Die was van voete

Die was van voete – Jan van der Watt

Dit was destyds die gewoonte om gaste se voete te was as hulle by jou kom eet. Daar was praktiese en sosiale redes voor.

1)   Mense het destyds “plakkies” gedra (m.a.w. ‘n velsool met riempies om die sool aan jou voet vas te maak). Jou voete was dus gewoonlik stowwerig as jy van buite af kom. Aangesien hulle destyds op banke rondom ‘n tafel gelê en eet het, was dit onafwendbaar dat jou voete naby die gesig gelê het van die persoon wat langs jou gelê het… en wie wou nou met vuil voete langs iemand anders lê en eet? Was dit dan maar liewer!

Aangesien dit nie jou eie huis was nie, moes die gasheer die gewassery gewoonlik reël. Die “onbelangrikste” persoon in die huis (soos ‘n slaaf) moes gewoonlik hierdie werkie doen. As deel van die voetewas is daar dikwels ook parfuum oor die voete gegooi, sodat die voete nie alleen skoon was nie, maar ook lekker geruik het. Dan was die ete sommer ook baie aangenamer. So het die praktiese reëlings gelyk. Daarom was dit so “dramaties” dat Jesus sy dissipels se voete was (Johannes 13) – Hy was immers die belangrike een. Sy dissipels moes dus eerder sy voete gewas het. Daarom weier Petrus dat Jesus sy voete was.

2)   Voetewas het ook sosiale betekenis gehad, veral as dit by eerbewyse kom. As jy besondere eer aan iemand wou betoon, het jy baie aandag aan die was van sy voete gegee en duur parfuum gebruik. As die vrou Jesus se voete was en dan duur nardussalf daaroor uitgooi, betoon sy besondere eer aan Jesus.

Dink weer aan Jesus wat in Johannes 13 sy dissipels se voete was. Hy vra ons om mekaar se voete volgens sy voorbeeld ook te was. Dit beteken dat ons mekaar in eerbetoon moet voorgaan. Inderdaad, wie die minste in sy of haar optrede is, sal die meeste wees. Dit leer ons aan die hand van Jesus wat voete was.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt