Die Ou Testamentiese stories (1)

 

We are not to simply bandage the wounds of victims beneath the wheels of injustice, we are to drive a spoke into the wheel itself – Bonhoeffer

 

Die Ou Testamentiese stories (1)

Alle mense hou van stories. Die Bybel is vol stories. Hierdie gedeeltes, net soos die res van die Bybel, is deur God geïnspireer.  Die hele Skrif is deur God geïnspireer (2 Timoteus 3:16). Hierdie stories is teologies – hulle openbaar God. Soms is Hy die hoofkarakter van die storie (die skepping); soms verskyn Hy op die toneel en verlaat dit weer (die toring van Babel); soms is Hy afwesig (Ester). Al is Hy oënskynlik afwesig is Hy tog besig om gebeure te beïnvloed, dade te oordeel en om mense te motiveer.

 

Hierdie stories is ook literêre tekste. Hulle gebruik ‘n verskeidenheid van literêre instrumente om waardes, optrede en oortuigings te beïnvloed. Die primêre doel van die stories is om mense te ooruig.

Stories het drie sleutelkenmerke: intrige, karakter en omgewing.

 

  • Intrige

Intrige is die ketting van gebeure wat verbind word om ‘n konflik van versteurde ewewig na herstelde ewewig te beweeg. Die intrige kry lesers betrokke deur ‘n gevoel van afwagting te wek – wie gaan wen. Ons weet egter al wie gaan wen, maar die intrige is steeds belangrik, want dit skep verwagtings. Al is daar miskien nie dieselfde afwagting nie is daar steeds beweging na die ontknoping van die storie. Daarom word gemeentes steeds geraak deur die klassieke stories wat hulle al vantevore gehoor het: Dawid en Goliat, Elia op Karmelberg, ens. “Vertel my die ou ou storie!”

 

‘n Intrige beweeg gewoonlik deur verskillende stadia:

  • ‘n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel (Genesis 22:1). God toets sy vriende – dit skep ‘n mate van versteurde ewewig.
  • Vat jou seun … en offer jou seun as brandoffer (22:2). Nou is dinge beslis onstabiel.
  • Die reis na Moria, Isak dra die hout, Isak vra sy vader: waar is die lam om te offer? (22:7), Abraham bou die altaar, hy bind Isak vas om geoffer te word.
  • Die Engel van die Here stop vir Abraham (22:11 – 12)
  • Abraham slaag die toets en God voorsien ‘n ram vir die offer. God herhaal sy verbond met Abraham (22:13 – 19).

 

Die Ou Testamentiese skrywers “wys” wat die waarheid is. Hulle “wys” idees. Voorbeelde: sondaars wat skuldig voel probeer hulle sonde wegteek (Dawid en Batseba); God vereis absolute gehoorsaamheid (Saul en die Amalekiete). Meestal moet die leser die beginsels uit die storie aflei.

Die skrywer van 1 Samuel 17 vertel die storie van Dawid en Goliat. Hiermee kommunikeer hy dat God magtiger is as enigiets waarmee sy vyande na vore kan kom. Hy seën ook diegene wat vreesloos in geloof na vore kom. Die eerste twee stadia van die intrige – agtergrond en konflik –  begin met ‘n skets van Goliat van naby. Jy kan nie anders as bang wees vir hom nie. Hy domineer die hele slagveld. Nou neem die aksie toe: Israel bewe; Dawid, feitlik sonder wapens, hardloop na Goliat; hulle praat met mekaar; die geveg begin. Dan volg die klimaks: die reus val. Die groot domino val en al die kleintjies val daarna. Die skrywer beskryf tonele. Daarom word die impak nie deur enkele verse of woorde bereik nie, maar deur die hele toneel te lees.

 

In die volgende blog gaan ons na karakter en agtergrond kyk.