Die Openbaring aan Johannes – Die verkondiging word ook aan die kerk opgedra (11:1-13) – Francois Malan

Die meting van die tempel (11:1-2)

Daar was al verskillende verklarings en toepassings vir die twee verse; daar was ook drie verskillende tempels:

1e gebou deur Salomo 964 v.C. (1 Kon 6), vernietig deur Nebukadnezer 586 v.C. (2 Kon 25:8-10)

2e tempel deur Serubbabel, gebou na die ballingskap, 520-515 v.C. (Esra 3:1-3, 6-8; Sag 4:6-10)

3e tempel – herbouings en aanbouings deur Herodes en sy opvolgers, omgeveer 22v.C. – 24 n.C., verwoes in 70 n.C. deur die Romeinse keiser Tiberius se magte.

Die tempel van Johannes se visioen is egter ‘n geestelike tempel. In die Nuwe Testament is die kerk en die gelowiges God se tempel (gemeente: 1 Kor 3:16; elke lid: 1 Kor 6:19; vgl. 2 Kor 6:16; Hebr 3:6; 1 Petr 2:5,9) omdat Jesus se liggaam, wat gekruisig is en opgewek is, die ou tempel vervang as ons toegang tot God (Joh 2:20-21).

Die meting van die tempel van God en die altaar en die telling van die aanbidders is ‘n simboliese gebaar om die geskikte grense of ruimte vir optrede, soos ‘n landmeter, te bepaal. Die afgemete gebied is die gebied en persone wat deur God beskerm word in die gewyde plek tydens die fisiese vervolging van 11:3-13. Die ongemete gebied met sy mense in die voorhof van die nasies (ta ethnoi heidene ) is die onheilige plek van die ongelowiges wat nie deur God beskerm word nie omdat hulle hulle beskerming by die afgode soek. Die nasies vertrap die buitenste voorhof vir die simbolies tyd van 42 maande – die gelowiges word deur die ongelowiges geteister. In Eseg 40-42 word die tempel ook afgemeet om te bepaal wat aan God behoort en onder sy beskerming is. In Openb 21:15-17 sal ‘n engel die afmetings van die nuwe Jerusalem neem om die grense tussen heilig en onheilig te bepaal – onrein of onheilig buite die stadspoorte en rein of heilig dié wat binne die grense van die volmaakte stad woon (21:27).

Die gelowiges sal in die eindtyd ook ly. Daarom word hulle telkens gerus gestel dat hulle aan God behoort en dat Hy vir hulle omgee, soos aan Filadelfia (3:10); dat Hy hulle sal vashou in ‘n tyd van beproewing (toetsing) wat oor die hele wêreld gaan kom. In 7:3-4 word vertel dat die volle getal gelowiges (144,000) verseël word as teken dat hulle God se eiendom is. Die demonstrasie van die meting in 11:1-2 stem baie ooreen met Eseg. 40:3,5 se visioen oor die afmeting van die tempel in 537 v.C. tydens die ballingskap as simbool dat God die eienaar van sy mense is en sal wees met die terugkeer na Jerusalem (Eseg 43:5-7a). Na die terugkeer uit ballingskap na Jerusalem met sy afgebreekte beskermingsmure word die heilige stad gemeet as simbool van God se beskerming: ‘Ek sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees’ (Sagaria 2:1-5).

Die 42 maande of 3½ jaar, die helfte van die volmaakte getal 7, simboliseer ‘n beperkte tyd van swaarkry en oordeel (vgl. Mt 24:22 dat God die tyd inkort). Volgens Numeri 33:5-49 het Israel in die woestyn by 42 plekke oorgestaan; Die droogte wat Elia aangekondig het, het 3½ jaar geduur, 1 Kon 17-18; volgens Dan 7:25; 9:27; 12:7 sal die tyd van die verdrukking van Israel deur Antiogus deur God beperk word en is bepaal as ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd (3½). God bly ook in die beperkte tyd van verdrukking in beheer, en beskerm die gelowiges veral geestelik, sodat hulle getrou bly onder verdrukking en te midde van swaarkry en lyding, selfs in die dood (Romeine 8:16-17: kinders van God is mede-erfgename met Christus, sodat, as ons saam met Hom ly, ons ook saam met Hom verheerlik kan word).

Skrywer: Prof Francois Malan