Die Tien Gebooie: Gee eer aan wie eer toekom

image_pdfimage_print

Any supplement to the gospel supplants the gospel – Josh Moody

 

Die Tien Gebooie: Gee eer aan wie eer toekom

Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se  The Law of Perfect Freedom.

Eer jou Vader en jou moeder, dan sal jy lank bly woon in die land wat die Here jou God vir jou gee (Eksodus 20:12).

 

Waar het ons aan die idee gekom dat ou mense niks het om aan die samelewing te bied nie? Hulle praktiese ondervinding, hulle kennis van gebeure in die verlede, hulle wysheid om probleme te hanteer wat hulle vantevore reeds teengekom het, gee aan bejaardes ‘n spesiale rol in meeste kulture. Maar in ons selfgesentreerde, individualistiese kultuur plaas ons ons ouers in ouetehuise.

 

Wat verwag God van ons in hierdie gebod? “Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp. Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.” (Heidelbergse Kategismus: Vraag 104). Die eerste vier gebooie het betrekking op ons verhouding met God. Nou gaan ons aandag gee aan ons plig teenoor God, maar nou indirek. Dit gaan oor ons naaste wat na God se beeld geskep is. Wie is ons naaste? Bo aan die prioriteitslys staan ons familie. Die familie is die fondament van alle verhoudings. Die familie van God is die kerk.

 

Hierdie gebod het ‘n opdrag en ‘n belofte. Diegene wat oor ons gestel is, het twee pligte: om te heers en te beskerm. Maar ‘n heerser mag nooit dink dat dit dieselfde as mag is nie – die sinnelose gebruik van mag. Die plig is om te heers en te verdedig. Heersers moet altyd soek na wat die beste is vir diegene wat hulle dien.

 

Paulus sê: Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. “Eer jou vader en jou moeder,” is ‘n baie belangrike gebod. En daar is nog ‘n belofte by: “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” En Vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil (Efesiërs 6:1 – 4). Ouers het dus ook ‘n verantwoordelikheid teenoor hulle kinders.

 

Ons moet die vyfde gebod ook wyer lees. As ons nie duidelike gesagslyne het nie, volg anargie. Maar gesag moet altyd getemper word deur die plig van heersers – heers en verdedig. Hoekom word hierdie gebod so ondermyn?

  • ‘n Jeugkultus. Ons leef in ‘n tydperk waar daar ‘n passie vir jeug is.
  • Die hede. Die dieper betekenis van die lewe vir baie mense is om geld te maak – ons maak baie geld, gee dit uit en leef vir vandag.
  • Aanmatiging. Gelowiges glo wat hulle wil solank hulle net ‘n versie kry om hulle siening te ondersteun. Ons steur ons nie aan die verlede of die toekoms nie. Daarom eer ons nie meer die mense wat ons vooraf gegaan het nie. Selfs in kerke oordonder die nuutste en grootste die getoetste uit die verlede.
  • Ek-isme. Paulus skryf aan Timoteus: In die laaste dae sal daar swaar tye kom. Die mense sal selfsugtig wees, geldgierig, grootpraterig en verwaand, beledigend teenoor hulle medemense en ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar en ongodsdienstig (2 Timoteus 3:1 – 5).

 

Ons erken nie meer gesag nie. Wat ek doen is reg en goed; niemand kan vir my voorskrywe nie. Hierdie gebod maak dit duidelik: ek moet mense in gesagsposisies eer.

 

Volgende keer die vraag: Is ek pro-lewe?

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...