Die Rol van die Vader, Seun en Heilige Gees?

Die Rol van die Vader, Seun en Heilige Gees? – Kobus Kok

ʼn Leser vra:

Wat is die rol van God die Vader in die gelowige se lewe vandag? Wat is die rol van God die Seun in die gelowige se lewe vandag? Wat is die rol van God die Heilige Gees in die gelowige se lewe?

Antwoord:

Dr Kobus Kok antwoord:

Hierdie vraag roep eintlik na ʼn omvattende bespreking – meer as wat ek in die toegelate 800 woorde van die artikel kan bespreek. Daarom sal die inligting so kernagtig moontlik en in breë lyne aangebied word.

God, die outeur van die mens-verhaal, die verbond en nog baie meer

Die Bybel vertel mos die groot verhaal van God, die Vader – die Skepper van die Ganse aarde, (Gen 1-2), die een wat ʼn verbond/ooreenkoms met Abraham en sy nageslag kom sluit het (Gen 12), die God wat soos ʼn Vader sy kinders beskerm (Ps 121) maar ook eendag soos die groot regter oor die wêreld gaan oordeel (2 Kor 5:10). Maar tussen die skepping en die eindtyd, staan die groot verhaal Jesus. Dit vertel ook die verhaal van die Vader wat so na die wêreld gekyk het en gesien het dat die hele wêreld vol sonde en korrupsie is (Gal 3:22), eintlik slawe is van sonde en afskuwelike dinge  wat nie net ʼn wig tussen God en mens onderling veroorsaak nie, maar ook ware lewe en wysheid kom steel (kyk Josephus in boek 4 Hoofstuk 8 oor Moses se toespraak aan Israel). Juis om hierdie rede het die Vader sy Seun gestuur (Joh 3:16) om ons mense te verlos van ʼn doodsbestaan, sodat ons deel kan kry aan lewe (vgl. Joh 5:24) en gered sal word as die groot oordeeldag van God gaan plaasvind (Kyk 2 Kor 5:10). Bogenoemde vorm dit wat ons die meta-narratief van die Bybel noem. Myns insiens is Johannes se evangelie die beste voorbeeld waarin die rol van die liefdevolle Vader, die Seun en die Heilige Gees die beste vertel word. Kom ons kyk dan na Johannes – die evangelie van die Lewe.

Rol van die Vader: Die groot Koning

In Johannes is God se rol die van die Vader, die Groot Koning (Lees gerus prof Jan se boek “Family of the King, 2000 – uitgegee deur Brill) wat die aarde geskep het en ook ʼn plan gehad het met die herskepping van die aarde – met ander woorde om nuwe lewensmoontlikhede te skep (Joh 10:10).  Die Koning is die een wat vanuit sy troonkamer regeer (kyk Openb 4). Hy is die een met absolute mag, en die een wat totaal in beheer is. Een dag het hy so na die wêreld gekyk, soos ons hier bo gesê het, en gevoel dat hy ʼn plan wil maak om die wêreld te red wat geestelik dood is (Joh 5:24) en hom nie meer ken nie (Joh 7:28; 8:19). As Koning, rig hy toe die groot bevel uit en stuur sy Seun na die aarde (Joh 3:16). Hy het egter nie net die Seun sommer net gestuur nie, maar hy was teenwoordig by die Seun en het die Seun alles gewys wat die Seun moet doen (Joh 5:20) en hom nooit alleen gelos nie (Joh 8:29). As Koning, wat eintlik die enigste een is wat die mag het om lewe te gee en te oordeel, het hy die mag om te oordeel en om lewe te gee oorgegee aan sy Seun (Kyk Joh 5:30). Tog is die oordeel van die Seun in totale ooreenkoms met dit wat die Vader sou oordeel. Johannes 10:30, wat gaan oor Jesus oor die goeie herder, stel dit duidelik dat die Vader en die Seun eintlik een is. Wie die Seun sien, sien dus die Vader.

Die rol van die Vader in ʼn neutedop:

Hy is die Groot Koning (Openb 4), die Skepper van die aarde (Gen 1/Joh 1)

Hy is die een wat die verbond met Abraham en sy nageslag gesluit het (Gen 12)

Hy is die beskermer van Israel en sy kinders (Ps 121)

God is totaal in beheer van alles – ook jou lewe (Openb 4)

Hy is die Een wat die wêreld, selfs sy vyandige skepsels liefhet (Joh 3:16)

As liefdevolle Vader met plan, het hy besluit om die wêreld te red en sy Seun te stuur (Joh 3:16)

Die rol van Jesus, die Koning se gestuurde Seun

In Johannes is dit duidelik dat die Vader die Seun gestuur het met ʼn spesifieke doel, en dit is sy primêre doel – naamlik om God en Sy wil uit te lê vir mense (Joh 1:18), sodat hulle kan glo (Joh 3:16) en uiteindelik die ware, ewige lewe kan ontvang en nie verlore hoef te gaan nie.

 

In Joh 12:44 lees ons: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. 45En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. 46Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. 47En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. 48Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel. 49Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. 50En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken. Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het.”

 

Die rol van Jesus is dus dat hy niks anders is nie as ʼn beeld van God – diegene wat Hom sien, sien die Vader. Uiteindelik is die rol van Jesus om die hart en wil van God aan mense te openbaar (Joh 1:18). Johannes het egter mooi beelde aangewend om te wys wie Jesus is. Ons noem dit die sogenaamde 7 “Ek is” uitsprake. Uit die “Ek is” uitsprake kan mens dan ook die rol van Jesus aflei:

 

Jesus is die brood van die lewe (Joh 6:35) – “Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.”

Jesus is die lig vir die wêreld (Joh 8:12; 9:5) – “Ek is die lig vir die wêreld Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”

Jesus is die (enigste) ingang (Joh 10:7-8) – “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word.

Jesus is die goeie herder (Joh 10:11)  “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”

Jesus is die opstanding en die lewe (Joh 11:25) “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie.

Jesus is die weg, die waarheid en die lewe (Joh 14:6)- “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken.

Jesus is die ware wingerdstok (Joh 15:1, 5) –  “Ek is die ware wingerdstok en my Vader is die boer. Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af; maar elkeen wat vrugte dra, snoei Hy reg, sodat dit nog meer vrugte kan dra. 3Julle is alreeds reg gesnoei deur die woorde wat Ek vir julle gesê het. 4Julle moet in My bly en Ek in julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.5“Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. 6As iemand nie in My bly nie, word hy weggegooi soos ‘n loot en hy verdroog. Die mense maak sulke lote bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. 7As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 8My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

 

Op aarde was Jesus die verteenwoordiger, die beeld van God wat met mense gepraat het en hulle vertel het van God se koninkryk en wat hulle gewys het hoe om ʼn lewe te leef wat God eer. Maar daar sou ook ʼn tyd kom dat Hy moes sterf, moes opstaan en dan weer terug gaan na die huis van sy Vader. In Johannes 13, nadat Jesus sy dissipels se voete gewas het, se hy vir hulle: “3My kinders, Ek is nog net ‘n klein rukkie by julle. Dan sal julle My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek nou vir julle ook: Waar Ek heen gaan, kan julle nie kom nie.” Maar kort daarna, in Johannes 14, verduidelik Jesus vir hulle iets verder rondom sy rol: “Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” Ons wat Johannes lees, weet dat Jesus hier verwys na sy dood aan die kruis wat binnekort sou plaasvind en na sy hemelvaart, waarna hy nie meer by hulle sal wees nie. Die dissipels in Johannes het dit nog nie verstaan nie. Hulle sou dit eers na die opstanding en hemelvaart regtig verstaan (Kyk Joh 2:22).

Die rol van die Heilige Gees – die een wat ons lei as Jesus nie meer op aarde is nie

Nadat Jesus vir die dissipels in Johannes 14:15-31 gesê  het dat hy binnekort weggaan en nie meer by hulle gaan wees nie, troos hy hulle met ʼn boodskap waarin hy die koms van die Heilige Gees voorspel. Johannes 14:15 en verder lui:

15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer. 16Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ‘n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, 17naamlik die Gees van die waarheid. Die wêreld kan Hom nie ontvang nie, omdat hulle Hom nie sien en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

18“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. 19Nog net ‘n klein rukkie, en dan sien die wêreld My nie meer nie, maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Daardie dag sal julle weet dat ek in my Vader is en julle in My en Ek in julle.

21“Wie my opdragte het en dit uitvoer-dit is hy wat My liefhet. En wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom openbaar.”

22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Hom: “Here, hoe kom dit dat U U aan ons gaan openbaar en nie aan die wêreld nie?”

23Jesus antwoord hom: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon. 24Wie My nie liefhet nie, neem my woorde nie ter harte nie; en die woorde wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het.

25“Dit sê Ek vir julle terwyl Ek nog by julle bly; 26en wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

 

Die rol van gelowiges as verteenwoordigers van Jesus

Dit is baie interessant om daarop te let dat Jesus, as verteenwoordiger van God, die een wat gestuur is deur die groot Koning om ʼn radikale verskil te maak op aarde, ook van my en jou verwag om net soos hy gestuurdes in die wêreld te wees. Die Heilige Gees is immers die een wat ons lei en die een wat ons toerus, soos ons dit dikwels by Paulus ook hoor (Kyk Gal 3:5). In Johannes 20:21 sê die verrese Jesus duidelik: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Net daarna, ʼn vers later, blaas Jesus dan oor die dissipels en hulle ontvang die Heilige Gees. Die ontvangs van die Heilige Gees en die Sending van die dissipels na die wêreld vind in dieselfde asem plaas. Dit is ook die geval in Handelinge as die dissipels in Handelinge 2 die Gees ontvang en kort daarna as gestuurdes die evangelie begin verkondig. Net so eindig Jesus se rol nie – inteendeel – dit vloei oor in die harte van die kinders van die Koning – hulle wat doen wat hulle Meester sê en leef wat hulle glo!

 

Outeur: Dr Kobus Kok