Die seënuitsprake van Jesus (12)

Die seënuitsprake van Jesus (12)

In die begin van die bergrede lees ons dat Jesus teen die berg opgegaan het, gaan sit het en Hy het hulle geleer:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf.

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Matteus 5:3 – 10 (Nuwe Testament en Psalms , Direkte Vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (2014).

Colin S. Smith het ‘n baie interessante boek geskryf oor die seënuitsprake van Jesus: Momentum -Pursuing God’s Blessings Trough the Beatitudes (2016).  Die boek sê wat ons kan doen om die momentum in die Christelike lewe wat ons almal soek, te kan kry. Ek gaan ‘n hele paar blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.

Ons is nog besig met die derde seënuitspraak. Vandag gaan ons na strategieë kyk om sagmoedigheid te kweek. Die uitdaging om beheerde krag te beoefen, is duidelik. Ons moet nou ondersoek hoe ons sagmoediger kan word.

 

  1. Temper jou verwagtings van ander

Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is (Psalm 103:14). As God ons broosheid in gedagte hou, moet ons ook die broosheid van ander onthou. Dit sal ons verwagtings van ander temper. Dit sal jou in sagmoedigheid laat groei.

 

  1. Vind jou vreugde in bewyse van God se genade

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8)

Om te dink aan dit wat lofwaardig en prysenswaardig is, help om frustrasie en teleurstelling te oorkom. Christene is soos huise in verskillende stadia van ontwikkeling in sommige sien jy die vorming van ‘n weerspieëling van Jesus Christus. In ander het die werk nog skaars begin. God is nog besig om ‘n fondament te grawe. Verbly jou daarin. ‘n Begin is gemaak en ons kan bly wees in elke stadium van vooruitgang. Vind vreugde in wat God in die lewe van ander doen – al is dit nog maar klein. Nie een van ons is nog wat ons sal wees nie. In Christus sal ons eendag volledig wees.

 

  1. Onthou hoeveel jy al vergewe is

Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is (2 Petrus 1:9). As Petrus ‘n lys maak van dinge wat daarop dui dat jy groei in jou pad saam met jesus Christus praat hy van dinge soos selfbeheersing. volharding en liefde (2 Petrus 1:6 – 7). As jy onthou hoeveel jy vergewe is, sal jy in sagmoedigheid groei. If God should be as angry with me for every provocation as I am with those around me, what should become of me (Matthew Henry). As jy weet dat jy baie vergewe is, sal jy baie liefhê en in sagmoedigheid groei.

 

  1. Moenie te gou oordeel nie

Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19). Dikwels sê ons iets impulsief net om later daaroor spyt te wees. Spreuke sê vir ons: Iemand wat in ‘n regsaak eerste praat, is altyd onskuldig,  maar dan kom iemand anders en ondervra hom (Spreuke 18:17). Ons hoor dikwels ‘n storie en dink dit is reg net tot ons later die ander kant ook hoor. Little pots soon boil over (Spurgeon). Sommige mense hoor ‘n skinderstorie en kook gou oor van verontwaardiging net om later te hoor die storie is nie waar nie.

 

  1. Maak vriende met sagmoedige mense

Moenie maats maak met ‘n opvlieënde mens nie, moenie saamgaan met een wat kort van draad is nie: dalk leer jy sy maniere aan en beland jy in lewensgevaar (Spreuke 22:22 – 23). Jy mag  soms verplig wees om met hulle te werk, maar jy moenie vriende maak met hulle nie. Maak vriende met sagmoedige mense, want hulle sal jou help om in sagmoedigheid te groei.

 

  1. Put vreugde uit die blydskap en suksesse van ander

Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur (Romeine 12:15). Dit is dikwels makliker om te treur met mense wat treur as om bly te wees met mense wat bly is. You have made me feel worse than I was before by telling me that there is somebody worse even than I am (Spurgeon). Die sagmoedige man is gelukkig dat daar ander mense is wat bly is. Hulle blydskap is ook sy blydskap. Groei in sagmoedgheid en jy sal die impulse van jaloesie en selfbelang oorwin.

 

  1. Onderskei God se hand in die werk van jou vyande

Moet Ek dan nie die lydensbeker  drink wat die Vader My gegee het nie (Johannes 18:11)

Wat het Jesus so sagmoedig in sy lyding gemaak? Hy het nie na Judas of Pilatus gekyk nie, maar na sy Vader. Jesus sien die hand van God selfs in die optrede van sy vyande. Hy sien sy lyding as die beker wat sy Vader vir Hom gegee het.

 

As jy jou lewe sien in wat ander aan jou gedoen het, sal jy teleurgesteld, kwaad, gefrustreerd wees. In Jesus sien ons iets anders ten spyte van alles wat sy vyande Hom aangedoen het. Hy praat met die beheersde krag van sagmoedigheid. En vra sy Vader om sy vyande te vergewe, want hulle weet nie wat hulle doen nie.

 

  1. Loop in daaglikse gemeenskap met Jesus Christus

Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart. En julle sal rus kry vir julle gemoed (Matteus 11:29).

Jesus Christus is sagmoedig. Ons leer sagmoedigheid as ons saam met Hom in die juk trek. Niemand word sagmoedig gebore nie. Dit is ‘n deug wat ons moet leer en ons leer dit by Jesus.

 

  1. Verwag alles wat God belowe het

Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.(Matteus 5:5). Ontvang is ‘n wonderlike woord. Dit  vertel van ‘n verhouding waarin iets wat aan die een behoort aan jou gegee word. Toe God jou in sy familie aangeneem het, het Hy jou in sy testament geplaas. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word (1 Petrus 1:4). As God die nuwe hemel en nuwe aarde skep, sal Hy dit aan die sagmoediges gee. Jesus haal hier Psalm 37:11 aan: dié wat nou verdruk word, sal die land besit. In Jesus se tyd was die beloofde land onder die Romeine. Jesus roep die mense op tot kalmte, want party wou die juk van Rome met geweld afgooi.

 

Psalm 37 begin so: moet jou nie ontstel oor skelms nie en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou. Eien jou erfenis vir jouself toe. Alles behoort aan julle, maar julle behoort aan Christus en Christus aan God (1 Korintiërs 3:23). Gryp dit vas en jy kom los van jaloesie, vrees, selfbejammering en haat..

 

  1. Vra God om vir jou sagmoedigheid te gee

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt (Jakobus 1:5).Later beskryf Jakobus hierdie wysheid: Maar die wysheid wat van Bo kom is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam vol medelye, goeie vrugte, onpartydig, opreg (Jakobus 3:17).

 

As jy God nader en vra dat Hy jou in sagmoedigheid moet laat groei, kan jy verseker weet dat Hy jou sal help