Die Wegraping?

Die Wegraping?

Dit is interessant dat die woord “wegraping” nêrens in die Nuwe Testament voorkom nie, en die tekste wat dikwels aangehaal word eerder oor die realiteit en verwagting rondom die wederkoms handel.

 

Matteus 24 is die groot hoofstuk wat handel oor die profetiese rede van Jesus oor die val van die tempel (24:1-2); komende rampe en vervolgings (24:3-14); die groot verdrukking (24:15-28); die koms van die Seun van die mens (24:29-31); die voorbeeld van die vyeboom oor die tekens van die tyd (24:32-35); gevolg deur die profetiese rede oor die dag en uur van die wederkoms in Matteus 24:36-44, waar ons die volgende lees:

36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 37Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.43“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”

In 24:37-39 word die wederkoms (paroesia in Grieks) van die Seun van die Mens vergelyk met die skielike koms van die groot vloed waarvan ons in Genesis 6:5-24 lees waarin Noag en sy gesin ontsnap het en almal anders vergaan het. Net so (vergelyk v 27, 37, 39) sal die wederkoms van die Seun van die Mens skielik en onverwags wees. Mense sal soos enige ander dag besig wees met allerlei dagtakies – etende, drinkende, spelende… (vgl. 24:38 en die reeks partisipiums in Grieks). Net soos die mense in Noag se tyd totaal onvoorbereid was vir die vloed, net so sal die wederkoms van die Seun van die mens onvoorbereid en onverwags wees. Met die wederkoms sal daar ‘n duidelike skeiding plaasvind (vgl. 24:40-41), sommige sal saamgeneem word, terwyl ander agtergelaat sal word. Twee mense sal byvoorbeeld op dieselfde plek so langs mekaar staan en werk waarna een skielik weggeneem sal word en die ander een sal agterbly en uiteindelik geoordeel sal word. Na alle waarskynlikheid verteenwoordig diegene wat saamgeneem word die uitverkore mense wat die engele van die Seun van die Mens moet versamel met die wederkoms (24:30-31): 

30Dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemelruim verskyn, en al die volke van die aarde sal verslae wees. Hulle sal die Seun van die mens op die wolke van die hemel sien kom met groot krag en majesteit. 31Die groot trompet sal weerklink, en Hy sal sy engele uitstuur om sy uitverkorenes bymekaar te maak uit die vier windstreke, van elke uithoek van die aarde af.

Die punt wat Matteus wil maak, is dat niemand die uur van die wederkoms ken nie. Dit kan enige oomblik gebeur. Die vraag is dus of jy op enige gegewe oomblik reg is, of jy die een op die land gaan wees wat agterbly vir die groot oordeel, of die een wat saamgeneem gaan word? Juis om hierdie rede is Matteus van mening dat gelowiges voorbereid, waaksaam (gregorein in Grieks – Kyk ook 1 Korintiërs 16:13; 1 Tessalonisense 5:1-11; 1 Petrus 5:8; Openbaring 3:2-3; 16:15) en nugter moet wees – reg om enige tyd die tydelike vir die ewige te verwissel. Hiervolgens is dit verder duidelik dat Matteus se eskatologie (toekomsverwagting) ‘n sterk etiese dimensie impliseer.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok