vir daardie dag – ongeduldig maar tog ook in stille rusteloosheid.

 

Tans word God se wil deur allerhande kragte teengestaan – ons is nog in opstand teen sy wil. Dit is die harde werklikheid. Maar dit is ook ‘n uitdaging: ons as God se kinders moet God se wil doen al is daar baie ander wat dit nie doen nie. Oral in Matteus lees ons dat God se wil iets is wat nou gedoen moet word.

 

Wat is God se wil? Alles wat Jesus ons beveel het. In die Groot Opdrag (Matteus 28:20) lees ons: Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. God se wil is om God en ons naaste lief te hê, om geregtigheid te beoefen en om as sy dissipels alles te onderhou wat Hy ons beveel het. God se wil word deur die woorde en dade van sy kinders uitgevoer.

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...