Dissipelskap – drie kontoere

Blog52c

I am commanded by the king to be brief, and since I am the king’s obedient servant, I will be. I die His Majesty’s good servant, but God’s first – Sir Thomas More. Hy wou nie die eed aflê dat die koning die opperste gesag, selfs bokant die kerk, is nie. Hy is tereggestel.

Dissipelskap – drie kontoere

Almal praat van dissipelskap, maar hoe lyk dit? Miskien is die beste plek om te begin by Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels in Matteus 28:19 – 20: gaan … maak die mense my dissipels …doop hulle … leer hulle. Ons sien hier drie kontoere in die kultuur van dissipelskap:

 

  • Die maak van dissipels is ‘n doelgerigte proses van evangelisering van ongelowiges, vestiging van gelowiges in die geloof en die toerusting van leiers.

Maak dissipels impliseer doelgerigtheid en ‘n proses. Dit gebeur nie sommer net omdat daar ‘n gemeente is nie. kyk weer: gaan … doop … leer – dit is ‘n proses. Dit moet evangelisasie (gaan na nuwe mense en nuwe plekke), vestiging (doop en leer gehoorsaamheid) en toerus (leer dissipels om self dissipels te maak) insluit. Is dit wat ons gemeentes doen?

  • Die maak van dissipels gebeur binne die konteks van die plaaslike gemeente

Dit is ‘n gemeenskaps- en nie ‘n persoonlike projek nie. Die gemeenskap is die plaaslike gemeente. Dit gebeur nie net in koffiewinkels nie, maar ook in die gemeente waar die Woord gesing, gebid, gelees en verkondig word. Jesus het immers aan die kerk die gesag gegee om die evangelie te verkondig, mense te doop en hulle te leer om gehoorsaam aan Hom te wees.

  • Die maak van dissipels is Woord-gesentreerde en mens-tot-mens bediening

Jesus het twaalf manne op die stofpaaie van Palestina geleer om dissipels te wees. Om dissipels te maak, is die Woord van God wat mense vorm in egte verhoudings. Kyk net wat skryf Paulus aan die gemeente in Tessalonika: So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry (1 Tessalonisense 2:8). Dit is meer as saam eet (baie belangrik).

Dissipelskap is ‘n proses wat binne die gemeente plaasvind. Die fokus is op die woord van God en persoonlike verhoudings.