Die sonde wat nie vergewe kan word nie

image_pdfimage_print

“I have a friend who regularly reminds me that if you jump off the top of an 80-story building, for 79 stories you can actually think you’re flying. It’s the sudden stop at the end that always gets you.
 — Tom Friedman, New York Times, 15 Oktober , 2008

Die sonde wat nie vergewe kan word nie

Alles sal die mense vergewe kan word, al die sondige lastertaal wat hulle praat. Wie egter teen die Heilige Gees laster, word tot in ewigheid nie vergewe nie, maar bly ewig skuldig aan die sonde (Markus 3:28 – 29).

 Hierdie is ‘n stelling van Jesus wat baie Christene pla. Staan hierdie stelling nie in teenstelling met 1 Johannes 1:9 nie? Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. Wat is dan hierdie sonde wat nie vergewe kan word nie?

 

Lee Strobel (in sy Investigating Faith nuusbrief) het na hierdie vraag gekyk. Hy sê dat as jy bekommerd is dat jy dalk skuldig is aan hierdie sonde, is jy feitlik sekerlik onskuldig. Diegene wat skuldig is, sou nie omgee nie, want dit pla hulle nie – geen berou of jammerte nie.

 

Jesus praat ook in Matteus 12:31 – 32 oor hierdie sonde. Jesus praat hier nie met sy dissipels of die skare nie. Hy praat hier met die Fariseërs. Hulle het persoonlik gesien hoe Hy kort vantevore ‘n man wat blind en stom was – ‘n man in die mag van ‘n bose gees – volledig en onmiddellik genees het (12:22). In plaas daarvan dat hulle sy goddelike mag erken, beskuldig hulle Hom daarvan dat Hy met die aanvoerder van die bose magte – Beëlsebul – saamwerk.

 

Hierdie is nie blinde onkunde nie, maar doelbewuste verwerping. Hulle weier om te glo, al weet hulle wat die waarheid is. Is dit nie wat Jesus sê as Hy van die sonde wat nie vergewe kan word, praat nie? Jesus praat hier met mense wat op die rant van ‘n ramp staan, want hulle wou nie hulle harte versag nie.  Laster teen die Heilige Gees is dus nie ‘n eenmalige oortreding nie – dit is ‘n voortdurende gesindheid van opstand. Dit kan nie vergewe word nie, want dit is iets wat doelbewus en onversetlik gedoen word.

 

As jy ‘n Christen is, moet jy jou nie bekommer of jy dalk onwetend hierdie onvergeeflike sonde gedoen het nie. As jy hierdie sonde gedoen het, sou jou gewete jou nie gepla het nie – jy sou jou geensins bekommer het nie.

 

image_pdfimage_print