Die oue weerklink in die nuwe: Die Skepping (3) – Jan van der Watt

Ons gaan verder met ons bespreking van die skepping. Twee punte vra nog ‘n bietjie kommentaar:

  1. i) Soos ons gesien het, word die gedagte van die skepping in die Nuwe Testament gebruik om te bewys dat Jesus werklik díe Een is wat van die ware Skeppergod af kom. Hy verteenwoordig en openbaar daardie God op aarde (Joh 1:18). Dit was vir die vroeë Christene belangrik, want so kon hulle bewys dat hulle nie ‘n nuwe onbekende god aanbid waarvan niemand nog ooit gehoor het nie, maar dat hulle godsdiens die ware godsdiens is wat op die lewende Skeppergod teruggaan.

Om die impak hiervan te verstaan moet ons besef dat in die tyd van die Nuwe Testament alle nuwe dinge, veral nuwe godsdienste, baie skepties bejeën is. Veral die Romeinse regering was nie positief oor nuwe godsdienste en bewegings nie, want waar kom dit nou skielik vandaan? Ou, beproefde godsdienste het al die toets van die tyd deurstaan en kan aanspraak maak op egtheid en waarheid. Deurdat die Christendom dus kom wys dat hulle geloof in Jesus teruggaan op die Skeppergod self, met ander woorde, na die heel begin, het baie outensiteit en gesag aan hulle boodskap verleen.

  1. ii) Die gedagte van God wat lewe gee het ook sterk teologiese implikasies. God is die God van lewe. Dit beteken dat wat ‘nie lewe’ is nie, is nie van God nie. Daarom is die dood gesien as iets wat teenoor God staan, want dit staan teenoor die lewe. Sonde is ook aan die dood verbind, want sonde is mos optrede teen God. Met die sonde en die dood wat so verbind is, kon Paulus in Romeine 6:23 sê: Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.

Hier kan gesien word hoe lewe met redding verbind word. Jesus red deur lewe te gee. In die sin kan dus gesê word dat redding eintlik her-skepping is, die lewend maak van dit wat dood was: Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom  (Joh 3:36) en Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe (Joh 6:57). Die lewende God wat deur Jesus skep, herskep ook deur Hom, met ander woorde, dit wat deur die sonde doodgegaan het, word weer deur die Skepper lewend gemaak. Dit is presies wat Paulus in Kol 1:19-20 wil sê: God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon en om deur Hom alles met Homself te versoen. Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

Geen wonder nie dat redding soms beskryf word in terme van gelowiges wat ‘n nuwe skepsel word (1 Kor 5:17; Gal 6:15; Op 21:5): Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe skepsel; die oue is verby, die nuwe het gekom. Jesus kan dus herskep omdat Hy ook Skepper is. In hom is die skepperkrag aanwesig wat ook beteken dat Hy ook die krag het om te herskep.

Volgende keer gaan ons na Adam, die vader van almal, kyk.