Die stryd vir jou verstand (2)

image_pdfimage_print

Even if religion makes no sense to you, you need to make sense of religions to make sense of the world – Stephen Prothero

Die stryd vir jou verstand (2)

Ons het laas na die stryd om ons verstand gekyk. Nou gaan ons na vier beginsels kyk hoe om hierdie stryd te wen.

1.Moenie alles glo wat jy dink nie

Die wêreld plaas allerhande suggesties in ons verstand. Baie van hulle is vals. Ons word met al hierdie vals idees gebombardeer. Satan prop ook gedurig allerhande idees in ons koppe. Wees tog vir my ‘n borg, o God! Wie anders kan vir my instaan? U het die verstand van my vriende vir rede gesluit, moenie dat hulle seëvier nie (Job17:3- 4). Ons verstand is stukkend as gevolg van die sonde. Ons het ook die vermoë om vir onsself te jok, want ons is kinders van die duiwel, en hy staan nie aan die kant van die waarheid nie (Johannes 8:44). As hy jou kan oortuig om jou brein te glo, kan hy jou oortuig om sonde te doen. Ons is nie eg voordat ons nie in die openbaar kan erken hoe vals ons werklik is nie.

 

2.Bewaar jou verstand van rommel (garbage)

Garbage in; garbage out. ‘n Verstandige mens is op soek na kennis; ‘n dwaas voed homself met dwaasheid (Spreuke 15:14). Sekere dinge wat jy in jou brein inlaat is soos voedsel – dit maak jou slimmer en meer volwasse. Sekere dinge is nie goed of sleg vir jou brein nie. “Alles is my geoorloof.” Ja, maar nie alles is heilsaam nie (1 Korintiërs 6:12). Hierdie dinge is nie verkeerd nie, maar ook nie noodsaaklik nie. God verwag van ons gehoorsaamheid, maar ook vrugte: Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou (Johannes 15:16). Jy kan nie sommer alles in jou brein inlaat en dink dit gaan ‘n positiewe verskil maak nie. Maar hoe kan ons ons verstand beskerm? In Filippense 4:6 – 8 gee Paulus vir ons raad. Hy noem twee faktore van groot belang:

  • Gebed. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. Jy moet as ‘t ware in ‘n lopende gesprek met God wees.
  • Gekonsentreerde fokus. Waarop? Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. Oppas: ons kan nie net weerstand bied teen dit wat verkeerd is nie – ons moet dit verplaas met dit wat goed is.

Hoe weet ons dat die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou? As ek ophou om te probeer verstaan wat God doen wat Hy doen – as ek Hom vertrou.

3.Moet nooit ophou leer nie

Ons moet lewenslange studente bly. Om ‘n dissipel te wees, moet jy ‘n student wees – jy moet aan die voete van jou Rabbi sit. ‘n Oorwoë mening is diep waters; ‘n verstandige mens skep daaruit (Spreuke 20:5). Jy kan enigiets leer as jy net die regte vrae vra. Hoe brei jy jou kennis uit? Vrae. Vrae. Ander weet altyd iets wat jy nie weet nie. As jy werklik wil leer, het jy een eienskap nodig: nederigheid. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help (1 Petrus 5:5); Wyse manne loop nie te koop met hulle kennis nie (Spreuke 10:14). Wees ywerig om te leer en wees gewillig om te luister. Kry vir jou ‘n biblioteek.

4.Laat God jou verbeelding rek

Alles wat in die lewe gebeur, begin met ‘n droom. God het aan ons die gawe gegee om iets te verbeel voor dit ‘n werklikheid is. Voor die kunstenaar sy kunswerk skilder, het hy dit wat hy wil skilder in sy verbeelding gesien. Daar begin niks betekenisvol voor iemand begin droom nie. Hierdie droom of visie kom van God af. Skryf dit neer, want as jy skryf is jy meer presies. Einstein het gesê dat verbeelding beter as kennis is, want verbeelding het geen grense nie. God kan nie jou drome vervul as jy geen drome het nie; God kan jou nie help om jou doelwitte te bereik as jy geen doelwitte het nie. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20).

Verstand is belangrik – baie van ons hou van die wêreld van gedagtes en idees. Ons sit vas in ons studeerkamers. Ander mense is doeners. Denkers moet meer doen; doeners moet meer dink. Ons het nie ‘n keuse tussen die twee nie – albei moet gedoen word.

image_pdfimage_print

You may also like...