Die openbaring van die nuwe orde in Jesus (Johannes 2:1-4:42)

Die openbaring van die nuwe orde in Jesus (Johannes 2:1-4:42) – Francois Malan

Die drie hoofstukke vorm ‘n eenheid in die groter verhaal hoofstukke 2-12. Die eerste vervulling van die belofte in 1:51 is die wonderteken van die water wat in wyn verander in Galilea tydens ‘n familiefees (2:1-12). Daarop volg die reiniging van die tempel  in Jerusalem tydens Paasfees (2:13-22).

Die twee is ‘n simboliese voorspel van Jesus se Messiaanse optrede, wat die mag van sy persoonlikheid bekendstel, en van die betekenis wat Galilea en Jerusalem in die plan van God. Jesus kom die Paasfees en die lewe van die gemeenskap met ‘n nuwe inhoud vul. Die Sinoptiese Evangelies plaas die reiniging van die tempel in die  laaste week voor Jesus sterwe. Johannes plaas die twee optredes aan die begin van sy Evangelie as ‘n sleutel vir die verstaan van Jesus se bediening: sy dood, as Paaslam, en opstanding  vir die verlossing van die mens. Die reiniging van die tempel is ‘n inleiding tot die nuwe manier om God te dien (4:23-24). Die drie hoofstukke wys na die vervanging van die ou reinigingsgebruike (2:6) deur die goeie wyn van die koninkryk van God (2:10; vgl. 15:1), en die reiniging van die tempel wat deur die liggaam van Jesus vervang word (2:19,21), van die nuwe geboorte vir die nuwe skepping (3:3), ‘n kontras tussen die water van die ou put van Jakob (4:6) met die lewende water van die Christus (4:14,25,26), en die aanbidding in Jerusalem en Gerisim word vervang met die aanbidding van God in Gees en in waarheid (4:24). In 4:43-54 is Jesus weer in Kana met die tweede wonderteken wat uitloop op die vernuwing van die huisgesin van die regeringsamptenaar. Dit vorm die skakel met die volgende gedeelte.  

 

Skrywer: Prof Francois Malan