1

Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (1)

Adults should outgrow the need to be constantly “affirmed.” If a grown man or woman “struggles” with not having emotional pats on the head, then they have a maturity problem. Steve Hays

 

Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (1)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed. Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Hierdie gebed het ‘n belangrike plek in die lewe van die vroeë kerk beklee.

Dit weerspieël dus die werklikhede  wat daardie Christene daagliks ondervind het. Opregte gebed is nie ‘n manier om van die werklikhede van die lewe te ontsnap nie, maar is die gevolg van daardie werklikhede. Ons moet onthou hierdie vroeë Christene was eintlik rantfigure in die destydse Romeinse en Joodse gemeenskap: Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie (1 Korintiërs 1:26). Baie was slawe of vissermanne of arbeiders. Die tweede deel van hierdie gebed is veral gerig op mense wat onder moeilike omstandighede geleef het.

 

Ons moet egter die groot geskiedkundige afstand tussen ons en die gebed in sy oorspronklike omgewing in gedagte hou. Ons kan nie daardie woorde sommer so direk op ons omstandighede vandag toepas nie – dan verwring ons die verlede en ons eie situasie. Die vroeë kerk het die boodskap van Jesus kreatief binne die omstandighede van die Christene in Jerusalem, Antiogië, Rome, ens, geïnterpreteer.

 

Ons moet probeer om die gees en etos van die vroeë kerk vas te vang en dit vir en in ons eie konteks te interpreteer. Die praktiese toepassing moet elke persoon individueel maak, maar hy moet dit doen as lid van die geloofsgemeenskap en op so ‘n manier dat dit inpas by die oorspronklike bedoeling van die gebed.

 

Die evangelie volgens Matteus bevat vyf redelike lang preke of besprekings voorafgegaan en gevolg deur ‘n verhalende gedeelte. Die eerste “preek” is die sogenaamde bergrede (Hoofstuk 5 – 7). Reg in die middel van hierdie gedeelte kry ons die Ons Vader-gebed. As ons kyk na hoe versigtig Matteus die evangelie opgebou het, sal ons onmiddellik besef dat dit nie toevallig was nie. Die gedeelte van die bergrede voor die gebed verwys na die onderwerpe van die eerste deel van die gebed: God se koninkryk, sy Naam en sy wil. Die gedeelte na die gebed hanteer aspekte uit die tweede deel van die gebed: skuld, vergifnis en versoeking.

 

In wese is die gebed ‘n opsomming van die bergrede – eintlik die hele evangelie word in hierdie gebed gekonsentreer. Dit is ‘n kaleidoskopiese siening van Jesus se hele boodskap en bediening. Van vroeg af speel dit ‘n belangrike rol in die aanbidding van die kerk – dit beklee ‘n spesiale plek in die liturgie van die kerk. Die gebed het die eenheid en identiteit van die vroeë Christene bevestig. Dit word die simbool van ‘n nuwe lewenstyl van die burgers van die koninkryk van God. Dit is dus tragies dat die gebed feitlik uit die liturgie van die moderne kerk verdwyn het.

 

Volgende keer gaan ons na die struktuur van die gebed kyk.