1

Die Psalms: Inleiding (4)

 

Idolatry is worshiping anything that ought to be used, or using anything that ought to be worshiped. ~ Augustinus

Die Psalms: Inleiding (4)

 

Genade kom eerste

Die psalms gee uitdrukking aan ‘n diepe bewustheid van die genade van God. Elke psalmis is diep bewus daarvan dat dit wat hy is, wat hy glo, dink en voel totaal afhanklik is van dié God wat eerste in sy lewe ingegryp het. Hy is bewus daarvan dat God Hom aan Israel geopenbaar het deur dit wat Hy gedoen het. God het die hemel en die aarde geskep vir die mens. God het Homself en sy liefdesplan aan Abraham, Isak en Jakob geopenbaar. Die psalmis kon dus terugkyk en na God verwys as die “God van ons Vaders”. God het hul voorvaders verlos uit Egipte, uit slawerny. Hy het hul beskerm en hul hul eie land gegee. Deur Moses het God aan hul die Wet gegee.

 

Maar daar is nog meer. God het Israel uit al die volke uitverkies as sy volk – sy spesiale mense. Na die gelofte wat God met Abraham gesluit het (Gen 17:1 – 8), het God ‘n gelofte met die hele volk aan die voet van die Berg Sinaï gesluit (Eks 19:3 – 6). As julle My gehoorsaam en julle aan My verbond hou, sal julle uit al die volke My eiendom wees.

 

Die naam wat God vir Homself gebruik het toe Hy Hom aan Moses geopenbaar het, was Jahweh. Hierdie Hebreeuse naam is nooit deur die skrywers van die Ou Testament gebruik nie weens hul eerbied vir God en sy Naam. Hul het eerder gepraat van “Die Here”, die naam wat vandag nog steeds in die psalms gebruik word. Jehowa is bloot die spelling van Jahweh soos gebruik deur die eerste drukkers van die Bybel in Engels 600 jaar gelede. Dit is onakkuraat en behoort nie gebruik te word nie.

Die God van die Gelofte

Aangesien die Here die God van die Gelofte is, word daar in die psalms taal gebruik wat geloftetaal genoem kan word. In die dae van Moses was dit algemeen vir seëvierende konings om ‘n gelofte-ooreenkoms aan te gaan met die mense van die volk wat oorwin was. Die hele begrip van ‘n gelofte was dus welbekend in hierdie tyd. Maar God se gelofte met Israel was anders. Die inhoud was nuut vir die mense van daardie tyd, en vir die mense van alle tye. Ons besef selfs vandag nog nie die volle omvang van die gelofte nie.

 

Die Hebreeuse woord hesed word gebruik om die inhoud van God se gelofte te beskryf – dit wat God vir Israel doen en deur Israel vir die hele wêreld. Dit is ook wat God verwag Israel moet doen. Die woord beskryf God se liefde en lojaliteit binne die gelofte en is daarom buite ons beperkte menslike begrip. Ten spyte van probleme met die vertaling van sekere “gelofte-woorde” ontdek ons die basiese waarheid van genade: God het eerste opgetree. God het sy volk gered, selfs voor hul nog kon vra. Geen psalmis smeek God vir redding nie. Wat hul wel dikwels doen, is om vir vergewing vir hul opstand teen God en sy wil te smeek. Hy smeek vir geloof of vir hoop of vir ‘n dieper bewustheid van God se genade. Praat hy uit dankbaarheid en liefde doen die psalmis dit met die volle wete wat God reeds vir hom gedoen het. Hierdie psalmdigters het geweet dat die offers van bulle en bokke deur God aan hul gegee is om hul op te voed in die ware betekenis van offer, ‘n optrede uit die hart van die mens.