1

DIE VLEUELS VAN GEBED (21)

DIE VLEUELS VAN GEBED (21) – Jan van der Watt

Die spore van God in die geskiedenis.

‘n Mens sou nou in alle billikheid kon vra: ‘Is daar nie darem ‘n aanduiding van waar en hoe ons God se wil kan verwag nie?’ Ons moet mos immers ook weet wat God se wil is as ons volgens God se wil moet bid!

Dit is nou natuurlik nie altyd so dat God ons gebede op verrassende maniere beantwoord nie. Gewoonlik is dit duideliker en eenvoudiger om God se antwoord te herken as in die geval van Paulus hierbo. (So tussen hakies, dit is ‘n goeie idee om jou eie ‘gebedsantwoordboekie’ te hê. Daar sal jy duidelik kan sien hoe God jou gebede beantwoord. Dit kan nogal baie vir jou geloof ook beteken!). Die vraag is natuurlik hoe ons God se wil leer ken.

 

God se wil in die geskiedenis

Niemand het God nog ooit gesien nie. Wat ons wel van Hom sien, is sy dade in die geskiedenis. Daar kan ons sy wil leer ken en iets van sy hart sien.

* Dit is veral in die Bybel waar ons die voetspore van God deur die geskiedenis sien. Daar kan ons sy wil leer ken. Daarom is Bybelstudie onlosmaaklik deel van ons gebed. Die Bybel vertel van God se geskiedenis met ons. Daar kan ons sien waarvan Hy hou en waarvan nie.

Dit beteken dat jy die Bybel biddend moet lees. Daar moet en sal jy God se woord hoor. Nou moet ons ook nie die fout begaan om van die Bybel ‘n ‘toorboek’ te maak nie. Die gewoonte om die Bybel enige plek oop te slaan en dit dan as God se onfeilbare antwoord te sien, is nie aan te beveel nie. Dit kan soms selfs misleidend wees. (Dit is egter nie te sê dat God nie soms wel ook so met jou sal of wil werk nie. Dit is egter nie die normale manier nie). Jou bybelstudie kan veral op twee maniere vir jou help om God se wil te ontdek.

1. God kan deur die loop van jou normale bybelstudie – of selfs deur iets soos ‘n preek – vir jou inligting gee wat Hy later wil gebruik. Op daardie oomblik is dit nie vir jou so belangrik nie. As jy later in ‘n situasie kom waar jy nie weet hoe verder nie, herinner God jou juis aan daardie woorde. ‘n Mens kan byvoorbeeld maklik lees dat die Here sê dat ‘n gelowige vir sy Christenskap kan ly. Hy beloof ook dat Hy jou in die lyding sal bystaan! Hoe ly ons nou eintlik vandag? Daar is niemand wat ons met swaarde vervolg of in tronke gooi vir ons geloof nie. Die woorde gaan eintlik op die stadium dat jy dit lees by jou verby. Dan gebeur iets by die werk. Jou baas wil hê dat jy oneerlik moet wees om ‘n baie belangrike transaksie te beklink. Dit sal by die werk in alle opsigte vir jou voordelig wees om dit te doen. Nou wonder jy wat die Here wil hê. Jy bid daaroor en soek sy wil. Eintlik weet jy diep in jou hart dat die Here nie sy siel aan geld verkoop nie, veral nie deur oneerlikheid nie. Maar jy weet ook dat dit vir jou sleg sal wees om nie te doen wat die baas vra nie. En dan onthou jy wat jy destyds in jou Bybel gelees het: Daar mag oomblikke kom dat jou keuses vir Jesus vir jou baie sleg sal wees. Dit sal jou laat ly! Maar die Here se veiligheidsnet is onder jou gespan om jou op te vang as jy swaarkry. Dan weet jy sommer ook wat om te kies. So gebruik God sy woord om jou in sy wil te lei.

2. As jy biddend met die Bybel voor jou sit, praat die Here ook soms net daar met jou. As ‘n mens met ‘n spesifieke vraag die Bybel lees, sien ‘n mens die antwoorde ook soveel makliker raak. Sê maar jy is ‘n tiener wat wil weet of jy na ‘n partytjie toe moet gaan waar al die ‘cool’ kinders ook sal wees. As dit van jou afgehang het, sou jy definitief gegaan het. Maar jy wil eers hoor wat die Here daarvan dink. Hoe gaan jy uitvind? In jou stiltetyd is jy juis by Kol 3:17: ‘En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.’ Biddend dink jy na oor hierdie woorde. Die Here antwoord jou nie reguit nie. Hy sê nie ‘ja’ of ‘nee’ vir die partytjie nie. Hy sê wel dat jy moet besluit of Hy ook daar tuis sal voel. Hy wil immers oral gaan waar jy gaan! God gebruik ook jou wysheid en insig in die antwoorde wat Hy gee.

Dit is natuurlik ook belangrik om te onthou dat die manier waarop God die sigbaarste met ons gepraat het, is deur Jesus Christus. Sy lewe moet vir ons die patroon en voorbeeld vir ons eie optrede wees. ‘Wie beweer dat Hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het’ (1 Joh 2:6). Deur die voorbeeld van Jesus wil God ons lei. Daar kan ons sien wat God van ons verwag.

* Die Here is egter nie net in die Bybel toegesluit nie. Hy is elke dag ook saam met my. Hy is deel van my lewe! Daarom kan ek ook die spore van sy teenwoordigheid in my eie lewe aflees. Dikwels wil ek ‘n sekere ding hê of doen. Tog loop alles skeef. Dit verloop nie soos wat ek dit beplan nie. Moet ek nie iets daaruit aflei nie? Of by ‘n ander geleentheid mag ek voel dat die Here van my verwag om ‘n spesifieke ding te doen. Ek is egter die een wat nie kans sien nie. Tog voel dit telkens vir my of die Here sy ‘hand op my skouer sit’ om juis my aandag op daardie saak te vestig.

Die probleem met hierdie manier van goddelike leiding is dat dit nie swart op wit geskryf staan nie. Ek werk met ‘gevoelens’, maar sê nou net my ‘gevoel’ is verkeerd?!

Om so in twyfel te verval is seker die aakligste deel van gebed, as daar inderdaad ‘n aaklige deel is. Net as ek seker is God wil hê dat ek iets moet doen, slaan die twyfel my voete onder my uit. Ek begin wonder of dit regtig God is wat dit wil hê. Is dit nie miskien maar net ek wat dit graag wil hê nie. Nou dink ek sommer God wil dit ook hê. As dit so is, sê die twyfel vir my, dan sondig ek mos teen God. Dan gaan God mos hierdie saak nooit seën nie. As ek nou besluit om dit nie te doen nie, begin die twyfel weer aan daardie kant vreet. Sê nou maar net dit was God wat wou hê dat ek die ding moes doen… Wat ‘n senutergende ondervinding is dit nie. Jakobus moes sekerlik deur hierdie proses gegaan het, want hy beskryf dit so goed:

Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,

want iemand wat twyfel,

is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag

en heen en weer gedryf word.

So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is

en onbestendig is in al sy doen en late,

moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

(Jak 1:6-8)

Die ‘medisyne’ wat Jakobus vir die twyfel voorskryf, is geloof. Geloof aanvaar die teenwoordigheid van God in jou lewe. Dit is die vertroue dat Hy ook betrokke wil wees by jou sake. Daarom kan ‘n mens met vertroue bid.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt