Die Openbaring aan Johannes – Laodisea – vervolg (3:18-22) – Francois Malan

3:18     (i) Die gemeente met sy goud in die banke van die ryk stad, moet vir sy geestelike armoede goud wat in die vuur gelouter is by die Here koop om by God ryk te wees – 1 Petr. 1:7 praat van ons geloof se egtheid wat deur allerhande beproewings gelouter word en kosbaarder is as verganklike goud wat met vuur getoets word, maar wat uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Christus geopenbaar word.

(ii) Kolosse se purperrooi wolklere en Hierapolis se gekleurde wolmateriaal het vér afgesteek by Laodisea se gesogde swart wolklere wat hulle rykdom en vernaamheid vertoon het, maar hulle was naak in God se oë – ‘n groot skande in die Joodse kultuur (vgl. Jes. 20:1-4); die besetene van Gerasa/Gadara het soos ‘n bees naak rondgeloop, geestelik versteurd en bankrot, maar na sy genesing het hy by Jesus se voete gesit, met klere aan en by sy volle verstand (Luk. 8:27,35). Wit klere is in Openbaring simbool vir geregtigheid, verlossing en oorwinning wat ons by Jesus kan kry deur in Hom te glo en Hom te volg op sy lydenspad (6:11; 7:9; 13-14 wit gemaak in die bloed van die Lam; 19:13-14). Laodisea se swart wolklere van selfvoldaanheid moet vervang word met wit klere van gesuiwerde geloof en vertroue op die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh. 1:29).

(iii) Laodisea se mediese skool was wêreldberoemd en ook sy oogsalf van sandsteen wat verpoeier was. Deur hulle voorspoed en selfvoldaanheid is hulle verblind om nie hulle geestelike blindheid en verval raak te sien nie. Daarom beveel Christus by hulle sy oogsalf aan, ‘n nuwe gesigspunt van Bo, deur die verandering van hulle denke (metanoia bekering) oor Christus en oor hulle lewe as kinders van God. Vgl. die genesing en verlossing van die blindgeborene teenoor die blindheid van die Fariseërs wat sê dat hulle sien, in Joh. 9:39-41.

3:19 Die oplossing gaan nog verder. As hulle Vriend, berispe en tugtig Christus die gemeente, omdat Hy hulle liefhet (fileoo vriendskapsliefde). Berispe behels die identifisering van die probleem om iemand daardeur te oortuig om iets daaraan te doen; tug se doel is om iemand te help om op die regte spoor te kom (vgl. Spr. 3:11-12,24; Hebr. 12:5-6). Goddelike liefde gaan gepaard met dissipline. As Laodisea dissipline uit liefde verstaan en ernstig opneem, sal hulle ywerig wees om hulle te bekeer – van louwarm tot vuurwarm in Christus se diens. Die fokus van hulle lewe moet verskuif van eie gewin na ‘n lewe toegewy aan die diens van Christus en God, as volgelinge van Christus en kinders van God omdat hulle verbind is aan die Seun van God, met ‘n liefde wat gee en nie gryp nie.

3:20 is ‘n goddelike uitnodiging om tot inkeer te kom. Die Laodisense het skynbaar die deur van hulle harte gesluit vir gemeenskap met Hom. Die geslote deur is ‘n beeld van die gevaarlike dieptes waarin die gemeente verval het. Die Here van sy kerk staan by hierdie kerk, maar buite, en klop om in te gaan om vir hulle ‘n fees aan te bied. Hulle word opgeroep om mooi te luister na sy kloppende hart: ‘Kyk!’ Elke lidmaat moet self besluit of hy/sy vir die kloppende Vriend gaan oopmaak en Hom as die Here van hulle lewe in te nooi om in sy gemeenskap hulle hele lewe uit te leef. Tafelgemeenskap is ‘n teken van hartlike deelname en intieme gemeenskap van vriende (Joh. 15:12-15). Dit is ‘n voorafskuwing van die hemel (Op. 19:7,9, die bruilofsfees van die Lam; vgl. Jes. 25:6; Luk. 12:35-41; 13:29; 22:29-30).

3:21 Die hoogste eer vir dié wat oorwin oor die versoekings en aanslae van die wêreld en hulle eie hart se louheid, is om saam met Jesus op sy troon te sit langs die Vader (vgl. 20:4; 22:3-5). Satan en die dier wat as despote regeer, sal onttroon word, en Jesus, wat saam met die Vader regeer, sal sy oorwinning met diegene deel wat die deur van hulle lewe vir Hom oopgemaak het. Die wyse waarop die oorwinning verkry word, is die onderwerp in hoofstuk 5, ‘n oorwinning deur die Lam wat sy lewe gee, en daarom is Hy waardig om die boekrol, wat die geskiedenis van die heelal laat voortrol, oop te maak en met liefde te regeer.

3:22 Die boodskap is vir alle gemeentes bedoel, en wie ookal die woord met oop ore hoor, en luister deur dit gehoorsaam te volg, ontvang van Christus die lewe saam met God, wat nou reeds sy deel word, en vir ewig.

Van vier uit die sewe gemeentes in Klein-Asië (huidige Turkye) het slegs bouvalle oorgebly: Efese, Pergamum, Sardis, Laodisea. Die ander drie, Smirna, Tiatira en Filadelfia, is vandag moderne stede met moderne name, en het min van die ou stede se bouvalle oorgebly.

Efese, die groot handelstad, met die tempel van Artemis as een van die sewe wonders van die antieke tyd, wat haar eerste liefde verlaat het, is in 262 n.C. deur die Gote verwoes, en het later onder Arabiere, Turke en Mongole deurgeloop.

Smirna, vir wie vervolging voorspel is, waar Polikarpus in 155/156 n.C. op die brandstapel gesterf het, het die Turkse invalle en Islam ‘n tyd lank afgeweer, en daar is tans nog ‘n Roomse klooster.

Pergamum, gewaarsku teen die Nikolaïte, het na die Arabiese invalle in 716-717 n.C. agteruitgegaan, tot net bouvalle daarvan oorgebly het.

Tiatira, met geld as hulle god, is telkens herbou ná die Arabiere en Turke se aanvalle, en heet vandag Akisar.

Sardis, geestelik dood, is in 117n.C .deur ‘n aardbewing verwoes, deur die Romeine opgebou, en in 716 n.C. deur Arabiere vernietig.

Filadelfia, die getroue, is in 390 n.C. deur die Turke verower en in 716 n.C. deur Islam oorgeneem, tans Alaseïr (stad van Allah).

Laodisea, die loue bankhoofstad, is in die Middeleeue deur die Moslemoorloë vernietig.

 

Hoewel daar ‘n opbloei in die gemeentes was na ontvangs van die briewe, en die Christelike geloof deur Turkye versprei het, maar weer lou geword het, het Islam in 716-717n.C. Turkye oorspoel en die kerk onderdruk en uitgedruk. Na die eerste wêreldoorlog het Turkye in 1923 ‘n onafhanklike Moslemstaat geword, wat alle Christene verban het, sodat daar vandag nie eers 1% van die bevolking in Christus glo nie.

Skrywer:  Prof Francois Malan