Die vloek van vergelyking

image_pdfimage_print

 

Pray, but when you pray, move to your feet –  Spreekwoord uit Afrika

 

Die vloek van vergelyking

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Om te vergelyk is nie sleg nie, maar wat ons doen met vergelykings is die probleem. Ons plaas mense in rangorde. Ons kategoriseer gou mense as wenners en verloorders – gebaseer op baie min bewyse. Vergelyking is baie sleg as dit by ons geestelike lewens kom.

 

Geestelike vergelykings is dwaas. Ons ken nie altyd die volle verhaal nie – ons sien net die buitekant en nie die hart van die persoon nie. Daarom is baie van ons gevolgtrekkings oor mense verkeerd. Die Fariseërs was indrukwekkend aan die buitekant, maar dood binne.

 

Geestelike vergelykings is dikwels bevooroordeeld. Ons manier is om te vergelyk sodat ons altyd bo uitkom. As ons bo is, is dit moeilik om nie af te kyk na mense wat afsteek by onsnie. Trots is nou gevaarlik. Om neer te sien op ander sien ons as ‘n klein sonde – dit is nie belangrik nie. “Moeilik om nederig te bly as ek soveel beter as ander is.” In Spreuke 6:16 – 19 kry ons ‘n lys van dinge wat God haat. Bo-aan die lys – oë wat straal van hoogmoed. Min mense sou dit bo-aan lys verwag.

 

Hierdie sonde wat God so haat, word gewoonlik gevind in mense wat dink dat hulle God meeste liefhet. Kyk na gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Die Fariseër doen baie goeie goed – baie om op tevrede te wees. Die tollenaar het niks om vir God aan te bied nie; hy is verraaier van sy eie mense. Te skaam om op te kyk, vra hy net vir genade. Volgens Jesus het hy gekry waarvoor hy gevra het. Die Fariseër se gebede is nie verhoor nie. Volgens Jesus maak dit nie saak hoe ywerig jy is nie. Die Fariseër se arrogante vertroue in sy eie geregtigheid en sy manier om op ander neer te sien, maak alles wat hy gedoen het niks werd nie. Hy is slegter af as die tollenaar.

Wie is op jou lys? Trots is dié blinde kol van baie mense. Ons sien onsself nooit as arrogant nie; ons dink nooit ons kyk ontoepaslik neer op ander nie. Ons dink ons sien dinge soos hulle werklik is. Ons dink mense op wie ons neersien, is waarlik onder ons. Het ek nie dalk my eie “dank God ek is nie soos hulle nie” lys nie? Wie is op daardie lys? Hierdie lys is gevaarlik – dit kan al die goeie wat ek doen tot niet maak. Vernietig hierdie lysie, verbrand dit.

 

image_pdfimage_print