Die vrug op die dienaar se lyding (53:10-12) – Francois Malan

53:10-11a Vers 9 vertel van die einde van die dienaar, maar dit is nog nie die einde nie, want die Here…! Die Here wil dat die gedig nog verder gaan. Dit was sy goeie wil om sy dienaar so te gebruik, so ’n effektiewe lyer te ontplooi. Dit is sy wil dat Hy deur sy dienaar sy doel bereik, suksesvol sal wees (5:13 gebruik ‘n ander woord vir suksesvol). Die Here se plan is dat sy dienaar wat alles gegee het, alles sal ontvang. Sy dienaar is ‘n instrument in sy hand, ‘n skuldoffer vir sonde, maar word op die ou einde nie verlaat nie. Hy sal nog ‘n nageslag hê en lank lewe. So iets van die lewe na die dood begin hier deurskemer (vgl. 26:19). Hy sal die lig sien en Hom ken (1983 die Here ken; letterlik: die wil van die HERE is suksesvol in sy hand). Hy sal die wil van die Here ken en daarvolgens lewe en optree (vgl. Jn 8:28-29; 12:27-28; 14:10).  So behoort elke gelowige te lewe (vgl. Mt 6:10).

53:11b-12 Die kernboodskap van dié loflied oor die dienaar van die Here word in verse 11b-12 saamgevat: Die Here noem hom ‘die regverdige,’ dit beteken hy lewe in die regte verhoudig tot God. En hy sal baie tot regverdigheid lei deurdat hy die skuld van hulle sonde dra. Dit is nederige werk om jouself te gee deur ongewaarborgde diens aan en uit innige belangstelling in mense wat dit nie verdien nie.

53:12 Die dienaar se selfvernedering is die rede (daarom) dat God hom verhoog. Die dienaar wat hom met die oortreders geïdentifiseer het, wat soos een van hulle gelyk het, wat vir hulle gebid het en as hulle advokaat opgetree het, ontvang nou die ‘daarom’ van die Here wat aan die geringe en misvormde ‘n aandeel gee saam met die magtiges en die sterkes.

[Sommige verklaarders skryf die lewensverhaal van Serubbabel verder as Sagaria 4:6-10, waar ons Bybelse kennis van hom ophou. Hulle pas dan hierdie hoofstuk op hom toe, as sou hy onregverdig gely het, omdat hy as Kores se agent beskou is, en deur goewerneur Tattenai onregverdig verhoor en doodgemaak is (vgl. Esra 5:3-6 waar hulle teen die bou van die tempel was, maar volgens Esra 6:13 het Tattenai Darius se opdrag om die tempel te laat bou uitgevoer. Die verklaarders meen Serubbabel was toe al dood. Dit is alles egter raaiwerk om hfs. 53 te probeer verklaar].

Uit hierdie hoofstuk, wat die ontmande Etiopiër op pad gelees het, het Filippus vir hom die evangelie oor Jesus verkondig (Hand. 8:30-35; vgl. ook die goeie nuus vir ontmandes in Jes 56:3-5. Die 1983-vertaling vertaal eunuch telkens met ‘amptenaar’ in Hd 8:34,36, 38).

Maar dat God anders werk as die wêreld, is duidelik uit hierdie hoofstuk en uit Jesus se lewe, sterwe en opstanding, wat die vervulling is van Jes 52:13-53:12. Daarmee het Jesus vir sy volgelinge ‘n voorbeeld gestel om soos Hy, vernedering, slae en lyding te verduur om die bose kringloop van geweld te verbreek – moenie ‘n slegte mens teengaan nie. As iemand jou op die regterwang klap, moet jy ook die ander een vir hom draai (Mt 5:39). Julle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg, sodat julle kinders van julle Vader in die hemele kan wees (Mt 5:44-45). Hierdie hoofstuk is egter die basis van die evangelie: ons verhouding met God word reggestel deur die soendood en opstanding van sy Seun, sodat ons kinders van God kan wees deur ons geloofsband aan sy Seun.

Skrywer:  Prof Francois Malan