Die wit perd – Vraag

Die wit perd – Vraag

Annamarie Dekker vra:

Ek het net die volgende vraag asseblief: Joanita du Plessis het ‘n liedjie wat sy sing van die ruiter op die wit perd wat kom om ons te haal. In Openbaring lees en verstaan ons dat die ruiter op die witperd die antichris is, of verstaan ons verkeerd? Sal waardeer as u net dit vir ons kan uitklaar. Baie dankie.

Prof Jan van der Watt antwoord:

In Openbaring lees ons op twee plekke van ʼn ruiter op ʼn wit perd: Openbaring 6:2 en 19:11vv. Die ruiters in die twee plekke in Openbaring is nie dieselfde nie.

Net eers ʼn paar woorde oor simbole in Openbaring. Dieselfde simbole kan vir verskillende dinge gebruik word – neem byvoorbeeld die kruis: dit kan gebruik word as Christelike simbool, of in wiskunde kan ʼn kruis agter jou som wys dat jou antwoord verkeerd is; ʼn rooi kruis op ʼn kar kan die simbool vir die Rooikruis wees, en so aan. Die konteks help ʼn mens dus om die betekenis van ʼn simbool vas te stel. In Openbaring simboliseer “wit” oorwinning of heiligheid; ʼn “perd” staan vir oorlog. Die persoon wat dus op ʼn “wit perd” ry is dus die oorwinnaar (wit) in ʼn oorlog (perd).

In Openbaring 19:11vv. is die Ruiter op die wit perd Jesus wat teen die magte van die duiwel optrek. Die hele konteks sê dit vir ons: Hy kom uit die hemel, sy naam is “Woord van God” (Johannes 1:1), Hy is regverdig, ens.

In Openbaring 6:1-8 is die storie egter anders. Daar is die ruiter op die wit perd deel van ʼn groter prentjie van drie ander perde (ʼn weermag) wat geleidelik verskyn. Die vier ruiters met hulle perde wil dus saam ʼn boodskap gee. Al vier ruiters ry op perde – dus gaan dit oor oorlog. Die perde het egter verskillende kleure wat vir ons ʼn boodskap of preek gee: eers verskyn die wit perd. Dit lyk dus of die weermag wenners is; dan verskyn ʼn rooi (= bloed, lewe/dood) perd en daar kom onvrede op die wêreld. Die oorlog begin dus die wêreld deurmekaar krap. Dan kom die swart (= hongersnood) perd en mense begin honger ly. Dit begin dus al hoe slegter gaan – nie net die vrede begin verdwyn nie, maar mense het nie meer kos om te eet nie. As die grys (= dood) perd kom, sterf die mense. Hierdie weermag, hoewel dit lyk of dit aanvanklik wen, bring geleidelike vernietiging oor die wêreld – eers onvrede, dan hongersnood, dan dood.

Waarvan is die perde die simbool? Dit is ʼn simbool van die duiwel en sy werk. Die magte wat aan die kant van die duiwel veg (waarskynlik die Romeinse Ryk in daardie tyd) lyk aanvanklik of hulle die sterkste is en wen, maar tipies van die duiwel loop alles op ʼn gemors uit – onvrede, honger en dood. So, wat op die oog af aan die begin goed lyk, loop op die langer termyn op die dood uit. As jy in die weermag (van Satan) wil gaan veg, moet jy dus weet wat jou uiteinde gaan wees.

Dus, in Openbaring 19 verwys die Ruiter op die wit perd na Jesus wat oor die duiwel en sy magter seëvier. In Openbaring 6 verwys dit na die weermag van die duiwel wat uiteindelik alles vernietig. 

 

Outeur: Prof Jan van der Watt