Was die skrywers mislei?

 

Ambroise Paré, die vader van die moderne Franse chirurgie: “Ek het sy wonde verbind, God het hom genees.”

 

Was die skrywers mislei?

Greg Gilbert het onlangs ‘n belangrike boek geskryf: “Why Trust the Bible?” Hierdie is vandag ‘n algemene probleem: Mense vertrou nie meer die Bybel nie. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Kan ons seker wees dat wat die skrywers neergeskryf het werklik plaasgevind het?

 

Een bekende siening was dat al die dissipels tegerlykertyd ‘n massa hallusinasie gehad het van ‘n opgestane Jesus en toe legendes geskryf het om die agtergrond in te vul. Volgens HAT is ‘n hallusinasie “die sien, hoor of andersins gewaar word van iets wat nie werklik aanwesig is nie.” Hallusinasies is gewoonlik persoonlik, intern en individueel. Normaalweg is hulle nie aansteeklik nie. As ons lees hoeveel verskillende groepe gerapporteer het dat hulle Jesus op verskillende tye en plekke gesien het, is dit duidelik dat ‘n massa hallusinasie net nie moontlik was nie.

 

Ander sê dat Jesus se dissipels aan ‘n patologiese wensdenkery gely het. Hulle kon nie die werklikheid van Jesus se dood aanvaar het nie en leef in ‘n fantasiewêreld. Hulle skryf stories wat vals is hieroor. Die dissipels sou nooit aan opstanding uit die dood gedink het nie, want destyds was opstanding ‘n teologiese konsep met ‘n baie spesifieke betekenis: dit was ‘n gebeurtenis wat sou gebeur as die dooies opgewek en saam met die lewendes voor die regterstoel van God sou verskyn. Opstanding voor die eindtyd was ondenkbaar. Hulle sou hulle hele wêreldsiening moes verander. Dit gebeur nie oornag nie, maar geleidelik.

 

Wat ons lees is dat sekere getwyfel het (Matteus 28:17). Toe die vroue by die dissipels kom en vertel dat Jesus lewe, het dit vir hulle na onsin gelyk en hulle het die vroue nie geglo nie (Lukas 24:11). Toe Jesus aan sy dissipels verskyn het lees ons: Hulle het geweldig geskrik en bang geword en gedink hulle sien ‘n gees (Lukas 24:37). Dan was daar Tomas wat geweier het om te glo voordat hy sy vingers in die spykermerke kon druk (Johannes 20:24 – 25). Die Bybel beskryf die dissipels se ongeloof as ‘n verleentheid. Deur die dissipels se weiering om te glo te beskryf, sê die Bybel dat ons hier beslis nie met wensdenkery te doen het nie.

 

‘n Verdere teorie is dat die mondelinge tradisie wat die skrywers gebruik het iewers langs die pad vervormd geraak het. Jesus sterf in ongeveer 33 nC en die vroegste evangelie verskyn in die omgewing van 60 nC. In die oordrag oor 27 jaar het daar foute ingesluip. Natuurlik het die skrywers van die mondelinge tradisie gebruik gemaak, maar Matteus, Johannes, Petrus, Jakobus en Judas was ooggetuies van baie van die dinge. As die mondelinge tradisie vervormd geraak het, sou hulle dit onmiddellik agtergekom het.

 

Nie een van die teorieë dat die skrywers mislei was, is aanvaarbaar nie. Maar was hulle nie dalk verward nie?