Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (2)

. ~ Peter Senge

Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (2)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

Daar is in ieder geval twee verskillende vorme: Matteus 6 en Lukas 11. Hierdie gebed gebruik min woorde en daarom is dit noodsaaklik dat elke woord versigtig geweeg en bestudeer moet word. Elke woord, elke uitdrukking, is vol betekenis. Elke frase in die gebed is ‘n noodsaaklike deel van die totale mosaïek en moet daarom ons aandag geniet.

Ons Vader wat in die hemel is.

Jesus spreek God direk as Vader aan. Hy gebruik die Aramese woord abba. Dit was die manier waarop ‘n klein kindjie sy vader aangespreek het – eintlik ‘n soort troetelnaam. Dit was iets totaal nuut. Jesus gebruik hierdie uitdrukking 170 keer in die vier evangelies. Dit beklemtoon dat Hy deur die Vader gestuur is.

Die oproep ons Vader bind ook diegene wat bid, saam. Niemand kan op sy eie Jesus se broer of suster word nie – ons is saam in die geloofsgemeenskap betrokke. Die bidders is nie net van die Vader en die Seun afhanklik nie, maar ook van mekaar. Hierdie interafhanklikheid van bidders is ‘n basiese element in hierdie gebed.

As ons onthou dat ons liefdevolle Vader, wat ons liefhet en naby aan ons is, terselfdertyd die heilige God in die hemel is, sal dit ons terughou van familiariteit en skaamteloosheid in ons verhouding met God.

Volgende keer begin ons na die versoeke in hierdie gebed kyk.