Die Taak van Bybelse Argeologie

Die Taak van Bybelse Argeologie – Daan Pienaar

Ons let op die taak van Bybelse argeologie. Bybelse argeologie wil nie die Bybel as waar of onwaar bewys nie, maar wil verseker dat ons die Bybel beter verstaan. Dit gee vir ons die agtergrond van die geskiedenis en kultuurlewe waarbinne die Bybelse verhaal afspeel.

Om tot ‘n antwoord te kom oor die taak van die Bybelse Argeologie is dit goed om aan te dui wat dit nie is nie:

Onder sommige vakkundiges is daar diegene wat die Bybel as waar wil bewys en op selektiewe wyse resultate van die argeologie gebruik om ʼn bepaalde standpunt te probeer bevestig.

Wat is die taak dan?

  •          Dit wil die Bybel nie bevestig of verdedig nie maar wil dit toelig en bydra tot ʼn beter verstaan daarvan.
  •          Dit voorsien ook ʼn fisiese konteks in tyd en plek wat identies is met die omgewing van die mense wat aan ons die Bybel nagelaat het
  •          Dit wil uit die studie van die antieke kultuurreste uitvind hoe die skepper daarvan gedink het en hoe hy sy idees tot uitdrukking gebring het in die organisering en funksionering van sy samelewing.
  •          ʼn Volgende vraag wat aan die orde gestel behoort te word, hang saam met die aard van argeologie. Omdat dit ‘n wetenskap is wat tipiese kultuurreste ondersoek, het dit ‘n noue verband met die geskiedenis. Die kultuurreste wat ter sake is, is ‘n uitdrukking van die wyse waarop die mens die natuur omvorm het tot kultuur. Klei word byvoorbeeld gevorm tot ‘n pot wat in ‘n bepaalde kulturele milieu ‘n spesifieke vorm aanneem. Argeologie behoort daarom ‘n spesifiek historiese belangstelling te vertoon, ondanks die aanwending van natuurwetenskaplike metodes en tegnieke.
  •          ‘n Volgende vraag wat gevra behoort te word is: wat wil ons bereik met die beoefening van argeologie? Die antwoord setel sekerlik daarin dat ons die motief vir die beoefening daarvan moet identifiseer. Aangesien ons in Bybelkunde ons op die Bybel rig, sal die aard daarvan die inhoud bepaal aangesien dit ten doel het om meer daaromtrent uit te vind.
  •          C.F. Keil, wat reeds in 1887 hieroor geskryf het, se taakomskrywing van Bybelse Argeologie is steeds relevant: Argeologie het ‘n noue verband met die geskiedenis: geskiedenis beskryf die groei en vordering van ontwikkeling terwyl die argeologie die feitelike toestand wat die ontwikkeling bereik het, beskryf. Die bepaalde vorms en manifestasies waarin die lewe in sy verskillende stadiums van ontwikkeling uitdrukking vind, is ter sake. Hierin vul argeologie en geskiedenis mekaar aan.
  •          Sir Frederick Kenyon is op sy beurt van mening dat die resultate van die argeologie bitter min direkte verbande met die teks van die Ou Testament het. Dit bied wel ‘n verrykte raamwerk daarvoor en het daardeur grootliks bygedra tot die beter verstaan daarvan.
  •          H.F. Hahn het op sy beurt die taak van die Bybelse Argeologie soos volg omskryf: “… the real function of archaeology in relation to biblical studies is not confirmation, but illumination. The goal is to understand the Bible, not to defend it. Archaeology best fulfills its function when it enlarges our knowledge of the background of history and cultural life against which the biblical story was played.”
  •          Argeologie moet voorts behulpsaam wees met die eksegetiese taak van die vakkundige deur meer inligting te bied oor o.a. die volgende:

o   Die verskillende stede en streke van die verskillende volke wat hier gewoon het (lande en plekke in die Bybel vermeld).

o   Die geografiese bou en klimaatsomstandighede van die gebiede deur die volkere bewoon.

o   Kultiese gebruike en handelinge wat vanuit die materiële kultuurreste merkbaar is.

o   Die wyse waarop die mense wat in die Bybel ter sake is, geleef het.

 

5.    Bronne vir die Bybelse Argeologie

  •          Die Bybel self
  •          Buite-Bybelse geskrewe bronne
  •          Resultate van opgrawings

 

Volgende keer kyk ons na sekere praktiese aspekte van die beoefening van argeologie. 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar