1

Die Openbaring aan Johannes – Die prostituut Babilon se uittog (17:1-19:5) – Francois Malan

17:1 Een van die sewe laaste engele nooi Johannes uit om die oordeelsvoltrekking oor die groot prostituut te sien. Sy word ook genoem ‘Babilon die Grote’ (17:5), ‘moeder van die prostitute’ (17:5), ‘die groot stad’ (17:18), ‘die vrou’ (17:3,4,6,7,9,18). Later nooi een van die sewe engele vir Johannes om die bruid, die vrou van die Lam, te kom sien (21:9). Johannes moet fyn kyk want vir sy lesers is die keuse tussen die twee vroue ‘n fyn en subtiele keuse wat elke dag gemaak moet word. Die bose lyk aantreklik en goed. Maar Babilon se onbuigsame, aanvallende, seksuele taal help die gelowige om tussen die twee vroue te kies. Mense in Pergamum (2:14), Tiatire (2:20-22) en Sardis (3:4) het gedink hulle kan hulle christenskap met hulle ou vriende se manier van lewe verenig, deur saam te gaan na hulle afgodsofferfeeste en die onsedelikheid daar. Hulle het ‘n skyn van lewe terwyl hulle dood is. Hulle is opgeroep om hulle daarvan te bekeer. Prostitusie het reeds by die Ou-Testamentiese profete ‘n simbool geword vir godsdienstige, ekonomiese en sosiale aanpassing by die omgewing (Hosea 2:1-12; Jes 23:15-18; Nahum 3:1-4; Eseg 16:15-22). In Openb 17 word seksuele ontrouheid die metafoor vir aanpassing aan die heersende kultuur.

‘Die groot prostituut wat op baie waters sit’ (vgl. Jer 51:12-13 Babel wat langs baie waters woon) verteenwoordig baie volke en skares en nasies en tale (17:15). Die viervoudige beskrywing omsluit die hele aarde, soos die Lam se invloed in 5:9 beskryf word. God sit op ‘n troon om sy heerskappy aan te dui. Maar die vrou sit op baie waters, op ‘n dier, en op sewe berge, wat aldrie die karakter van haar regering oor die aardbewoners uitbeeld:

‘sit op baie waters’ (17:1,15) en op ‘n dier (17:3) is simbole vir die geweldadige regering van die dier uit die see wat Christus se regering na-aap en wil omverwerp; 17:15 verduidelik die baie waters as die volke en skares en nasies en tale – almal wat onder haar beheer val;

‘sit op sewe berge’ (17:9) – Rome is op 7 heuwels gebou. Die woord ‘berg’ kom nog sewe maal in Openbaring voor: 6:14-16 (3x) berge verskuif, alle ongelowiges kruip in grotte in berge, en roep na die berge om op hulle te val; 8:8 iets soos ‘n enorme berg word vlammend in die see gewerp; 14:1 die Lam en 144,000 staan op die berg Sion; 16:20 berge was nie meer te vind nie; 21:10 vanaf ‘n groot en hoë berg sien Johannes die nuwe Jersalem neerdaal. Sewe, die getal van volledigheid, berge, die onmoetingsplek tussen hemel en aarde, (bv. Armageddon – ‘berg Megiddo’ – waar die laaste slag tussen goed en kwaad plaasvind; 16:16). Soos die mense die toring van Babel wou bou om tot aan die hemel te raak en vir hulle ‘n naam te bou (Gen 11:4) sit Babilon op 7 berge om haarself te verheerlik. So is Babilon simbolies die plek waar Christusgelowiges, hemelse burgers, in ballingskap as vreemdelinge lewe.

17:2 Die konings se prositusie met Babilon simboliseer hulle diens aan haar afgode, politiek en ekonomie, waar hulle bedwelm word deur die gepaardgaande onsedelike feeste vir hulle selfbevrediging.

17:3 Johannes word deur die Gees meegevoer om die geestelike betekenis van die tafereel aan te dui. Waar die woestyn in hoofstuk 12 beskryf is as die plek van veiligheid en versorging vir die kerk onder die simbool van die vrou (soos die Here vir Israel in die woestyn versorg het en teen farao beveilig het), is die woestyn in hoofstuk 17 die voorskou van die verlatenheid en die vernietiging van die prostituut Babilon se afgodsdiens, politieke invloed en ekonomiese krag, soos in 18:2 beskryf word (die Griekse woord vir woestyn, eremos, word ook gebruik vir die toestand van iemand wat verlaat en versaak is).

Sy sit op ‘n helderrooi dier oortrek met godslasterlike name, geheel en al deur die antichris en sy weelde beheer. In 13:1 is die dier uit die see al beskryf. Die betekenis van die sewe koppe en tien horings word in 17:9-12 gegee. Die godslasterlike name sinspeel op die Romeinse keisers wat self god genoem wil word, en op almal wat die plek van God wil inneem.

17:4 -6a beskryf die vrou se kleding, ‘n beker in haar hand, skrif op haar voorkop en haar bedwelming:

17:4 Haar klere reflekteer haar morele karakter. Haar uitspattige kleredrag, van purperrooi stof en versierings wat slegs die baie rykes kan bekostig, getuig van haar ekonomiese selfverryking en uitbuiting van haar ‘slawe en mense lewens’ wat in die nette van hebsug vasgedraai het (18:12-13). Haar helderrooi klere verraai haar aard, soos die helderrooi dier waarop sy sit (17:3) en die vuurrooi draak van 12:3. Om goed te lyk, lyk die juwele om haar nek soos die juwele waarvan die nuwe Jerusalem gebou is vir die gelowiges (21:11,18-21). Die goue beker in haar hand (haar handelinge) is vol afskuwelike afgodsdiens en die onrein dinge van haar onsedelikheid wat daarmee gepaard gaan, om mense te verlei.

17:5-6a Die name op haar voorkop (haar denke) is (i) ‘Babilon’, die stad van mag en geweld waarheen die Jode in ballingskap weggevoer was, as simbool vir die gelowiges se vervreemding en verdrukking – dronk van die bloed van die heiliges, die getuies van Jesus wat destyds deur Rome gemartel is en vandag nog vervolg word – die Griekse woord vir ‘getuie’ martus word deur die martelings ‘martelaar;’ (ii) ‘die Grote’ wat spog met haar mag en weelde wat sy versamel het uit die konings van die aarde (17:18; vgl. Dan 4:20-22 vir die groot boom van Nebukaneser se droom); (iii) die moeder van die prostitute, wat vroue verlei om prostitute te word, en van al die afskuwelikhede van die aarde waartoe sy mense verlei, wat haar aan Isebel verbind (2:20) met hulle kompromieë en onsedelike vermening met die populêre afgodiese kultuur.

17:6b Dié gedeelte beskryf Johannes se reaksie op die gesig wat hy gehad het van die groot prostituut: hy was uitermate verbaas (letterlik: ek het my verwonder met groot verbasing) – die woord vir verbasing is dieselfde as die reaksie van die hele wêreld oor die dier uit die see, en hulle het agter hom aangeloop (13:3). Maar die engel verduidelik toe die misterie van die gesig wat Johannes oor ‘Babilon’ gesien het.

Skrywer:  Prof Francois Malan