Die Openbaring aan Johannes – Die finale oorwinning oor die Satan en die finale oordeel (20:1-15) – Francois Malan

Hoofstuk 20 sit God se regstelling voort van die onreg in die wêreld, wat sedert hoofstuk 14 aan die orde gestel is.

20:1-3 Die Satan gebind

Johannes se wêreldbeeld het drie afdelings gehad: hemel-aarde-onderaardse dieptes. So word die Satan se afdaling beskryf: uit die hemel na die aarde (voor die skepping van die mens is hy al met ‘n derde van die engele uit die hemel uitgeskop weens hulle opstand teen God se alleenheerskappy (12:4), en met Christus se sterwe aan die kruis is die hemel vir hom en sy aanklagte teen die gelowiges toegesluit omdat Christus vir die sonde van die wêreld gesterf het (12:9). Hier in 20:3 word hy van die aarde af uitgegooi in die bodemlose diepte (vgl. 2 Petr 2:5), die woonplek van die bose geeste en demone wat daar gevange gehou word. Sy uitdrywing uit die hemel en die aarde skets die drama van sy totale neerlaag. Hy word uit elke gebied uitgeskop en aan die einde gegooi in die ewige strafpoel van vuur, wat God vir hom en sy engele gereedgemaak het (20:10; vgl. Mt 25:41).

Die engel het die sleutel van die bodemlose diepte (Die Griekse a-bussos sonder diepte wat gemeet kan word = Engelse ‘abyss’). Die sleutel van die bodemlose diepte wat die engel dra is die simbool van sy gesag ook oor die bodemlose diepte. Sy krag word geteken met die werkwoorde: hy gryp (arresteer) die Satan, bind hom vir 1,000 jaar met die ketting, gooi hom in die bodemlose diepte, sluit en verseël dit. Die 1,000 (kubus van 10x10x10) simboliseer die totale en volledige beheer oor die Satan (vgl. 144,000 vir totale getal lede van God se volk). Dit staan teenoor die regering van die gelowiges met Christus vir 1,000 jaar (20:4-7).

Daar is baie uiteenlopende verklarings vir die 1,000 jaar. Die verklarings kan hoofsaaklik verdeel word in drie groepe – die woord ‘millennium’ kom van Latyn mille vir 1,000 en annus jaar; ‘giliasme’ kom van die Griekse chilioi vir duisend – Giliaste verklaar die gedeelte letterlik, en put uit die apokriewe geskrifte vir hulle beskywings van die eindgebeure, terwyl Openbaring deurgaans beelde gebruik, veral uit die Ou Testament, om geestelike waarhede te probeer weergee, soos van Bo vanuit die hemel, gesien.

1 post-millennialisme ( post=ná-duisend jaar) dink dat God die kerk geleidelik tot herlewing lei, deur die verkondiging van die evangelie en ‘n wêreldwye uitbreiding deur evangelisasie tot die 1,000 jaar van vrede en geregtigheid aanbreek, waarin God sal regeer en die Satan gebind sal wees. Aan die einde van die 1,000 jaar word die Satan losgelaat, Christus keer terug, oorwin die Satan, oordeel oor alle mense, en die gelowiges word deel van die nuwe hemel en nuwe aarde.

2 pre-millenialisme (pre=vóór-duisend jaar) glo dat die samelewing en gedrag van die mensdom geleidelik agteruitgaan onder ‘n bose regering van die eindtyd, met groot verdrukking en vervolging van gelowiges. Ná die verdrukking kom Christus. Daar is hoofsaaklik weer drie takke van die pre-millenialisme:

Dispensasionalisme of bedelingspremillenialisme genoem: voor die 7 jaar verdrukking word die gelowiges deur Christus weggeraap en Christus kom hulle in die lug ontmoet (die eerste opstanding). Na die sewe jaar se heerskappy van die antichris, kom Christus, verslaan die antichritelike magte by Armageddon om vir 1,000 jaar op aarde te regeer oor Israel waarby alle ander gelowiges ingeskakel word. Na 1,000 jaar vaar Christus na die hemel met sy gelowiges. Die Satan word ‘n kort tydjie losgelaat om die wêreld te teister. Daarna kom Christus vir die tweede maal weer vir die tweede opstanding en die finale oordeel.

‘n Tweede groep (voor-die-toorn/midde-in-die-verdrukking) sien die wegraping na drie en ‘n half jaar se verdrukking (van Openb 11:2-3) voordat God se oordeel oor die volke uitgestort word.

Die derde groep (historiese/na-verdrukking) meen die wegraping vind plaas na die 7 jaar se verdrukking, die gelowiges ontmoet Christus in die lug en kom saam met Hom om deel te wees van sy 1000-jarige vrederyk op aarde, terwyl die satan vir die 1,000 jaar gebind is. Ná die 1,000 jaar se vrederyk word Satan losgelaat, hy voer oorlog teen God, word verslaan en in die vuurpoel gegooi. Ongelowige gestorwenes word opgewek vir die oordeel, en gelowiges word deel van die nuwe hemel en nuwe aarde.

3 a-millennialisme (a=sonder ‘n letterlike 1,000jaar). Soos alle getalle en beelde in Openbaring simbole is vir ‘n geestelike werklikheid, is die duisend jaar ‘n simbool vir ‘n afgeronde tyd (vgl. bv. Openb 7:4 se 144,000 wat al die gelowiges uit die Ou Testament en die Nuwe Testament simboliseer), Vir die hele tyd, ván Christus se eerste koms tót by sy wederkoms, sal gelowiges en goddeloses langs mekaar lewe (vgl. Mt 13:30). Volgens Mt 12:28-29 dryf Christus die demone uit deur die Gees van God en bind ‘die sterk man,’ die owerste van hierdie wêreld’ om hom van sy volgelinge te beroof. Hy kan nie meer die nasies op ‘n dwaalspoor lei nie, want ná Jesus se opstanding het God aan Hom alle mag gegee in die hemel en op die aarde, en Hy stuur sy volgelinge uit om dissipels te maak van al die nasies; en Hy is met hulle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld (Mt 28:18-20). Die ‘aanklaer,’ die Satan, is gebind – hy kan die gelowiges nie meer voor God aankla nie, want Christus het hulle sondeskuld op Hom geneem. Die binding van Satan word dan ook gesien as God se beskerming van die gelowiges teen die verleidings van die Satan (vgl. Joh 10:28-29).

Vir die kort tydjie wat die Duiwel losgelaat word, vgl. by die verklarring van Openb. 20:7. Sommige a-millenialiste sien die 1,000 jaar van Satan se binding as die volmaakte tyd toe Jesus op aarde was en die Satan gebind het met sy uitdrywings, en dat ons ná Jesus se hemelvaart in die kort tydjie lewe waarin die Satan nou losgelaat is.

Skrywer:  Prof Francois Malan