DIE VLEUELS VAN GEBED (18)

DIE VLEUELS VAN GEBED (18) – Jan van der Watt

Bid vir…

Daar is ‘n paar dinge waarvoor die Here sê ons spesifiek kan bid.

 

* Bid vir ‘n padkaart vir jou lewe.

In Jak 1:2 sê Jakobus dat ons bly moet wees as dinge verkeerd loop. Juis in hierdie dinge wat so met ons verkeerd loop, leer ons die nabyheid van die Here soveel beter ken. Dit versterk ons geloof. Maar nou gebeur dinge in jou lewe wat alles deurmekaar krap. Jy is nie meer seker wat die regte ding is om te doen nie. Dikwels is die enkele probleem of krisis self so moeilik dat jy nie lig aan die einde van die tonnel sien nie.

In so ‘n geval, sê die Here, skakel in op die ‘beheerkamer’.

As een van julle wysheid kortkom,

moet hy dit van God bid,

en Hy sal dit aan Hom gee,

want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

(Jak 1:5)

Die wysheid waarvan hier gepraat word is lewenswysheid. Hoe lei ek my lewe op die regte manier soos wat God wil? Hoe hanteer ek die versoekings wat my so van koers slaan? Wat moet ek doen om God tevrede te stel? As jou lewe deurmekaar begin raak en jy nie meer weet hoe vorentoe nie, as jou probleme vir jou te groot begin raak… dan is dit die regte tyd: skakel in op die goddelike beheerkamer: vra vir God vir ‘wysheid’… en wag vir sy antwoord.

Maar in Jak 1:6 waarsku Jakobus dan dat ‘n mens gelowig moet bid en nie moet twyfel nie. Dit help nie jy vra vir God leiding en jy wil nie sy antwoord aanvaar nie. Dit help ook nie veel as jy twyfel of God aan jou ‘n antwoord gaan gee nie. In alle geval, op die manier sal jy nooit God se antwoord behoorlik kan hoor nie. Jou lewe sal dan regtig wees soos ‘n brander wat nie weet of dit kom of gaan nie (Jak 1:6-8).

As jy koers verloor het of besig is om koers te verloor, bid God om sy padkaart vir jou lewe weer vir jou mooi uit te stippel. Vra Hom vir wysheid om jou lewe te leef soos Hy dit bedoel het. God staan gereed vir hierdie gebed.


* Here, U versorg my, ek weet.

Gee ons vandag ons daaglikse brood’ (Mat 6:11) is ‘n vraag met ‘n belydenis aan. Met hierdie gebed sê ek vir God dat ek van Hom afhanklik is. Hy hoef ook nie vir my ‘n stoor vol brood te gee nie. Ek weet Hy sal môre weer daar wees om my te versorg. Ek is immers sy kind. Hy het belang by my en ek by Hom. Daarom wil God by ons alledaagse sake betrokke wees. Deur ons gebed moet ons Hom dan inderdaad ook ‘betrokke maak’, al is dit ook net deur ons afhanklikheid van Hom te erken. So het Jesus ons self leer bid.


* Here, ek verstaan nie??

Daar kom tye in ‘n mens se lewe wanneer al jou antwoorde in groot vraagtekens verander. Dit kan gebeur by die oop graf van ‘n jong kind wat in ‘n fratsongeluk dood is of wanneer ‘n seun in die fleur van sy lewe kanker opdoen. Wat sê ‘n mens dan? Hoe verklaar jy dit?

In hierdie oomblikke van vertwyfeling, vasgevang in allerhande vraagtekens, wil die Here jou nie alleen laat nie. Hy wil nie hê dat jy in sulke oomblikke sonder Hom moet wees of voel nie. Hy wil graag dat jy juis dan met Hom moet praat. Al sê jy net vir Hom dat jy nie verstaan nie, kan jy dit maar sê.

Ek is hulpeloos en arm,

maar die Here dink aan my.

U is my hulp en redder;

my God, moet tog nie talm nie.

(Ps 40:18)


Praktyk toe: in die labratorium van God

Paulus was in die tronk toe hy die brief aan die gelowiges in Filippi geskryf het. Dáár het hy seker lang ure met God in gebed deurgebring. Geen wonder dat een van die mooiste beskrywings van ‘n gebed juis in die Filippensebrief voorkom nie. Dit is die moeite werd om na Fil 4:6-7 van naderby te kyk.


Raak jy besorg? Praat dit uit!

Paulus begin in Fil 4:6 deur te verwys na ‘besorgtheid’. Dit is as jy begin bekommerd raak. Jy begin voel dat die beheer van dinge uit jou hande begin glip. Jou eie planne en oplossings begin klaar raak en jy begin wonder hoe verder?! Die beste teken hiervan is as die bekommernis soos ‘n muskiet in jou kop begin draai. Jy kan omtrent nie aan iets anders dink nie. In die dag praat jy gedurig daarvan en in die nag hou dit jou wakker.

As dit so gaan, sê die Here, is daar net een paadjie wat jy moet loop: na die troon van God in gebed. Gaan praat met die Here oor jou probleem of besorgtheid. Jy kan jou begeertes in gebed en smeking aan God bekend maak. ‘As daar iemand onder julle is wat swaarkry, moet hy bid’ (Jak 5:13).

* Hier praat Paulus van jou ‘begeertes’. Dit gaan oor die dinge wat in jou hart aangaan. Die Here wil hoor wat jy dink en wil hê. Hoe jy die probleem sien, wat jy daarvan dink, watter oplossings daar is… dit alles wil die Here hê moet jy op jou gebedsagenda sit.

* Verrassend word die woord ‘smeking’ hier saam met gebed gebruik. Smeking is nie om maar een maal te vra en dan te los nie. Dit is soos ‘n seuntjie wat ‘n koekie uit sy ma net voor ete wil hê. Hy gesels, dink planne uit, vra nou so en dan so. Hy vertel van die holte diep in sy maag wat nie deur pampoen en booontjies volgemaak sal word nie. Dis die spesiale plek vir koekies. Dit is met ander woorde om jou probleem op ‘n intense manier met God deur te gesels. Jy moet aanvaar dat Hy jou probleem net so ernstig neem as jy self! Daarom moet jy dit met Hom uitgesels. Jesus het selfs ‘n gelykenis daaroor vertel van die weduwee wat die magistraat aanhoudend oor ‘n saak lastig geval het (Luk 18:1-8). Uiteindelik het die magistraat aan die versoeke van die vrou toegegee. Daarmee wou Jesus nie ‘n onverbiddelike hardkoppigheid in gebed voorskryf nie, maar ons aanmoedig om met Hom intens oor sake te praat sonder om moedeloos te word.

Eintlik sou ‘n mens dink dat om te bid dat die wil van die Here geskied, nie plek laat om ook met Hom te worstel nie. Nee, worsteling met die Here oor sake het ‘n plek. Soos ons reeds gesien het, is gebed die plek waar ons wil die wil van die Here moet ontdek. In gebed moet jou wil in die wil van die Here vloei. Die Here wil hê dat jy saam met Hom, in gesprek met Hom, antwoorde op jou vrae sal soek en vind.


Dankie Here, ek weet U luister.

In Fil 4:6 staan daar dat ons ons begeertes met danksegging aan God bekend moet maak. Wat hier staan is dat terwyl ons vra, ons al dankie moet sê vir wat gaan gebeur! So absoluut moet ons op God vertrou. Ons neem ons saak immers na die beste Advokaat toe. Hy is ook ons Vader! As iemand ons saak goed sal kan behartig, dan is dit Hy!

As jy jou saak voor Hom stel moet jy dus reeds WEET: jou saak is in die beste hande moontlik. Daar sál iets ten goede gebeur. As jy dan met ‘dankie’ op jou lippe opstaan van jou knieë af, is dit met ‘n geloofsbelydenis. Jy vertrou die Here volkome en jy aanvaar wat Hy vir jou gaan doen. Jy het nou net met Hom in gebed oor oplossings geworstel, maar uiteindelik laat jy dit met dankbaarheid in sy hande.


Die vrede gaan my verstand te bowe!

Die resultaat van so ‘n gebed kan net vrede wees. Jy het jou saak met die beste en belangrikste Advokaat bespreek. Jy weet Hy gaan jou saak ten beste oplos. As jy van jou knieë af opstaan en uit sy ‘kantoor’ stap, voel jy dat jy jou probleme op die beste moontlike plek kon los. Dit is soos iemand wat op ‘n verlate pad met sy kar gaan staan het en self nie eers mooi weet aan watter kant die enjin sit nie. Die donker kom nader. In so ‘n situasie loop die besorgtheid maar dik. Skielik stop daar ‘n ander motor in ‘n stofwolk langs hom. Die man maak sy kattebak oop en haal ‘n yslike kas gereedskap uit. Dit is die plaaslike motorwerktuigkundige! Op daardie oomblik smelt die besorgtheid in die motoris weg soos sjokolade in ‘n honger tiener se mond… skielik maar lekker! Die kar is nognie reg nie, maar jy weet dit is nou net ‘n kwessie van tyd. Die kar is in die regte hande!

So is dit ook met gebed. As jy van jou knieë af opstaan is die probleem waaroor jy gebid het nog nie opgelos nie. Daar moet nog heelwat gebeur. Nogtans voel jy vrede. Dit is vrede wat iemand anders nie sal begryp nie. Om die waarheid te sê, dit gaan jou verstand te bowe. Ook jy kan dit nie mooi verklaar en uitredeneer nie, maar dit is daar. En die rede is omdat God dáár is. Jou probleem is in die beste hande moontlik. Wat sal dit jou nog help om bekommerd te wees? Wat sal dit help. Jy vertrou mos op die Here. Wys dit ook vir Hom deur Hom ook met jou probleme volledig te vertrou!

Leef in die vrede wat die vertroue op God jou gee, al verstaan jy dit nie altyd nie. In Jesus het God mos aan jou bewys dat Hy jou liefhet. Daaraan hoef jy nooit te twyfel nie.


Leef positief.

Die besorgtheid en probleem wat soos ‘n muskiet in jou kop rondgezoem het, moet dus in gebed in vrede verander. Daarvoor moet jy God vertrou. Maar as daar nou niks meer is wat in jou kop ‘rondzoem’ nie, wat nou?

Alles wat waar is,

alles wat edel is,

alles wat reg is,

alles wat rein is,

alles wat mooi is,

alles wat prysenswaardig is

– watter deug of lofwaardige saak daar ook al mag wees –

daarop moet julle julle gedagtes rig.

(Fil 4:8) 

In plaas daarvan om te sit en top oor alles wat verkeerd is of wat nog verkeerd kan gaan, moet ons liewer aan dit wat mooi en reg is dink. As jou gedagtes vol van die mooie is, waaroor sal jy dan die graagste praat? Wat sal vir jou die belangrikste wees? In die opsig moet gebed dus ook ons lewens verander, positief verander.

 

Skrywer: Prof jan van der Watt