Die tien gebooie (4)

The saints are like to iron, which by use is somewhat worn and diminished, but by lying still, unoccupied, is eaten more with rust and canker.  — Heinrich Bullinger

 

Die tien gebooie (4)

[Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan Eksodus spandeer. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in Exodus” (2014) vanTony Merida gebruik.]

Ons kom nou by die tien gebooie self. Ons gaan hulle nie volledig behandel nie – ‘n volledige reeks hieroor is op die webblad beskikbaar

 

Vir elke gebod moet ons twee vrae vra:

  • Wat beteken die gebod?
  • Wat leer die gebod ons van God?

 

  • Die Eerste Gebod

Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Hierdie gebod aanvaar dat daar net een ware God is. Dit hanteer die probleem van die menslike hart: afgodery. Almal aanbid iemand of iets. As ons daardie iemand/iets in God se plek plaas, is dit afgodery. Afgode verwys nie net na die heidense afgode nie, maar ook na afgode in die harte van mense. Hulle sal ons nooit bevredig nie; net God kan die menslike hart bevredig. Wat leer ons van God in hierdie gebed? Hy is ‘n jaloerse God – Hy deel nie sy heerlikheid met ander nie.

 

  • Die Tweede Gebod

Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.

Beelde is mensgemaakte voorwerpe; hulle is onpersoonlik, kragteloos – hulle kan nie hoor of praat nie; hulle is dood. Weereens word God se jaloesie en oppermag hier beklemtoon. Hier kry ons ook vermelding van ‘n liefdevolle God. ‘n Liefdevolle God is die fondament waarop alles anders gebou word.

 

  • Die Derde Gebod

Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie.

Die fokus in hierdie gebod is die Naam van die Here. Dit het dus te doen met alles wat met sy Naam verband hou. God moet gewaardeer word; Hy is die hoogste eer waardig. God het self sy Naam vir Hom gegee. Jy mag sy Naam nie misbruik nie. Dit beteken nie net om nie God se Naam te gebruik nie. Mense wat sê dat hulle sy volgelinge is, moet sy Naam verheerlik deur te leef op ‘n wyse wat Hom eer. Dit beteken ook ons Mag nie God se Naam valslik of betekenisloos gebruik nie. Ons kry dit byvoorbeeld in aanbidding waar mense woorde sing sonder om eers aan God te dink. As Christene dra ons sy Naam. Op hierdie wyse is sy reputasie aan ons verbind – ons moet dus vir Hom en sy heerlikheid leef.

 

  • Die Vierde Gebod

Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou. Ses dae moet jy werk en alles doen wat jy moet, maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie, nie jy of jou seun of jou dogter of die man of vrou wat vir jou werk, of enige dier of die vreemdeling by jou nie. Die Here het in ses dae die hemel en alles daarin gemaak, die aarde en alles daarop, die see en alles daarin. Op die sewende dag ht Hy gerus, en daarom het die Here dit as ‘n gereelde rusdag geheilig.

Die basis vir hierdie gebod is die skepping. Dit beskryf hoe God die hemel en aarde gemaak het en toegerus het. Ons kry hierdie gebod ook in Deuteronomium 5:12 – 15. Daar word dit aan die uittog uit Egipte verbind – God se voorsiening om Israel uit Egipte te bevry.

 

Die fokus in hierdie gebod is op rus, onthou en aanbid. Ons moet God se skepping en sy verlossing uit Egipte onthou – God se skeppings- en verlossingswerk Die vroeë kerk het die eerste dag van die week gekies as hulle dag vir rus en aanbidding. Dit hou natuurlik verband met Jesus se opstanding. Net soos die verlossing uit Egipte die hart van die Ou Testamentiese Sabbat was, net so is die Sondag die herinnering van die verlossing deur Jesus Christus. Jesus het die rus vir diegene wat in Hom glo, verkry. Ons kan stry oor die dag, maar nie oor die beginsel nie – dit is God se gawe aan ons.

 

Daar is nog iets wat ons moet raaksien: Ses dae moet jy werk. God het ons gemaak om te werk. As jy tydens die week hard werk, verdien jy ‘n rusdag.

 

Wat leer ons in hierdie gebod van God? Hy is ‘n God wat werk en rus; Hy is die Skeppergod; Hy is die ewige God; Hy is die God wat verlos.