Die Openbaring aan Johannes – Openbaring 14 – Francois Malan

Aan die einde van hoofstuk 12 het die draak op die strand gaan staan en roep om versterkings uit die see en die aarde vir sy stryd teen die gelowiges op aarde (12:18). In hoofstuk 14 staan die Lam wat oorwin het, op die berg Sion en roep sy ‘leër’ van 144,000 om die twee diere te weerstaan deur te volhard in hulle gehoorsamheid aan die gebooie van God, en in Jesus te bly glo (14:12). Hoofstuk 13 het ‘n oorsig gegee van die konflik tussen goed en kwaad in die wêreld; nou word ‘n kykie gegee van die oplossing van die konflik. Telkens in Openbaring word die ellende op aarde belig met die uitsig van Bo af, om gelowiges se geloof te versterk om te kan volhard in die ellende.

Die hoofstuk word in 4 dele verdeel deur vier letterkundige merkers:

Ek het gesien, en kyk (v1) die verlostes en die Lam op Sion (1-5)

Toe het ek gesien (v6) die val van Babilon en die komende oordeel oor die dier en sy volgelinge (6-12)

Toe het ek gehoor (v13) die tweede van die sewe saligsprekings in Openbaring

Toe het ek gesien, en kyk (v14) twee oeste: die graanoes van gelowiges (14-16); die druiwe-oes van ongelowiges 17-20).

 

Sionsberg vir die 144,000 losgekooptes (14:1-5)

 

14:1 Die simboliese berg Sion is die toevlugsoord, soos die woestyn (12:6,14) en die afgemete tempel (11:1), vir die 144,000 met die Naam van die Lam en van sy Vader op hulle voorkoppe.

Verskillende verklarings is al aangebied vir die 144,000 wat duidelik almal aandui wat aan die Lam en sy Vader behoort. Moontlik verwys dit na die gelowiges uit die Ou en Nuwe Verbond (12×12) soos verteenwoordig deur die twaalf stamme van Israel (21:12) en die twaalf apostels van die Lam (21:14) vermenigvuldig met 10x10x10=1,000, ‘n afgronde getal, soos die Nuwe Jerusalem se 12,000 stadioi (21:16).

In Ps 2:6-12 is Sion ‘n toevlugsoord waar God met sy Messias (Gesalfde) regeer. In Openbaring is Sion ‘n simbool vir God se teenwoordigheid. Teenoor Sion staan Babilon, die stad wat op sewe berge sit (17:9; soos Rome). Die twee stede verteenwoordig twee teenoorgestelde uitkyke op die lewe en op God, met die verskillende tekens op hulle volgelinge se voorkoppe (denke) en hande (optrede), twee verskillende uiteindes tussen die graanoes en die druiwe-oes, die toorn van God (hoofstukke 17-20) teenoor sy seën (hoofstukke 21-22; 14:10 teenoor 14:13), hulle kuisheid teenoor haar prostitusie (14:4,8 teenoor 17:1). Jy kan òf die Lam òf die dier volg. Openbaring is juis geskryf vir Christene wat probeer om in altwee stede te bly, aan te pas by die maatstawwe, waardes en gelowe van die heersende kultuur. Dit is reeds gekritiseer in die briewe aan die sewe gemeentes (2:14,20).

 

14:2 Soos die gedruis van ‘n groot watermassa, so klink die uitbundige en welluidende koorsang uit die hemel (19:6); ‘n gerammel van swaar donderweer, soos toe God se teenwoordigheid op Sinai opgeklink het (Eks 19:16-17); soos siterspel se soetklinkende melodieë op 10 snare by die tempeldienste (Ps 33:2; 57:9).

 

14:3 Die name op die gelowiges se voorkoppe definiëer hulle karakter: gekoop deur die Lam en behoort aan die Vader en die Lam. Vyf verdere van hulle kenmerke word genoem: (i) Hulle leer ‘n nuwe vreugdelied, om saam te sing met die koorsang uit die hemel, van hulle loskoping/bevryding uit sonde en uit die slawehuis van die Farao’s van hierdie wêreld, om nuut te lewe voor God, en Hom as hulle Vader in liefde te dien – hulle sing die lied voor die troon!.

 

14:4 (ii) Onthouding is ‘n simbool vir die geestelike getroues wat hulle nie vermeng met die heersende kultuur nie, wat op sy beurt gesimboliseer word deur prositusie, ‘n simbool vir afgodsdiens (17:1). Letterlik word die woord ‘maagde’ hier gebruik vir die gelowiges, maar dit moet nie letterlik opgeneem word nie, net soos die getal 144,000 nie letterlik opgeneem moet word nie, maar as simbole, ‘maagde’ vir die hele kerk se gelowiges, 144,000 uit die Ou Testament en Nuwe Testamentiese tye. ‘Onbesoedeld’ dui op gelowige volharding. Die beeld van maagdelikheid kom ooreen met die onbesoedelde klere van party lidmate in Sardis (3:4), soos die fyn linneklere van die bruid van die Lam as die gelowiges se regverdige dade (19:7-8). So lewe die sangers van die nuwe lied.

 

(iii) Die ‘sangers’ volg die Lam waar Hy ookal gaan, soos skape hulle herder volg, 7:17; Jn 10:11 wat sy lewe aflê vir die skape – dieselfde woord wat Jesus gebruik in Mk 8:34 as iemand agter My wil aankom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg. Om Jesus te volg is figuurlike taal wat verwys na ‘n lewe op die weg van Jesus se getuienis, van sy verwerping deur die volk, en van sy liefdesoffer vir ons, teenoor ‘n lewe in selfsug en die weelde van Babilon (18:3).

(iv) Christus het hulle uit die mense met sy bloed gekoop vir God en die Lam (die dier laat nie dié met sy merk toe om te koop en te verkoop nie (13:17), en verbied God se gekooptes om te koop of te verkoop. Die gelowiges is egter die ‘eerste vrugte,’ die keurvrugte, aan God en die Lam gewy (vgl. Jer.2:2-3; Jak 1:18).

(v) Oor hulle lippe kom geen leuen nie – in Openbaring staan die teenstelling leuen-waarheid voorop, dat jy sê dat jy die Lam volg, maar tog die wêreld se norme volg (2:2 van die Nikolaïete; 3:9 van die skyn-Jode). Volgens 21:8 word alle leuenaars uitgesluit uit die nuwe Jerusalem. In Jn 8:44 sê Jesus: die duiwel is die vader van die leuen. Openb. 19:11 noem Jesus getrou en waar. Sy volgelinge ken die waarheid, bly onberispelik by die waarheid wat hulle vrymaak (Jn 8:32) en word nie besoedel deur die verkeerde te behandel asof dit reg is, dwaling as waarheid, onreg as morele norm nie (vgl. Flp 2:13-16).

Skrywer:  Prof Francois Malan