Die Seun van God

image_pdfimage_print

Die Seun van God – Kobus Kok

Theodor vra: 

Kan veralgemenings gemaak word oor die evangelies en Paulus se gebruik van “Seun van God”? Is dit ook ‘n koninklike titel ter bevestiging van Christus se volmaakte koningskap (1Tim6:15)? Aanloop: In Egipte en Mesopotamie is “seun van god(e)” ook gebruik. In die Romeinse tydperk is soms na die keiser verwys as “seun van god” Vir die Israeliete was dit ‘n titel wat aangedui het dat God self die koningskap bevestig – 2Sam7:14; 1Kron17:13; Ps89:26-29. (sien ook:koning as gesalfde/messias:1Sam2:10; 2Sam23:1; Ps2:2//koning as priester:Gen14:18; Ps110:4; 2Sam6:14-18; 1Kon8:55//koning as regter:Ps72:1-4; Ps45:7; 1Sam8:5(Engels) 2Sam15:2//koning as middelaar: 2Sam24:17; 1Kron21:16-17; 1Kon8:22-23; 2Kron6:12-42)

 

 

Antwoord

Prof Kobus Kok antwoord:

Die seun van God begrip, Koning en Messias staan in die Nuwe Testament in semantiese verband. Maar net so ook gedagtes soos Jesus as die Logos (Joh 1) en hoëpriester (Heb). Mens moet egter versigtig wees om te veralgemeen en eerder in diepte studie doen oor elke individuele NT skrywer wat elk vanuit hulle onderskeie perspektiewe vir die oorspronklike lesers ‘n perspektief op Jesus en sy betekenis wou gee. 

 

Die feit dat bepaalde mense “seun(s) van god” genoem is voor Jesus gebore was, is n historiese feit. Die gedagte wat daardeur gekommunikeer was, was dat die betrokke mens unieke eienskappe (woorde, dade, karakter, doel) vertoon wat alleen sy oorsprong te danke aan die god(heid) kan hê. 

Die Christelike geloof is histories ingebed in ‘n bepaalde kulturele konteks met sy eie denkraamwerk. Alleen na mens se dood kan die impak van jou lewe en betekenis waarlik gesien word. Na aanleiding van mense se ervaring van die lewe, dood en opstanding van Jesus, is bepaalde reeds bestaande kategorieë op hom geprojekteer. Dink maar aan Thomas wat eers ná die opstanding van Jesus vir die eerste keer besef wie Jesus is en luidkeels verklaar dat Jesus Here (Kurios) en God (Theos) is. Eers na die opstanding het die dissipels die aardse optrede van Jesus geherinterpreteer en na waarde geskat (kyk Joh 2:21-22). Omdat alle betekenisvorming binne ‘n bepaalde historiese konteks ontstaan, en altyd vanuit en binne die denkraamwerk en kategorieë van die tyd, kon dit nie anders dat Jesus se betekenis uitgedruk geword het binne daardie raamwerk nie. Indien dit nie gebeur het nie, sou sy optrede geen betekenis vir die antieke mense ingehou het nie. So was daar byvoorbeeld vir eeue voor Jesus se geboorte reeds verwagtings dat die troon en heerskappy van Dawid herstel gaan word en dat ‘n sterk politieke verlosser (Messias) op die toneel sal verskyn. Die lewe, kruisdood en opstanding sou hierdie reeds bestaande politieke verwagting totaal omkeer en die gedagte van God se Geestelike Messias en Geestelike koninkryk vestig. 

 

Ten slotte: ons moet dus besef dat die betekenis van Jesus en die taal wat gebruik word om dit te beskryf, en selfs die name wat aan hom toegeken word, ‘n produk is van ‘n bepaalde historiese en kulturele konteks. Vandag kan ons steeds binne daardie kategorieë van Jesus praat indien ons die antieke wêreldbeeld verstaan, die betekenis daarvan begryp en dit binne die kerk as interpreterende gemeenskap so interpreteer.

 

Vir meer inligting, bestudeer gerus die boek:  Edward Schillebeeckx oor Jesus. Hy het n kort opsomming gegee van sy perspektiewe nav van sy twee groot Jesus boeke in die boekie Tussentijds verhaal over twee Jezus boeken, Bloemendaal Richard Burridge, Four Gospels, one Jesus

 

Skrywer: Prof Kobus Kok

 

image_pdfimage_print

You may also like...