Die vrou en die stad

Die vrou en die stad – Jan van der Watt

 

Jan Smith vra:

In Openbaring 19: 9 sê Johannes: Skryf-salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. Die mense is net die “gaste” en in Johannes 3:29 sê Johannes die Doper die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister verbly hom in die bruidegom. In watter verhouding staan die “gaste” en “die vriend” met die bruidspaar? Openbaring 21: 9b: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. In plaas van ‘n bruid of ‘n vrou sien Johannes “die heilige stad Jerusalem“. Hoe vereenselwig mens ‘n “vrou” met ‘n “stad” ? Baie dankie.

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

As die Bybel oor die hemelse dinge skryf word daar gewoonlik van beelde gebruik gemaak. Hoe anders kan ‘n mens die wonder van dit wat God vir ons beloof kan verstaan. Die beelde wat natuurlik gebruik word, kom almal uit die gewone lewe waarvan ons almal ervaring het. Elke beeld het ‘n unieke boodskap wat dit oordra. Daar is byvoorbeeld die feesmaal (Matteus 22:1vv) waar die feit beklemtoon word dat ons almal welkom is by God se feestelikheid. Die nuwe Jerusalem beklemtoon die veilige woonplek saam met God. So word die beeld van die bruidegom en bruid van Jesus en sy kerk gebruik. Die verhouding tussen die bruid en bruidegom is natuurlik ‘n intieme en permanente verhouding waarin die man vir die vrou moet sorg en die vrou die man moet liefhê – juis die spesiale verhouding word so deur die beeld op die verhouding tussen Jesus en sy kerk beklemtoon (sien o.a. ook Efesiërs 5:21vv). In Openbaring 19:7-9 staan daar: 7Laat ons bly wees en juig en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar daarvoor gereed gemaak. 8God het haar dit vergun om fyn, helder blink klere aan te trek.” Hierdie fyn klere is die regverdige dade van die gelowiges”. 9Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Die beeld beklemtoon hier dat die bruid haar regmaak vir die troue (‘n baie belangrike taak – sy moes op haar mooiste lyk. Gewoonlik het die hele familie se vroue en al die vriende van die vrou gehelp om haar mooi te maak. Hulle het selfs hulle mooi juwele vir haar geleen. Sy moes regtig mooi lyk), want die troue is naby. Die klere wat sy aantrek om haar mooi te maak, is die dade van die gelowiges. Wat hier gebeur, is dat daar ‘n vermenging of oorvleueling van beelde is (iets wat algemeen is met beelde – beelde wil spesifieke sake beklemtoon, en as jy meer as een saak het wat jy wil beklemtoon  kan jy twee beelde meng om die twee sake te illustreer). Hier het ons die beeld van die bruid wat haar regmaak – sy is die gelowiges. Sy moet klere hê om aan te trek – dit verskaf die gelowiges deur hulle goeie werke. Dan volg die woorde van die engel wat nog ‘n derde punt onderstreep: ons is gelukkig om by die feesgeleentheid saam met die Lam te wees. Hier gaan dit oor dieselfde mense (die gelowiges) wat die bruid uitmaak. (Lees byvoorbeeld Hoofstuk 7 – daar praat die skrywer eers van die 144,000 en dan van die groot skare. Beide die groepe verwys na die gelowiges, maar vanuit twee perspektiewe, nes hier). In Openbaring 21 kry ons presies dieselfde – daar word beelde weer vermeng. Die stad is die gelowiges (kerk) by wie God kom woon, maar dieselfde mense (die gelowiges is ook die bruid) – in 21:2 het ons ‘n vergelyking: die stad is soos ‘n bruid wat gereedgemaak is. Dit is net so mooi as wat die bruid vir haar sal wees (sien hierbo oor die mooimaak). In 21:9 word die stad die bruid genoem. Die gelowiges word beskryf deur hulle beide met die beeld van ‘n bruid (skoonheid en intieme relasie) asook as stad (beskerming en saam woon) te vergelyk – so sê die skrywer sommer baie van die gelowiges. Die stad en die bruid illustreer egter elkeen ‘n ander dimensie van die verhouding tussen God en sy kerk. Dit staan nie teenoor mekaar nie, maar ons moet dit saam met mekaar lees.

Die verwysing in Johannes 3:29 gaan weer oor ‘n spesifieke saak. As mens die konteks lees (asook Hoofstuk 1:19vv), sien jy dat daar mense was wat gedink het Johannes die Doper is eintlik die Messias. Hy ontken dit. Om sy laer posisie teenoor Jesus te illustreer gebruik hy die beeld van die vriend van die bruidegom wat wel belangrik was (soos ‘n strooijonker), maar nie naby so belangrik soos die bruidegom nie. Hy is in ‘n ander opsig deel van die gelowiges en as die gelowiges die bruid genoem word in ander beelde, beteken dit dat Johannes ook daarby ingesluit is. Met ander woorde, dit gaan oor beelde wat punte wil illustreer en nie oor die realiteit nie. Jesus het nie ‘n strooijonker nie en gaan ook nie soos ons trou met al die gelowiges in die wêreld nie. Dit is alleen beelde om iets van die wonderlike en onverstaanbare verhouding tussen God en sy kerk uit te druk.

Outeur: Prof Jan van der Watt