Die pad van wysheid (2)

 

Here the bottom falls out of all merit … Christ must do and must give everything – Martin Luther.

 

Die pad van wysheid (2)

In die vorige blog het ons na wysheid in die algemeen gekyk. Nou kyk ons na verskillende aspekte van wysheid.

 

  1. Wysheid gaan oor verstaan

In die Bybel word wysheid gereeld teenoor dwaasheid gestel. In Spreuke 1 – 9 kry ons ‘n algemene oproep om wysheid as dié waarde in die lewe te soek. Die soeke na wysheid is ‘n prioriteit, want dit laat ons die lewe verstaan. Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag (1:7). Hier word die beeld gebruik van ‘n ouer wat sy kind onderrig. Verstaan is die vermoë om te leef in die lig van God se openbaring. Maar die wysheid is ook prakties – ons moet doen wat ons verstaan. Wysheid in die hart begin by ons denke. Dit gaan oor dink en leer en ontleer. Dit is ‘n konstante leerervaring waarin my onderskeidingsvermoë uitbrei.

 

  1. Wysheid gaan oor aanbid

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig (9:10). Al die wysheid wat ons op ons eie bymekaarmaak, skiet ver tekort. Aanbidding begin by die nederige en dankbare vertroue in en gehoorsaamheid aan God. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is (3:5 – 7). Ons kry hierdie oproep om te aanbid midde in die oproep om wysheid te soek.

 

  1. Wysheid gaan oor doelwitte

Wysheid stel ons in staat om doelwitte te stel wat die moeite werd is om na te jaag. Die kennis van God is ons konstante doelwit in alles wat ons doen. Wysheid stel ons in staat om doelwitte te formuleer en om dan daarop te fokus. Dit het ek wel ingesien dat dit ‘n mens meer baat om wysheid te hê as om dit nie te hê nie, net soos lig ‘n mens meer baat as duisternis. Die wyse weet wat hy doen, vir die dwaas is daar net donkerte (Prediker 2:13 – 14a). Wyse manne stel doelwitte en daarom weet hulle waarheen hulle op pas is. Die dwaas loop deur die lewe asof hy blind is, Die lewe van die dwaas is doelloos.

 

Volgende kyk ons na verdere aspekte van wysheid.