DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 2 (1) – Dionne Craffort

GOD SE WIL MET SY WêRELD.

 Alles wat ons sien en ken begin met God se skeppingswil. Waarom sou God wou skep? As ons oor God nadink, stuit ons op talle waarom-vrae waarop ons nie antwoorde het nie. Oor dit wat God nie aan ons geopenbaar het nie, kan ons slegs maar bespiegel en wonder. Waarom sou God wat selfgenoegsaam in sy Drie-eenheid is,iets buite himself wou skep? Waarom die onmeetlikheid van die heelal waarin miljoene sterrestelsels weer miljoene ligjare van mekaar verwyder is en waarskynlik teen ‘n ontsaglike spoed verder van mekaar af beweeg in alle rigtings? Waarom ‘n Aarde met al sy wonders en tog mank in sy gebrokenheid  wat sigbaar word in natuurrampe en verganklikheid?Waarom ‘n mens as kroon van God se skepping maar tog deurdrenk van die kwaad en sonde? Waarom siekte en dood? Waarom armoede en lyding? En so sou ons kon aangaan tot in die oneindige sonder om antwoorde te vind omdat God in baie dinge sy wil nie aan ons bekendgemaak het nie. Wat nie geopenbaar is nie, sal vir ons in hierdie bedeling ,’n geheimenis bly en so sal ons dit moet aanvaar.

  Waarom God geskep het, is ook ‘n vraag waarop ons nie ‘n antwoord sal vind nie. Die Skrif stel God aan ons bekend as die Skepper. [Efes. 3:9; Openb. 4:11; Jes. 42:5 ]. Of God op ‘n moment besluit het om hierdie heelal te skep en of Hy van ewigheid af met skeppende werk besig is en miljarde heelalle geskep het of nog skep, weet ons nie.

Ons kan skaars ‘n denkbeeld vorm van die ouderdom en uitgestrektheid van ons heelal en omdat dit al is waarvan ons weet, moet ons ons slegs daarby bepaal. Al wat ons weet, is dat ons heelal bestaan omdat God dit  so wou hê.

  Oor die wyse van die skeppingsdaad wy die Skrif nie uit nie. God het deur sy Woord die skepping tot stand gebring. God se skeppingswoord wat voortvloei uit sy skeppingswil lê ten grondslag van die ontstaan van alle dinge. Wetenskaplikes en ficici sal ons moet help om die wyse van skepping beter te verstaan.Dit is asof God die geheimenisse van sy skepping  verberg gehou het sodat mense met die gawes van verstand en ywer dit stukkie vir stukkie moes ontrafel. Die ontrafeling daarvan behoort te lei tot die lof en verheerliking van die groot God wat dit alles tot stand gebring het. Die proses van ontrafeling duur nog voort en die laaste woord daaroor is nog lank nie gespreek nie. Skeppingsteorië sien daagliks nog die lig en daar is ‘n hewige stryd tussen kreasioniste en evolusioniste oor die hoe van die skepping. Sonder om kant te kies in die hewige woordewisseling, kan gemeld word dat die meerderheid wetenskaplikes vandag aanvaar dat ons heelal tussen 15000 en 20000 miljoen jaar gelede ontstaan het deur ‘n oerknal van onmeetlike omvang. Hoe en waarom die geweldige uitstraling van energie ontstaan het, en wat daar voor die oerknal was, bly ‘n raaisel ook vir die aanhangers van die teorie. Volgens die teorie is in die eerste oomblikke van die knal met sy ontsaglike hitte al die basiese elemente van waterstof en helium gevorm  en die ruimte in geslinger  om sodoende tyd en ruimte en materie te vorm. In die malende gaskolke het geleidelik die  klonte van materie saamgekoek waarin die eerste kernreaksies ontstaan het en die eerste proto-sterre gebore is. Uit die groeiende kernreaksies in die hart van reuse sterre is die swaarder elemente  gebore deur die omskakeling van atome. Toe die reaksies in die supersterre uitgewoed het, is die elemente deur geweldige inploffings en uitploffings die ruimte ingeslinger. Uit hierdie oermaterie is oor miljoene jare sonne gevorm en planete wat om hulle wentel asook mane wat weer om planete wentel.

  Nie alle wetenskaplikes aanvaar die oerknal-teorie nie en dit sal seker met die tyd nog baie gewysig word en moontlik deur ander teorieë vervang word. Daar is egter ook diegene wat met verwondering terugkyk en uitroep dat dit is asof jy die skeppingsmoment van God aanskou.  Die teorie klop egter met die Bybel se siening dat daar ‘n begin was en ‘n oomblik waarin God alles geskep het. Watter teorie ookal die heersende is, vir die gelowige bly dit ‘n getuienis van die almag en alwysheid van die God wat daaraan gestalte gegee het. Vir die gelowige kan God nooit die kode agter die oerknal wees nie of  die natuurwette wat alles op ‘n heel bepaalde manier laat ontvou het nie.Die God van die Bybel is die Skepper  wat kodes en natuurwette self vasgelê het sodat die skepping kon ontvou volgens sy wil en bepalings.Die Bybel sien dit alles as God se handewerk.” Ek het met my hande die hemel oopgespan En Ek het aan al die hemelliggame hulle opdragte gegee.” [Jes 45:12]. Die wentelbane van die sterrestelsels, sonne en planete het hulle oorsprong by God. [Jes 40:26]. Hy het vir alle dinge ‘n orde neergelê en vaste wette waarbuite hulle nie kan beweeg nie. [Ps 148:6].

  So is daar ook ‘n wyd aanvaarde teorie dat die aarde 4600 miljoen jaar gelede as ‘n planeet van die son gevorm is. Aan die begin was die aarde woes en onbewoonbaar en dit was donker op die diep waters vanweë die gasse en stoom in die lug. Deur geweldige storms heen het die waters op die aarde neergereën en te midde van vulkaniese uitbarstings is oseane en vastelande gevorm.

  ‘n Wonder net so groot as die ontstaan van sterre en planete, was die ontstaan van lewe op aarde.Vir die Skrif is dit vanselfsprekend dat God die oorsprong van die lewe is. Hy gee die lewe aan alles wat op die aarde lewe het.[Jes 42:5]. Volgens ‘n wyd aanvaarde teorie het ongeveer 3000 tot 4000 miljoen jaar gelede die eerste lewende organismes in die see verskyn. Tot nog toe kan nie verklaar word hoe die eerste lewe ontstaan het nie alhoewel talle vergesogte teorieë die omloop doen. Die oorgang van lewelose molekules tot lewende molekules  was ‘n besondere skeppingsdaad van God. Gen. 1:11 stel dit eenvoudig: “God het gesê: Laat daar uit die aarde groen plante voortkom. Teen 3000 miljoen jaar gelede het die eerste primitiewe groen plante verskyn wat suurstof vervaardig het deur fotosintese en so is die aarde se atmosfeer verander en voorberei vir dierelewe. Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.” Die see word bevolk met visse en seediere en teen 100 miljoen jaar gelede het voëls in die lug begin vlieg.

  Toe het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy eie aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy eie aard.” [Gen.1:24]. Na die tydvak van die reptiele en die dinosaurusse, het die voorlopers van talle soogdiere reeds teen 30 miljoen jaar gelede op die aarde verskyn. Die ontploffing van ‘n geweldige verskeidenheid elkeen na sy eie aard, bly ‘n wonder van die almagtige Skepper.

  Die volgende asemrowende fase in God se skepping was die koms van die mens. Toe het God gesê: “ Kom ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld.”[Gen1:26]. Die Skrif aanvaar dat die mens ‘n besondere skepsel van God is. [Deut.4:32]. As beelddraer en verteenwoordiger van God het die mens besondere kwaliteite. Hy ontvang ‘n gees en ‘n siel en daarmee ook die vermoë om met God in gemeenskap en in gesprek te kan tree. God se doel was dat daar ‘n wese sou wees wat sy wil kon ken en tot sy eer sou kon leef.[ Jes.43:7].

  Volgens  teorieë in die paleontologie het hominiede [aapagtige wesens met menslike trekke] reeds vier miljoen jaar gelede die pleine van Afrika bewandel. Teen twee miljoen jaar gelede het homo habilis sy verskyning gemaak en begin om klipwerktuie te gebruik.  Ongeveer een miljoen jaar gelede het homo erectus sy verskyning in Afrika gemaak en toe versprei na Asië en Europa. Eers teen 400 000 jaar gelede word homo sapiens, die mens soos ons hom ken, wyd verspreid in die wêreld aangetref. As hierdie teorieë aanvaar word, moes iewers op die lang pad van ontwikkeling die oorgang van dier tot mens plaasgevind het. God het aan die mens ‘n gees gegee wat hom onderskei van die diere. Dit kon met ‘n enkele mensepaar of met ‘n groep mense gebeur het. Dit kon selfs ook onder die skeppende hand van God oor ‘n baie lang tyd plaasgevind het. Ons weet eenvoudig nie.Die ontstaan van die mens bly ‘n groot geheimenis wat dalk nooit deur die wetenskap volkome ontrafel sal kan word nie! Die feit bly dat volgens die Bybel die mens die resultaat is van ‘n besondere wilsbesluit van God en die gevolg is van ‘n besondere skeppingsdaad van God. Die feit is dat die mens intellektueel, psigologies en geestelik ryp gemaak moes word vir die wonder van God se selfopenbaring aan hom. So gesien is die hele skepping en die ontstaan van die mens daarop afgestem dat daar ‘n wese op aarde sou wees wat die Skepper moes ken en aan Hom lof en aanbidding moes bring.

  Die wil van God word inderdaad sigbaar in die skeppingsgebeure en in die wyse waarop Hy vir sy skepping sorg en dit onderhou. Wie dit kan bestudeer en aanskou is inderdaad bevoorreg  en behoort die grootheid van die Skepper daarin te ontdek as hulle die gawe van geloof ontvang het.

Skrywer: Prof Dionne Craffort