Die Wysheid van Jesus ben Sirag

image_pdfimage_print

Die Wysheid van Jesus ben Sirag

Die Wysheid van Jesus ben Sirag is ‘n Ou-Testamentiese apokrief. Dit is ‘n voorbeeld van wysheidsliteratuur – baie dieselfde soos die boek Spreuke in die Ou Testament.

Die volgende uittreksel kom uit die eerste hoofstuk. Daarin kan ‘n mens sien hoe baie ooreenstemming daar tussen hierdie apokrief en die boek Spreuke is:

1 Alle wysheid kom van die Here en dit bly vir altyd by Hom.

2 Wie kan die sand van die see en die reëndruppels tel? En wie kan uitwerk hoeveel dae die ewigheid het?

3 Wie kan meet hoe hoog die hemel is en hoe wyd die aarde is? Hoe diep die onderwêreld is? Wat wysheid werklik is?

4 Voordat enigiets anders bestaan het, het die Here wysheid gemaak. Ja, verstandige insig is van altyd af daar!

6 Het God al vir enigiemand gewys waar Wysheid vandaan kom? Verstaan iemand hoe subtiel sy kan wees?

8 Daar is net Een wat wys is; vir Hom wat op sy troon sit, moet ons groot respek hê.

9 Dit is Hy wat wysheid gemaak het; Hy het haar bekyk en haar gemeet. Hy het haar uitgegiet oor alles wat Hy gemaak het.

10 Vir alles wat leef, het Hy iets van haar gegee, en vir die mense wat Hy liefhet, het Hy baie van haar gegee!

11 Mense wat respek vir die Here het, kry eer en roem; hulle kry vreugde en ‘n krans van blydskap.

12 Mense wat respek vir die Here het, se harte word opgebeur; hulle kry blydskap en vreugde en ‘n lang lewe.

13 Mense wat respek vir die Here het, se laaste dae sal goed wees; Hy sal hulle seën op die dag wanneer hulle doodgaan.

14 Ja, respek vir die Here is die manier hoe ‘n mens Wysheid in die hande kry. Wanneer die Here die getroues in die skote van hulle moeders maak, maak Hy Wysheid deel van hulle!

15 Sy woon van altyd af by die mensdom en sal vir altyd getrou tussen hulle nageslag wees.

16 Mense wat respek vir die Here het, het haar heeltemal gekry; sy maak hulle dronk met haar vrugte!

17 Sy maak hulle huise heeltemal vol begeerlike goed; hulle skure maak sy vol met haar produkte.

18 Respek vir die Here is die kroon wat Wysheid gee; sy maak dat vreugde en goeie gesondheid hulle lewens oorneem.

19 Sy sorg dat insig en verstandige kennis soos reën op hulle val; sy gee baie eer aan hulle wat haar aanhang.

20 Wysheid is soos ‘n boom: respek vir die Here is haar wortel; haar takke is ‘n lang lewe.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie

 

image_pdfimage_print

You may also like...