Die Openbaring aan Johannes – Die opdrag aan die sewe engele (15:5-8) – Francois Malan

15:5 Johannes sien die tempel in die hemel is oop, die ‘tent van getuienis,’ die draagbare tabernakel met die ark van die verbond en die twee kliptablette met die tien gebooie, wat Israel deur die woestyn gedra het (Eks 25:16; Deutr 10:2). Die ark was die teken van God se teenwoordigheid by die Israeliete, met die tien gebooie as riglyn vir hulle lewe. Na analogie daarvan is die hemelse tent die getuienis van die teenwoordigheid van God en die Lam, wat die nuwe volk van God begelei op hulle nuwe eksodus.

15:6-7 Uit die tempel kom sewe engele met blink klere van suiwer linne en ‘n goue band om die bors, soos die Seun van die mens (1:13) en sy bruid (19:8), wat die belangrikheid van hulle taak beklemtoon. Soos die priesters van die ou bedeling moet die engele ‘n priesterlike funksie vervul (Eks 28:2-6). In die bakke bring hulle die sewe plae, wat hulle ontvang van een van die lewende wesens. Die bakke word in die eredienste gebruik vir die offergawes aan die Here (Eks 25:29; 27:3). Die sewe engele en sewe plae word drie maal genoem (15:1,6,8). Twee maal word gesê dat die bakke kosbaar is, van goud: in 5:8 is die bakke vol wierook, simbool vir die gebede van die heiliges wat vir die Here ‘n aangename geur is. Die gebede van die gelowiges is geheilig deur die bloed van die Lam (1:5-6 met sy bloed is ons van sondes verlos; 5:8-9 ons is met bloed gekoop as die Lam se eiendom; in 7:14 is die 144,000 se stolas gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam; in 6:10 hulle vra: ‘Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek en ons bloed op die aardebewoners/ goddeloses te wreek?’) – God se regverdige oordeel word deur die goue bakke verbind aan die gebede van die gelowiges. Dit word beantwoord met die bakke gevul met die plae van die ewige God se toorn oor die sonde.

15:8 Die tempel is gevul met rook, simbool van ‘die heerlikheid van God en sy mag;’ dit is God se buitenste kleed. Die Gans-andere se andersheid word gesien in sy misterieuse en ondeursigbare kleed. Dit openbaar sy teenwoordigheid, maar bedek sy voorkoms. So het God aan Moses verskyn in die tent van ontmoeting wat bedags gevul was met ‘n wolk en snags met ‘n vuur van God se magtige teenwoordigheid, sodat selfs Moses nie daar kon ingaan nie, maar waarmee die volk gelei is deur die woestyn (Eks 40:34-38). So was die berg Sinai met wolk en vuur geklee, met die teenwoordigheid van die Here (Eks 24:15-16), en het die Here hulle dag en nag gelei (Eks 13:21), en van die Egiptenaars geskei (Eks 14:19-20); so is die tempel wat Salomo gebou het, gevul met God se teenwoordigheid (1 Kon 8:10-12), en is die tempel met rook gevul met die roeping van Jesaja (Jes 6:4). Niemand kan in die tempel inkom voordat die sewe plae volbring is nie. Die tyd vir ‘van aangesig tot aangesig’ met God te kom, het nog nie gekom nie. Dit kom eers as God alles in sy regte plek en orde geplaas het, alle geregtigheid vervul het, en sy volk in die nuwe beloofde land ingelei het. Dan sal hulle Hom van aangesig tot aangesig sien (22:4; vgl 21:22-23).

 

Die sewe bakke word op die aarde uitgegooi (16:1-21)

16:1 God kondig die opdrag aan die engele aan met ‘n harde stem uit die tempel, vir almal om te hoor (Jes 66:6 hoor daar in die tempel hoe die Here sy vyande straf oor hulle dade). Die sewe plae loop parallel met die mense se innerlike ingesteldheid. Dit is uiterlike tekens van mense se lojaliteite en toewyding. Hulle weiering om te verander bevestig die diepte van hulle opstand teen God. Die eesrte vier plae is die kommentaar van die skepping op die mense se dwase weë. Die laaste drie plae is God se oordeel oor die koninkryk van die dier en Babilon. Die seën in 16:5-7 tussen die derde en vierde bak verklaar die regverdigheid van God se oordele, en 16:15 onderbreek die vloei van die plae om die lesers te waarsku om waaksaam te bly. Terwyl die seëls ‘n kwart, en die trompette ‘n derde van die aarde getref het, is die vernietiging van die bakke ‘n totale vernietiging. Die plae herinner aan die plae in Egipte:

16:2 Die eerste engel gooi sy bak uit op die aarde en dit bring bose swere vir die mense wat die dier se beeld aanbid, soos die sesde plaag in Egipte (Eks 9:10). Die merk van die dier, wat onsigbaar is, identifiseer die verborge motiewe van die persoon se lojaliteit aan die valse god; dit bars nou oop in sigbare swere. Die uiterlike verrotheid van hulle vleis loop saam met die bedorwenheid van hulle gees.

Skrywer:  Prof Francois Malan