1

Die Openbaring aan Johannes – Seënspreuk: Twee oeste (14:13) – Francois Malan

‘n Stem uit die hemel kondig die tweede van die sewe seënspreuke in Openbaring aan (1:3; 14:13; 16:15; 19:9; 20:6; 22:7,14): ‘Skryf neer! Geseënd is die dooies wat wat van nou af in die Here sterf…’ Dit is ’n tussenwerpsel van hoop midde in die aankondiging van die onheil van God se ewige straf. Om in die Here te sterwe beteken om enduit in die geloof getrou te bly aan Jesus Christus, om in sy ligkring te bly leef, om deel te word en te wees van Christus se sterwe (Rom 6:5-11; 2 Kor 5:14-15; Kol 3:3-4).

Die Gees het Johannes meegevoer om sy visioene te sien en op te skryf (1:10; 4:2; 17:3;21:10). God praat met die gemeentes deur die Gees (2:7,11,17,29; 3:6,13,22). Net hier en in 22:17 praat die Gees self; hier om die seën te bevestig: ‘inderdaad!’ en voeg by: ‘sodat hulle mag rus van hulle geswoeg/verdrukking, want hulle dade volg hulle.’ Dié mense wat in die Here sterf se rus staan in skrille kontras met die dier en sy volgelinge wat dag en nag geen rus sal hê nie (14:11). God onthou die gelowiges se getrouheid te midde van vervolging en swaarkry ter wille van Hom (Mt 16:27; Rom 2:6-11).

 

Die graanoes (14:14-16)

 

Verras, sien Johannes ‘n spierwit wolk, en op die wolk sit iemand soos ‘n seun van ‘n mens (iemand soos ‘n mens). So het Jesus Homself op aarde genoem, soos in die gesig van Daniël 7:14. Die wolk is wit as simbool van suiwerheid, reinheid en wysheid. Die wolk as sy koets/troon wanneer Hy weer kom, simboliseer sy verheerlikte posisie (vgl. die beloftes in Mt 24:30; 26:64). Die goue kroon op sy kop is die simbool van sy oorwinning en heerskappy as koning wat die finale oordeel kom voltrek. Die skerp sekel/sens in sy hand is die gebruiklike oesinstrument (Mk 4:29) as simbool van die finale oordeel, wat Jesus kom voltrek soos die ‘ander engel wat uit die tempel kom’ (14:9) aangekondig het, met ‘n harde stem vir almal om te hoor. Met ‘n enkele swaai van die skerp sekel/sens is die hele aarde afgeoes. Soos in Johannes 4:34-38 verwys die graanoes na die insameling van die gelowiges wat ryp geword het vir die oes om vir ewig by Christus hulle koning te wees (vgl. Joël 3:13).

 

Die druiweoes (14:17-20).

Die ander engel uit die hemelse tempel met ‘n skerp sekel/sens kry sy opdrag van die engel wat in beheer is van die vuur by die offeraltaar om die vuur van die oordeel te simboliseer – hulle wat nie Christus se offer aanvaar nie, word self offerdiere (20:15). Die druiwe-oes verloop in twee stadiums: eers afsny van die trosse (oordeel) en dan getrap in die parskuip van God se toorn (straf). Christus moet as die Regverdige Regter ook die straf van God oplê (vgl. 19:15; Jes 63:3-6). Hy wat red, herstel ook die orde in die skepping, as verlosser en regter.

Die beelde van die hoofstuk is baie erg. Die bloed uit die parskuip vloei so hoog soos die perde, vir 1,600 stadia, amper vir 300 kilometer. Maar die omskakeling na kilometers mis die simboliek van 4x4x10x10 met 4 wat die wêreld aandui en 10 totaliteit, en verdubbel vir beklemtoning. Dit beteken die bloed bedek die hele aarde totaal (vgl. die baie deur die wye poort na die verderf, in Mt 7:13). Dit behoort die lesers wakker te skok om te besef hoe lewensbelangrik elke keuse is. Die bedwelmende invloed van Babilon is so groot dat gewone mense en gelowiges nie maar kan aangaan sonder deeglike nadenke nie. ‘n Mens kan nie die merkteken van God en die Lam dra saam met die merk van die dier nie (Mt 6:24).

 

Hoofstukke 12-14 se boodskap

Die geestelike oorlog wat in hoofstuk 12 begin met die draak wat die Christuskind wil verslind, loop uit op die draak se uitwerping uit die hemel deur die soendood van Christus. Daardeur is die Satan=aanklaer se grond vir sy aanklagtes ontneem. Die kind word na die hemel weggevoer om vandaar as die Lam met liefde te regeer. Daarna roep die draak, wat hom as god voordoen, sy trawante: die dier uit die see, simbool van die mag en geweld van regeerders, stelsels, kulture en gebruike van mense; die dier uit die aarde as simbool van slinksheid, leuens en verleiding om mense weg te lei van die ware God en die Lam af. Hoofstuk 14 teken die Lam op berg Sion saam met die gelowiges wat Hy losgekoop het en ‘n nuwe lied sing om die evangelie oor die hele aarde te verkondig. Daarteenoor val die magtige Babilon met die nasies wat sy bedwelm het. Hulle gaan nou die beker van God se toorn drink en met vuur gefolter word. 14:12 roep gelowiges op om te volhard en 14:13 verseker hulle van die rus van hulle geswoeg. Hoofstuk 14 sluit met God se oordeelsdag as laaste waarskuwing met troos vir gelowiges en verskrikking vir ongelowiges wanneer die Seun van die mens op die wit wolk kom sit met verlossing en die regverdigheid waarom die hele skepping roep (6:9-11; vgl. Rom 8:18-25). Die gelowige verlosdes word soos ryp graan geoes vir die ewige lewe (Mark. 4:29; Joh. 4:35-36); die ongelowiges ontvang die regverdige oordeel van God soos ‘n wingerd wat af geoes en die druiwe in die groot parskuip van God se toorn getrap word (Joël 3:13; Jes. 63:3-6).

Skrywer:  Prof Francois Malan