Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (vervolg) (e) Onselfsugtig liefhê (4:19-21) – Francois Malan

4:19 ‘Ons, ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.’ Ons (Johannes en die getroue gelowiges in sy gemeentes en die breë Christelike kerk) staan voorop met klem (teenoor die wat afgedwaal het en ander wat buite staan). ‘ons het lief…’ die feit dat óns wel liefhet – die voorwerpe van ons liefde is onbeperk, nie net tot God en die mede-gelowiges nie, maar ‘n lewe van liefde vir almal wat ons teëkom, en selfs vir hulle wat ons teenstaan; dit kom van God af.

‘omdat Hy (met klem vooraan in die sinsnede) ons eerste liefgehad het.’ Dit het Hy reeds getoon deur sy Seun te stuur as offer van ons sonde en as openbaarder van wie en hoe God is. God se liefde vir die wêreld is met die daad deur Jesus bewys. Onverdiende liefde (dit is die betekenis van genade) begin by God. Dit word aan die mens uit genade gegee deur die inwoning van die God van liefde in elkeen wat tot geloof in Jesus gekom het, deur die woord van God en die oortuigingswerk van die Heilige Gees.

God se onselfsugtige liefde tot die mens maak dat die gelowige kan begin om onselfsugtig te lewe, ook teenoor hulle wat dit nie waardeer nie. Ons liefde tot ander is ‘n respons op God se liefde tot ons, en ‘n deurvloei daarvan na ander.

 

4:20 Dat ons onselfsugtig kan liefhê, kom van God af, van Hom wat ons eerste liefgehad het (4:19). Maar die beslissende praktiese toets van ons liefde vir God is ons liefde vir ander. Eintlik is liefde tot die medemens die maklike en liefde tot God die moeilike taak. As jy in die maklike toets tekortskiet, hoe ver skiet jy dan nie in jou liefde tot God tekort nie. Daarby kan jou liefde tot die onsienlike God nie getoets word nie, maar jou liefde tot jou medemens blyk uit jou gesindhede en optrede.

Die ‘broer’ is in die eerste plek die mede-gelowige, maar sluit ook die mede-mens in, wat deur God gemaak is, vir wie Hy juis roep deur ons liefdevolle optrede. Johannes noem die gebrek aan liefde by sy naam: ‘haat’ (vgl. 1 Petr.1:22). Enigeen wat sê dat hy God liefhet, maar haatlik teenoor sy broer optree is ‘n leuenaar – hy praat nie die waarheid nie en behoort nie aan die kring van die God van die waarheid nie (vgl. Jn. 8:24 vir die vader van die leuens en mensemoordenaar; ook Jesus se verklaring van die sesde gebod in Mt 5:21-22). Ons moet God wat ook in ander mense werk, liefhê, en ander mense liefhê omdat ons in Hom is en Hy in ons.

 

Johannes het in 1:6 en 2:4 op die dwaallendes se moreel-verkeerde lewe gewys: hulle roem dat hulle God ken maar is ongehoorsaam aan Hom – hy sê hulle lewe in die duisternis en is leuenaars; in 2:22-23 wys hy op hulle verkeerde geloof en leer: dat hulle God sou erken, maar nie dat Jesus werklik die Christus is nie en Hom verwerp – Johannes noem hulle anti-christe; in 4:20 vlek Johannes die sosiale valsheid oop – dat hulle sê hulle het God lief maar ander haat – hy noem hulle leuenaars. Daarteenoor stel Johannes weer die liefdesgebod in 4:21.

 

4:21 Alles wat hy in hierdie afdeling gesê het oor liefde as die voorwaarde en lewenswyse van God se kinders, word saamgevat deur Jesus se liefdesgebod te herhaal (reeds in 3:23, vgl. 4:7,11): ‘Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê’ – die liefde vir God en die broer vorm saam een gebod (vgl. Mt 22:37-39). Christelike liefde vloei nie slegs voort uit wat God vir ons in Christus gedoen het en doen nie, maar Hy gee ook die opdrag aan ons, ‘Dit is dié gebod’. Die meervoud ‘gebooie’ word gebruik in 2:3-4; 3:22,24; 5:2-3 vir die dade wat konkrete uitdrukking gee aan die een groot gebod van die liefde (2:7-8; 3:23). Ons het dié gebod van ‘Hom,’ dit is van God af gekry deur Jesus wat die nuwe gebod aan sy dissipels oorgedra het, om soos Hy onselfsugtig en selfverloënend lief te hê (Joh 13:34; 15:12).

Skrywer:  Prof Francois Malan