Die tweede teken: ‘n nuwe huisgesin (4:43-54)

image_pdfimage_print

Die tweede teken: ‘n nuwe huisgesin (4:43-54) – Francois Malan

Die eerste teken in Kana (2:1-12) en die tempelreiniging (2:13-22) is aanduidings van Jesus se program van optrede: die ou reinigingsgebruike word vervang deur ‘n nuwe fees van die verhouding met God deur wedergeboorte van Bo af (3:1-36); die ou  tempeldiens deur ‘n nuwe aanbidding van God in Gees en Waarheid (4:1-42). Só dui die tweede teken in Kana (4:43-54) op die begin van ‘n nuwe lewenswyse.

4:43,44 Jesus vertrek uit Samaria waar die mense Hom as profeet geëer het, en Hom as die Messias aanvaar het.  Hy vertrek na Galilea, waar Hy groot geword het,  om ‘n vreemde rede: ‘want Hy het self verklaar dat ‘n profeet nie in sy eie land geëer word nie. Ten spyte van aanvanklike vriendelikheid sou Hy mettertyd in Galilea teenstand ondervind, selfs van sy broers (7:3-5). Dit was deel van sy lydingsweg, en Hy is bereid om daardie weg te gaan, al het Hy geweet wat vir Hom wag.

 

4:45 Die Galileërs verwelkom Hom, omdat baie van hulle die fees in Jerusalem bygewoon het en die wonders gesien het wat Hy gedoen het – dit is egter geloof in ‘n wonderwerker, en nie as hulle Messias-Verlosser nie. Later mor hulle oor sy woorde (6:41), dat dit te erg is (6:60) en baie verlaat Hom (6:66).     

 

4:46 Die eerste teken in Kana was die begin van die bruilofsfees van die nuwe lewe; die tweede Jesus se stryd teen siekte en dood. Hy het huisvriende gehelp uit hulle nood, deur nuwe wyn te voorsien; toe ‘n gesin uit die nood van ‘n sterwende kind, op versoek van sy pa, wat in diens van Herodes Antipas is, wat vir Johannes die Doper vermoor het. Kapernaum aan die noord-wes-oewer van die see van Galilea was ‘n belangrike kontrolepunt op die hoofpad tussen Sirië en Egipte. Herodes, die Idumeër (afstammeling van Esau), en deur die Romeine aangestel as die heerser oor Galilea, het ‘n militêtre eenheid en hoë amptenare daar geplaas.

 

4:47 Die pa stap/ry te perd self die berg-op en -af en weer –op tot by Kana (27 km soos die kraai vlieg) met sy diepe nood oor sy kind, toe hy hoor dat Jesus uit Judea na Galilea toe gekom het. Hy vra dat Jesus saam met hom gaan om sy seun te kom genees. Sy motivering daarvoor is dat die seun op sterwe lê.

 

4:48 Jesus vertrou Homself nie toe aan  mense wat glo dat Hy slegs ‘n wonderwerker is nie (2:23,24); dié soort geloof wys Hy af. Geloof moet veel dieper gaan as ‘n oppervlakkige aanhang van ‘n man wat wonders kan doen. Dit gaan om geloof in die persoon van Jesus, om ‘n permanente toegewyde verbinding met Hom.

 

4:49 Die hofamptenaar lê al sy aansien en status af. Hy spreek Jesus aan as ‘Here’, sonder enige aanspraak op sy eie posisie of verdienste. As ‘n radelose pa pleit hy vir die lewe van sy seun by Hom in wie die Lewe is (1:4).   

 

4:50 Jesus antwoord sy versoek anders as wat hy verwag of gehoop het: ‘Gaan, jou seun lewe.’ Dit is Jesus se skeppende en vernuwende woord. Hy gaan nie saam met die man nie, maar gee ‘n geloofsopdrag met ‘n versekering. Die mens  (ho anthroopos,  NAV die man)  het die woorde van Jesus geglo. Daarmee erken Hy Jesus se goddelike gesag oor lewe en dood; hy is ‘n mens soos alle mense, en daarom ook voorwerp van God se liefde en  reddende genade. So gaan hy gewillig huis toe – hy het in Jesus geglo en sy woord aanvaar sonder om te sien, en sal weldra sien omdat hy geglo het.

 

4:51,52 In Kapernaum het die wonder gebeur. Die kind het teen alle verwagting gesond geword. Van die diensknegte het uit blydskap dadelik vertrek om die goeie nuus aan die pa te gaan vertel: jou seun lewe! Op sy vraag wanneer die genesing begin het, antwoord hulle: gister op die sewende uur het die koors hom verlaat.

 

4:53 Hy kry bevestiging van Jesus se woord: jou seun lewe! In verse 50,51,53 word die woord ‘lewe’ drie maal herhaal. Johannes onderstreep daarmee die betekenis daarvan vir sy lesers: wie in Jesus glo, vind by Hom die lewe, in Hom is die ewige lewe. Die pa en sy hele huis, sy vrou, kinders en  slawe ingesluit, het in Jesus geglo, en daardeur ‘n nuwe gesin geword. Hulle erken Jesus as die Gesant van God aan wie hulle hulle lewe toewy in gehoorsaamheid.

 

4:54 Johannes het die siklus van gebeurtenisse begin met die wynwonder in Kana en sluit die siklus af met die genesingswonder in Kana, altwee nadat Jesus uit Judea in Galilea aankom. Tussenin word na ander wondertekens verwys (2:23; 3:2; 4:45), maar met hierdie twee wondertekens stel Johannes vir Jesus aan sy lesers voor as die Vernuwer van die Joodse reinigingsgebruike en die goddelike Geneser. In dié siklus word van drie persoonlike ontmoetings vertel: aan Nikodemus die Fariseër lid van die Joodse Raad, wat Hom as ‘n leermeester wat van God af kom beskou, openbaar Jesus Hom as die Seun van God (3:16); aan die halfheidense Samaritaanse vrou en haar stadjie, wat Hom as ‘n profeet aanvaar, openbaar Hy Hom as die Messias,  ‘Ek is’, die Woord van God wat reeds in die Ou Testament God se Woord gespreek het; aan die heidense hofamptenaar en sy gesin openbaar Hy Hom as die Here oor lewe en dood, wat lewe gee.

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...