Die skepping sug

image_pdfimage_print

 

Joy is the most infallible sign of the presence of God.” Leon Bloy (1846-1917)

 

Die skepping sug

Op een of ander stadium vra elke Christen of dit die moeite werd is om ‘n Christen te wees. In Romeine 8:18 – 25 antwoord Paulus hierdie vraag met ‘n onomwonde ja. Hy sê: Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Wat is hierdie heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek? Die skepping sien met gespanne afwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die hele skepping sal hernuwe, herstel en verlos word. Ons kindskap sal geopenbaar en erken word.

 

Ook sal ons as sy kinders gelykvormig wees  aan die beeld van sy Seun – net so heilig soos Hy is (8:29). Dit is wat heerlikheid is. Maar dit is nie die huidige posisie nie: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. Toe die mens in sonde geval het, deel die skepping in daardie val. Die natuur is nie wat dit behoort te wees nie. Dit is van ons, wat veronderstel is om in harmonie met die natuur te leef, vervreem. Die skepping is aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Maar hierdie verydeling gaan gepaard met ‘n belofte van hoop wat God gegee het. Daarom kan die skepping in hoopvolle afwagting wag.

 

Tans is die skepping nog verslaaf aan verganklikheid (vers 21). Dit is aan ‘n voortdurende siklus van dood en agteruitgang onderwerp. Die natuur is in pyn en lyding vasgevang: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

 

Maar dit is nie die laaste woord nie. Die skepping sal self ook bevry word … om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. In plaas van sugte sal daar vervulling wees. In plaas van pyn sal daar vreugde wees.

 

Dit is die toekoms waarna die skepping kan uitsien. Dit is Paulus se antwoord op die vraag of ons toekomstige heerlikheid die huidige swaarkry die moeite werd maak. Ons is nog nie daar nie, maar ons sal daar wees. Ons het die Gees ontvang … as die eerste gawe van God – die voorsmaak van dit wat sal kom, naamlik totale vryheid van die gevolge van sonde en die dood wat die Gees eendag aan ons sal gee. Dit gebeur as God ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (vers 23).

 

Ons weet dat ons nog nie is wat ons eendag sal wees nie. Ons het ook nie reeds alles wat ons eendag sal hê nie. Ons weet dat al ons beste dae nog voor ons lê en dat ons pynlike dae dan agter ons sal lê. Daarom, selfs tydens ons slegste dae weet ons: Dit is alles die moeite werd.

 

image_pdfimage_print