DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (4)

DIE OU ERA IS VERBY EN DIE NUWE ERA BEGIN (4) – Jan van der Watt

deel 3 – Kan ons seker wees die opstanding het regtig plaasgevind?

Dikwels sê mense ons moet die opstanding “bewys”. Ons het egter nie video-opnames van die opstanding nie en ook nie foto’s nie. Ons het net die getuienis van die mense wat dit gesien het. Daarmee moet ons tevrede wees. In alle geval, dit is hoe geskiedenis werk.

As jy die geskiedenis moet vertel van wat vandag met jou gebeur het, hoe gaan jy dit doen. Jy kan maar net opskryf wat jy onthou en vir mense gaan vra met wie jy in aanraking was om hulle weergawes te vertel. “Gebeure” gaan so vinnig verby as wat tyd verbygaan – al wat oorbly is ons herinnering daarvan. Dit is daarom gebroke (ons onthou nie alles nie) en geïnterpreteer (hoe die gebeure deur die bril van ons ervaring lyk – elke mens kan dit verskillend ervaar). Om dit nog beter te illustreer: hoe weet jy jy is jou ma se kind? (Kom ons sluit die DNA toetse wat eers onlangs ontwikkel is, uit). Jy het ook maar net haar en ander se woord, maar hulle kon gejok het, of jy kon in die hospitaal omgeruil gewees het, om nou maar voorbeelde te gebruik van wat kon gebeur het. Uiteindelik het jy ook maar net getuienis wat jy moet glo. Maar dit hang af van hoe betroubaar en oortuigend die getuienis is. Alle getuienis is nie ewe betroubaar nie.

Ons het presies dieselfde met die opstanding – ons het baie getuienis (1 Kor 15:1-11) en bewyse dat die mense so vas in die werklikheid van die opstanding geglo het, dat hulle bereid was om hulle lewens daarvoor te gee – nogal ‘n sterk oortuiging. Maar uiteindelik moet ons hulle getuienis ook glo. Kom ons kyk kortliks na ‘n paar van die argumente wat in die debat ‘n rol speel.

1. Waarom is dit so belangrik dat die opstanding werklik plaasgevind het?

Vir die Christen is dit belangrik dat die opstanding wel plaasgevind het, omdat ons geloof in die toekoms op die opstanding gebou is – as Jesus nie opgestaan het nie, het ons geen bewys dat ons wel ‘n toekoms of ‘n lewe na die dood het nie. Dan is daar ook geen werklike bewys dat Jesus meer as bloot ‘n mens was nie. Aan die ander kant, as die opstanding wel plaasgevind het, het ons die werklike lewende hoop op die lewe hierna. Daarom is dit nogal belangrik dat die opstanding wel plaasgevind het.

  • ?!
  • Kom ons kyk hoe die opstanding geskiedkundig in ons geloof funksioneer. Ons gaan die voorbeeld van Daisy die koei neem.

    Volgende keer kyk ons na die historiese gegewens vir die opstanding.

     

    Skrywer: Prof Jan van der Watt