Die seënuitsprake van Jesus (8)

image_pdfimage_print

Die seënuitsprake van Jesus (8)

In die begin van die bergrede lees ons dat Jesus teen die berg opgegaan het, gaan sit het en Hy het hulle geleer:

Geseënd is dié wat geestelik arm is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf.

 Geseënd is dié wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.

Geseënd is die barmhartiges, want hulle sal barmhartigheid ontvang.

Geseënd is dié wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.

Geseën is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

Geseënd is die mense wat vervolg word ter wille van geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.

Matteus 5:3 – 10 (Nuwe Testament en psalms , Direkte Vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika. (2014).

Colin S. Smith het ‘n baie interessante boek geskryf oor die seënuitsprake van Jesus: Momentum -Pursuing God’s Blessings Trough the Beatitudes (2016).  Die boek sê wat ons kan doen om die momentum in die Christelike lewe wat ons almal soek, te kan kry. Ek gaan ‘n hele paar blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Ons kom nou by die tweede ring van ons beeld aan: Geseënd is dié mense wat treur, want hulle sal die aarde erf. Dit gaan oor die krag van Geestelike treur. Dit lyk nie baie belowend nie. Jesus praat hier van ‘n tipe treur wat ‘n seëning is. Jy moet die kuns van geestelik treur leer as jy wil vooruitgaan op die Christelike pad. Wat is hierdie treur wat Jesus sê geseënd is? Daar is drie tipes treur en ons moet tussen hulle onderskei.

  1. Natuurlike treur.

Dit is treur as gevolg van die verlies aan ‘n geliefde. Hierdie tipe treur is natuurlik en reg. Jesus het by die graf van sy geliefde vriend Lasarus getreur (Johannes 11:35). Dit is nie waarvan Jesus in die seënuitsprake praat nie. Hy praat hier van eienskappe wat ons pro-aktief moet najaag. Dit is toestande van die hart wat met seën gelaai is.

 

  1. Sondige treur

Dit is ‘n verlange na iets wat God nie vir jou gegee het nie. God het nooit bedoel dat jy dit moet hê nie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is koning Agab (1 Konings 21). God het aan hom ;n paleis en koninkryk gegee. Buite die grense van die paleisgronde was daar ‘n wingerd wat aan ‘n arm man, Nabot, behoort het. Agab het die wingerd begeer. Nabot wou nie sy wingerd verkoop nie dit was erfgrond wat die Here aan sy voorouers gegee het. Uiteindelik word Nabot vermoor. Dit is nie wat die Here bedoel het toe Hy gesê het dat die mense wat treur geseënd sal wees nie.

 

  1. Ware geestelike treur

Dit is treur oor ons sondes teenoor God. Dit lei tot berou.  Al het ek julle ook deur my brief hartseer gemaak, is ek nou nie daaroor jammer nie. … nou is ek egter bly, nie omdat ek julle vir ‘n kort rukke hartseer gemaak het nie, maar omdat ek julle so hartseer gemaak het dat julle tot inkeer gekom het (2 Korintiërs 7:8 -9). Geestelike treur is iets wat Christene vandag moet herontdek. Dit is die sleutel om die sogenaamde gewoonte-sondes aan te pak – jy is verslaaf aan ‘n sekere soort gedrag. Berou in die Bybel gaan altyd met ‘n verandering van rigting gepaard. Jesaja beskryf ware berou soos volg:

Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mense sy slegte planne. Hy moet Hom tot die Here bekeer, moet hom tot ons God bekeer.. Hy vergewe altyd weer (55:6 – 7).  Om die Here te soek beteken ons doen afstand van dinge en gedagtes wat Hom nie eer aandoen nie, En jy keer na Hom terug. God roep ons op tot ‘n beslissende verandering van gedrag en rigting. Nogtans die hegte fondament, staan vas met die woorde daarop gegraveer; “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” en elkeen wat sê dat Hy aan die here behoort moet wegbreek van die ongeregtigheid.” (2 Timoteus 2:19). Geloof en berou is twee kante van dieselfde muntstuk en hulle hoort bymekaar. Vandag is daar baie mens wat sê dat hulle Jesus aanvaar het, sonder dat hulle die nuwe lewe in Jesus Christus ervaar het. Hulle voel nie arm van gees nie, hulle treur nie oor hulle sondes nie, hulle onderwerp hulle nie aan God nie. Hulle leef op ;n afstand van God se seëninge. Om geloof te vervang met die aanvaarding van sekere waarhede is ‘n ramp vir die Christendom in ons tyd.

 

 

 

image_pdfimage_print