Die Verbondsark (2)

image_pdfimage_print

Die Verbondsark (2) – Coen Slabber

In die vorige artikel het ons gesien dat die ark ‘n belangrike rol in Israel se godsdiens en politiek gespeel het. Die laaste verwysing na die ark (nie simbolies nie) kry ons in 2 Kronieke 35:3. Dit was tydens die regeringsjare van Josia. Hy was besig om die paasfees te vier. Daarna het hy die Leviete wat vir die onderrig van die hele Israel verantwoordelik was en aan die Here gewy was, beveel: “Sit die heilige ark in die tempel wat koning Salomo van Israel, seun van Dawid, gebou het.”

Daar is geen vermelding van die ark in die nuwe tempel wat na die ballingskap gebou is nie. Maar hoe kon die ark wat so ‘n belangrike simbool vir Israel was sommer net weggeraak het? Dit gee aanleiding tot allerhande legendes. Daar is ‘n rabbynse legende dat toe die Babiloniërs Jerusalem ingeval en die tempel bedreig het, die priesters die ark in die lug gegooi het. God het dit gevang en teruggeneem in die hemel.

Kom ons kyk na ander moontlikhede:

  1. Koning Salomo het ‘n grot langs die Dooie See geïdentifiseer waarin die ark geplaas moes word. Josia sou dan kort voor sy dood die ark in die grot geplaas het. Hierdie grot is nooit gevind nie.
  2. Toe Josia hoor dat die Babiloniërs hulle gereed maak om Jerusalem aan te val, het hy die ark weggesteek. Waar weet ons nie, alhoewel baie mense glo dat dit iewers op die berg waarop die tempel gebou was, was. Party gaan selfs sover om te sê dat dit onder die houtstoor was. Die probleem is dat hierdie gebied ‘n heilige gebied vir beide Jode en Islam is. Daarom word enige uitgrawings verbied.
  3.  Ons lees ‘n interessante verhaal in 2 Makkabeërs 2:4 – 8. Hier lees ons van verslae waarin Jeremia ‘n openbaring van God gekry het. As gevolg van hierdie openbaring vra hy dat die ark agter hom aangedra moes word toe hy na die berg toe is waarteen Moses uitgeklim het om die land te sien wat God vir sy mense wou gee. Dit sou dan Nebo-berg gewees het. Daar kry hy ‘n grot waarin hy die tabernakeltent, die ark, asook die altaar  waarop die wierook gebrand is, versteek het. Hy maak die ingang van die grot toe. Dan lees ons: Van dié wat saam was, het die pad probeer onthou, maar hulle kon dit nie weer kry nie. Ons lees dat Jeremia hulle kwalik geneem het, want hierdie plek moet onbekend bly tot God sy volk weer bymekaarbring en vir hulle goed is bo wat hulle verdien. Hierdie grot is nog nooit gekry nie. 
  4.  Die Etiopiese Ortodokse Kerk beweer dat die ark in Aksum, naby die grens met Eritrea, is. Hulle beweer dat Menelik I, die seun van die koningin van Skeba en Salomo (volgens hulle), die ark in Jerusalem gesteel het terwyl hy sy vader, Salomo, besoek het. Hy het ‘n vervalsing in die tempel in Jerusalem agtergelaat. Die kerk wil egter nie toelaat dat wetenskaplikes die “ark” ondersoek om vas te stel hoe oud dit is nie. Dit is egter baie onwaarskynlik dat dit die verbondsark is. 
  5.  Daar is selfs mense wat glo dat die ark iewers in Suider-Afrika is. Die Lembe-mense van Suid-Afrika en Zimbabwe het die ark diep in ‘n grot in die Dumghe-berge begrawe. Gedeeltes van die “ark” wat in ‘n drom gekry is, is met radio-koolstof ondersoek. Die gedeeltes word in 1350 gedateer. Dit is nie die verbondsark nie. 

Die waarskynlikste antwoord is dat toe die Babiloniërs Jerusalem en die tempel in 586 vC  vernietig het, hulle die goud herwin het en die res van die ark vernietig het.  Dit is baie onwaarskynlik dat hulle die ark saam met hulle na Babilon teruggeneem het. Daar is lyste van die voorwerpe wat hulle uit die tempel verwyder het, en nêrens word die ark vermeld nie. Vir hulle was die goud kosbaar en die res was net ‘n kis gemaak van doringhout.

As die ark dan so belangrik vir die Israeliete was, het ons nie ook ‘n ark nodig nie? Die antwoord is nee, want ons het ‘n Hoëpriester wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God (Hebreërs 4:14). Ons het nie meer ‘n hoëpriester nodig wat een maal per jaar die Allerheiligste binnegaan en bloed teen die ark sprinkel nie. Toe Jesus die laaste asem aan die kruis uitgeblaas het, het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur (Matteus 27:51). Ons het nou direkte toegang deur Jesus Christus tot God.

In Openbaring 11:15 – 19 lees ons van die engel wat die sewende trompet blaas. Die laaste vers beskryf die einde. God se tempel, wat in die hemel is, gaan oop, en sy verbondsark wat in sy tempel is, het sigbaar geword. Daarna volg ‘n storm – weerligstrale, dreunings, donderslae, ‘n aardbewing en ‘n groot haelstorm. God is teenwoordig in die ark, maar ook in die storm.

Hebreërs 4:16 vat dit goed saam: Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Verwysing:

Van der Watt, Jan en Tolmie, Francois (2005): Apokriewe Ou en Nuwe Testament. Christelike Uitgewersmaatskappy.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

image_pdfimage_print

You may also like...