1

Die Psalms: Inleiding (6)

 

The test of liberality is not what is given, but  what is left (William Kelly).

 

Die Psalms: Inleiding (6)

Die psalms kan beskou word as die hart van die Ou Testament en kan gesien word as ‘n samevatting en uitdrukking van die Ou Testamentiese teologie. Die psalms is nie deur Griekse denke beïnvloed nie, alhoewel party psalms hersien is in die tyd van Sokrates en Plato. As ons die psalms interpreteer mag ons nie Plato se filosofiese idees teruglees in die psalms nie. Alle Griekse denke was dualisties waar elke aspek van die lewe in twee verdeel is: hemel en aarde, liggaam en siel, liefde en seks, ens. Die Hebreeuse denke daarenteen was een. Jeremia praat van die skepping as ‘n geheel. Natuurlik kon ‘n mens praat van hemel en aarde, maar vir die Jood was hul slegs twee kante van dieselfde muntstuk. Vir die Jood was/is die siel nie iets wat tydelik in die liggaam gewoon het nie (soos die Grieke geglo het nie). Hul het geglo in die geheel. Dit is hierdie “geheel” wat die voorwerp van God se liefde is. Ons moet baie versigtig wees om nie tipiese Griekse idees in ons interpretasie van die psalms te dra nie – redding van siele, die onsterflikheid van die siel, ens.

 

Die gevolg van hierdie siening is duidelik in die regeringsvorme. Die Griekse “demokrasie” het werkers en vroue uitgesluit – dit was beperk tot die hoë sosiale vlakke. In Israel het elke dorpie sy “regter/ouderling” gekies. Hy het by die hek gesit en reg gespreek. Hy moes dit op so ‘n wyse doen dat niemand – ook vroue, slawe en vreemdelinge – benadeel word nie. Slawe is na ses jaar vrygelaat en het ‘n bonus ontvang. Drie maal per jaar, tydens die groot feeste, moes hierdie “regter” na Jerusalem gaan. By hierdie geleenthede het hy saam met sy mede-regters in ‘n “parlement” gesit en die koning geadviseer oor alledaagse aangeleenthede wat die mense geraak het. Ons lees dat ‘n groot aantal van hierdie “regters” uit ballingskap teruggekeer het. Daar het hul waarskynlik as verteenwoordigers van die volk opgetree, al was daar geen koning nie. As ons in die psalms lees van regstoepassing deur die koning moet ons altyd die demokratiese struktuur agter die koning in gedagte hou.

 

Die psalmdigters was wel deeglik bewus van ‘n duidelike skeidslyn – nie tussen liggaam en siel nie, maar tussen goed en kwaad. God voer oorlog teen hierdie kragte van die bose. Hy word selfs as ‘n krygsman beskryf. Om God se doel te bereik – die verlossing van alle mense – moet bloed gestort word. God se mense moet bereid wees om saam met Hom te deel in die gevare van hierdie oorlog. As hul nie bereid is om hul deel van die pyn en lyding te dra nie, sal God, as een van die Vennote in die gelofte, self hul deel aan hul opdra. Dit is slegs deur pyn en lyding, gedra in liefde, dat God se koninkryk na die aarde kan kom. Daarom word God in die psalms nie alleen as Skepper nie, maar ook as Redder, gehuldig.